18 Oktober’10
Goeie dag allemaal, familie en vriende!!!
Saterdag was ‘n pragtige dag en dit was soos ‘n ‘totsiens’ aan die mooi weer van herfstyd! Gister en vandag was donker en grys, nie te koud nie maar die wind geniepsig! Die herfs kleure is asemberowend mooi!
Ons het laat middag vir die eerste keer die vuur aangesteek en nou sit ons gesellig voor die kaggel! Ek het bietjie slegte dienstye gehad en toe ek Saterdag wakker word kon ek net ‘n koppie tee drink voor ons die pad gevat het om ‘n landgoed veiling te besigtig.
My kar kan die pad na Old Castle sonder my aan die stuur beredder want ons ry net soveel keer na die veiling kamers as wat ek werk toe ry! Die here huis het aan Oliver Plunket behoort , gebore 1625 op die landgoed , later vermoor en onthoof en sy kop is nog te siene in een of ander museum.Die landgoed is tussen die heuwels en valleie van County Meath geleë! Baie mooi! Die oorspronklike huis bestaan nie meer nie net die Romynse pilare vir die ingang vanuit die 12de eeu staan nog en ‘n latere gebou wat nog steeds in gebruik is, is waar die veiling plaas gevind het! Majestieus!
Verder gaan dit dit maar hopskots met my en die ontsteking in my kakebeen en is ek weer op 2 antibiotikas om ‘n einde aan die ellende te bring! Nine ek het gedink ek ‘gaan’ so sleg het ek gevoel, ek wens dit nie my grootste vyand toe nie!
My orgideë blom en is te pragtig! Die 2de blom periode vir die rose het ‘n pragtige dos pink rose teen die muur vertoon. Ons het van die potte leeggemaak en die grond in ‘n nuutgemaakte blom bedding gegooi en môre sal ons omtrent 50 affodille daar plant. Die diep potte se grond vries gedurende die winter en die dalias se bolle vrot dan en ons vergeet elke keer om hulle uit te grawe en in die donkerte te bere tot somer tyd.
Ons gans kinders is pragtig! Hulle kan ‘n lang gesprek met my voer ,ek sien hulle min veral as ek werk maar hulle lewe soos konings en koninginne ek bring ou brood wat weggegooi is vir hulle en dit is vir hulle heerlik ,hulle is nie gepla dat daar effe muf aan sit nie!
Ons het ‘n muis plaag ! met die dat ons nie meer ‘n kat het nie het hulle huis gebou onder die turf en hout in die skuur. Barry het nou 11 tot dood veroordeel met die slagyster en vrot kaas! Hulle hou baie van die gans kos en kom snags hulle knuppel dik eet! As daar kleintjies was sal hulle nou dooi want daar is nie meer ouers oor om kos te gee nie. Baie sielig maar dit is nou maar soos dit is.
Ons kan net nie besluit wat om met die ganse te doen nie, verkoop of aan hou nie! As ons hulle hou beteken dit dat ons nooit kan weggaan nie wat ook nie goed is nie! Maar ons het baie geheg aan hulle geraak!
In my vorige brief het ek genoem van die klein ystervarkie(hedgehog) wat onder die strooi geslaap het, dié het inmiddels weer verdwyn. Daar sal seker ander nag diertjies in die omgewing wees want hier is niks wat hulle sal verwilder nie!
Ons sal die komende Sondag DV na kerk Dublin toe ry om ons kleinseun te gaan besoek, Finbarr en Amanda ry elke maand hierna toe, nou is dit ons beurt om ‘n middag by hulle deurtebring.
Ek sit met die skoot rekenaar voor die kaggel, heerlik warm en knus! Die water in die tenk kook behoortlik en elke nou en dan moet ons ‘n kraan oopdraai en beitjie water uit die tenk laat sodat koue water kan inloop en sodoende verhoed ons dat ‘n ontploffing. Ons dink ook aan Paul en Hanlie en hoop van harte dat dit gou beter sal gaan met Paul!
Ons het gelees op die komper nuus van die sneeu op die Drakens en Lesoto berge,snaakse lente vir SA! Ons staan op die rant van winter, dae is baie korter en in 2 weke draai ons die klok nog ‘n uur terug, ons het selfs ryp gehad die afgelope week!
Soos Gerlof het ons ook die wonderlike redding van die Chilliaanse mynwerkers tot op die laaste man dopgehou.
Ek is op soek na Sambok salf, as daar iemand van die SA vriendinne Ierland toe kom ,sal ek dit baie waardeer my been is besig om stadig maar seker aan die brandsiekte en melaatsheid omtekom. Die eerste letsel was na ‘n netel aan my geraak het en nou het dit oorgegaan na kroniese dermatitis en niks van die Ierse salwe wil werk nie! Ek gee op. Ek het opgehou lemoene eet ,volg nou ‘n graanvrye dieet maar dit maak geen verskil nie. Die bloedtoetse wat hulle geneem het neem 3 weke om terug tekom, ek wonder of hulle dit maan toe stuur vir ontleding!
Ons dink baie spesiaal aan Isabel en hoop dat die uitslag van die angiogram goed sal wees en dat alles met ‘n pilletjie beheer kan word en niks drasties verkeerd is nie!
Dit is altyd vir my van groot vreugde om ‘n briefie van die familie en vriende te kry ,dankie Nine, Gerlof, Isabel, Retha wat gereeld skryf, en nou en dan ‘n verdwaalde brief uit Delft wat altyd uitstekende leestof is! Selfs net ‘n lyntjie of 2 gee my darem ‘n idee of dit nog wel is met julle! ‘n paar nuwe epos adresse word nou bygevoeg en ek hoop julle sal laat of julle die brief gekry het. Caylin kan jy my Elsje se epos adres stuur, sy het dit vir my oor die foon gegee maar dit was duidelik verkeerd want ek het na 5 eposse nog niks van hulle gehoor nie!
Wees altyd versigtig en onthou die gek om die hoek!
Ek het niks meer om te skryf nie en ‘University Challenge’ is nou aan die beurt en ek geniet die program baie dus groet ek met laat herfs groete.(Exeter Universiteit het gewen!)
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment