Saturday, July 24, 2010

Groete uit 'n druppende Ierland

Saterdag 17 Julie ‘10

Liewe almal, familie en vriende,
Og maar ek is maar dom, het nooit geweet van die program wat my Afrikaanse brief sonder rooi strepe sal laat en ook nie die s van ‘ons’ by die volgende woord gaan aanlas nie, dit is so wonderlik, baie dankie Marthie!!!!!!
Hier gaan dit woes, ons maak op vir die 6 weke wat ons nie reen gehad het nie en alles is druip nat, As dit vir 3 ure nie gereen het nie dan jubel ons, die buie is hard en geweldadig so dat jy nie voor jou kan sien as jy op pad is nie. Ons blommetjies is vrot van al die water, ek het gister, toe daar ‘n straaltjie sonskyn deur die dik donker wolk massa breek, gou ‘n paar verpletterde blomme uit gepik maar vanoggend lyk alles weer erg bedremmeld!
Gelukkig het die boere hulle hooi gesny en gebaal voor die weer gedraai het, die slurrie is ook klaar gegooi en die gras kom reeds weer groen deur! Ons tamatie plant het te swaar vir homself geraak en takke het afgebreek met groen tamaties aan. Ons het ondersteunende stokke ingesteek maar die wind en reen verwoes alles!Eet nog steeds elke dag 5-10 heerlike aarbeie!
Almal by die hospitaal moes per geslote stembrief ons keuse gaan aangee vir die 5% korting op ure en salaris en sal onveranderd bly tot en met 2014, ek sal helaas nie die vreugde van die einde beleef nie want ek sal reeds permanenet tuis wees, daar ek op 65 moet aftree en dit is oor 3 jaar! Nogtans is ons dankbaar want die afgelope jaar was die korting 18% en dit het baie van ons sleg gevang,veral die jong gesinne!
Ek het Barry saam gesleep want ek wou nie alleen ry nie en toe sommer bietjie by Woodies gaan inloer ,dit is iets soos Dion’s of Game en uiteindelik ‘n Strimmer gekoop,ek dink dit word ‘n ‘weed eater’ in SA genoem. Alles moet altyd van die beste gehalte wees en dit is letterlik nou jare wat ons kyk en kyk en maar elke keer om draai en weg loop want die goed is net te duur maar gister was die spesifieke maak en grootte wat Barry nou al lank na kyk byna ½ prys! Ongelooflik!Nou kan ek my skaap skêr weg bêre en net vir spesiale geleenthede uithaal!
Ons was, as ‘n nasie, in geweldige verdriet gedompel nadat 7 jongmense en ‘n man van 65jr verlede Sondagaand net na die Sokker in ‘n wreede motorkar ongeluk oorlede is. Jongmense het geen begrip van die gevare wat ‘n motorkar inhou nie, dat die hoeveelheid passasiers en die spoed wat jy ry jou doodsertifikaat kan beteken nie! 8 Jongmans tussen die ouderdomme van 19-23jr het almal in ‘n Volkwagen Passat ingeklim en iewers heen gery na hulle op ‘n groot skerm na die sokker gekyk het.Volgens die polisie was alkohol nie ‘n faktor nie. Hulle het eers op ‘n draai en soliede wit lyn ‘n ou dame in haar kar getref, haar voor wiel totaal weggery, nie gestop nie en 200meter verder die volgende kar getref, 7 van die jong mans en die bestuurder van die ander kar is dood. Die jongman 22jr oud wat die Passat bestuur het lewe nog maar daar lê baie jare van groot ellende vir hom voor! As dit nou maar ‘n les vir die res van die jongmense sou wees,kan ‘n mens dit nog hanteer, maar................
Ons was 10 Suid Afrikaners bymekaar om koffie te drink gister oggend, 2 van die groep was van Kempton Park en was net op besoek, net een Dokters vrou was daar, Cynthia, en die res van ons reeds geruime jare inwoners van die eiland. Ek het Adrie Vosloo, een van die dames wat ook daar was byna 5jaar gelede gesien, hulle woon nou in Cork en sy het kom kuier. Ek ken haar die langste want ons was in dieselfde kerk in Malahide! meer as 6 jaar gelede! En daarna het ons weer by die kerk in Mullingar bymekaar gekom! Soos gewoonlik gons dit as ons almal tegerlyk praat maar ai tog, dis darem so gesellig!
Politiek en finansies is nie meer nuus nie want orals gaan dit maar beroert! Ek weet net dat Ierland seker die duurste land op aarde is om in te woon en kos intekoop!
Ons moes die gras sny en teen 8nm gisteraand het ons 5 ure reenvrye weer beleef en het gou ingespring en saam,saam het ons gou weer die grasperkke onder beheer gekry! Groot deel word nou nie gesny nie want die ganse is voorlopig daar gevestig!
Barry lees sy koerant en kyk terselfdertyd golf, gister was dit maar ‘n baie onaangename dag vir die spelers met wind sterkte van 40mpu.Oornag voorloper darem ‘n Suid Afrikaner maar arme Ernie sit nou op die rant en kyk , hy kon die afsny punt nie haal nie!Hier en in England praat hulle nog steeds van myle en ponde en voete en duime! Eendag sal hulle wel inhaal!
My week van vakansie het gevlieg en ons het darem een dag redelike weer gehad en Carrick on Shannon toe gery. Isabel hulle het dit pragtig opgeknap met ‘n ekstra voet brug oor die rivier en nou kan die verkeer tenminste oor die brug ry sonder om bang te wees dat jy ‘n voetganger gaan omry! Hulle was druk besig om alles mooi te maak vir die Netjies Dorp kompetisie. Die klein ou kerkie was vir die eerste oop, mooi skoon gemaak,en binne die die gebalsemde lyke van ‘n man en vrou. Hy het toe sy op 46jr gelede oorlede is in oneindige verdriet vir haar die kapelletjie opgerig , haar lyk laat balsem en haar daarin gebere kan jy se en toe hy oorlede is het die gemeenskap sy lyk ook gebalsem en nou is die 2 kiste daar te sien,1867!
Al die winkeltjies se straatkante is geverf in al die kleure van die reenboog met hangmandjies oral, baie baie mooi!
Vandaar is ons na Ballinamore wat naby die grens van Noord Ierland is maar ons het maar nie die noorde ingery nie want hulle is effe opgewonde raak op die oomblik en jy weet nie wanneer jy oor ‘n klein bruggie of in ‘n kronkel paaidjie paadjie veilig is nie want die dwase het reeds soveel skade aangerig deur petrol bomme te gooi en ontploffings veroorsaak dat ‘n mens liewer nie nou daar besoek afle nie!
Van Ballinamore is ons na die woud gebied van Killeshandra , pragtig,veral die tyd van die jaar, ons het middag ete in die ‘Horse Shoe’ Hotel in Belturbet genuttig, genoeg vir 3 dae ge-eet, en via Virginia en Old Castle huis toe gekom! Die pad tussen Old Castle en Castle Pollard waar die bome ‘n se oorgroei ‘n tonnel vorm was donker en sonder jou ligte aan was dit mooeilik om te sien, die groei is so ruig dat die son skaars daardeur kan skyn! Reg in die rondte!
Ons het vanwee die slegte weer nie weer rond gery nie en hoop om gedurende Augustus darem ‘n beosek aan Cork en Sligo te bring!
Môre is Sondag en ons het ‘n besoekende prediker en ek kon dus die Psalme en Gesange kies! Sal dus more weer lekker sing! Verlede Sondag moes ek Stephen, ons predikant wat baie goed kan sing, laat weet dat die ouer garde nie die moderne liedere gesing kry nie en dat ek nie eers gaan probeer om dit op die orrel te speel nie en toe kies hy gelukkig iets anders wat ons toe heerlik kon sing! As die gemeente se gemiddelde ouderdom tussen 60- en 80 is ,moet jy maar by die bekende bly!
Totsiens aan almal wat nie belangstel in die gans saga nie.
In al ons berekeninge en ons begeerte om die beste vir die gans kinders te gee , het ons vergeet van Madam wat nie van verandering hou nie. Die skuif na die pragtige nuwe kamp en die A-formaat huis word toe ‘n fiasko en Woensdag oggend is hulle weer terug in hul ou kamp!
Ons het Prins Scruffie en Ruthie toe maar in die nuwe kamp gejaag en hoop maar dat as die nader kleintjies uitbroei dinge effe makliker sal gaan! Barry was op een stadium wanhopig en ek moes mooi praat want anders was almal, ou ganse en kleintjies die hek uit! Ek het dit in storie formaat as iemand dit wil lees!
‘n Mens besef nie wat ‘n geweldige werk die versorging van gans kinders meebring nie, Ek neem aan dit veel makliker in die Vrystaat is maar hier is dit te nat en die weer te onvoorspelbaar om hulle net aan hulself oortegee!
Dit wil ook voorkom asof dit die tyd van die jaar is wat hulle vere uitval en die wêreld lê wit van die vere! Veral die ouer dames wat op die neste(klink nou erg verkeerd,(? Nes/nesse/neste) gesit het!
Die kleintjies groei vir ‘n vale en geniet die vryheid van die groot kamp maar slaap nou weer in hul ou slaapkamer in die donkiehuis!
Nog 2 weke dan behoort daar nog klein gansies te wees en 2 dae later nog! Hier is ‘n pluimvee mark wat rond gaan en ons sal maar sien of die man van hulle vir ons sal verkoop!
Gerlof en Sandra is oppad SA toe en ek hoop hulle geniet hulle besoek ter dee! Heerlik omtehoor van klein Isabelle ons kry ook môre besoek van Finbarr Amanda en klein Lukas! Kannie wag nie!
Aangetekende verjaardae is ons neef Werner die 20ste en dan onthou ons ook ons liewe tante Poppie wat die 23ste sou verjaar het!Werner ons hoop dat jy ‘n pragtige dag sal beleef en nog vele jare gesond en gelukkig sal wees!
Sommige jong mense wag vir hul jaar-end uitslae en ander is halfpad deur die jaar! Aan almal wat nog studeer , alles van die beste en ons weet dat die uitslae van die ander goed gaan wees!
Haya ons hoop van harte dat die voet opersie ‘n sukses sal wees! Vinnige beterskap! Nine wanneer is jou vertrek datum!? Hoop jy en Jong Nine ook julle reis sal geniet!
Arnolda en al die trou planne, dit hou jou goed besig ! geniet dit!
Ons groet en hoop dat dit met almal wel is
Barry en Christina vanuit Cranleymore waar die son skaam skaam deur die wolke probeer breek!

No comments: