19 Feb’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende!
Dit is 2 weke gelede wat ek laas my vingers aan die letterbord geslaan het om met julle te gesels, sommige het gewonder en gevra maar ander het seker ‘n sug van verligting gegee!
Vandag is ‘n pragtige dag en maak op vir al die dae tussenin wat koud en nat was! Helder blou lug met hier en daar ‘n vlies wolkie die helder son skyn wat selfs al effe warmer word , temperatuur buite 9 grade wat regtig iets goeds voorspel terwyl hulle sneeu in Noord Engeland en Skotland verwag! Wat dit werklik aangenaam maak is die afwesigheid van ‘n snerpende wind!
Lente is om die draai en ons was heerlik verras met die besoek van 2 hase wat mekaar die hof gemaak het in die agterveld! Ons het gedink dat daar nie meer hase oor is nie en dit was pragtig om hulle te sien baljaar! Dit was nie al nie, ons moes noodgedwonge dorp toe gister oggend en daar staan meneer jakkalsie in die onder veld van ons buurman,baie parmantig en ons wonder toe waar hy vandaan kom, gelukkig aan die een kant dat die ganse weg is want anders het ons ‘n probleem gehad!
Ons het ook die plesier van ‘n grootgrys gestreepte kat wat al jare kom kuier maar nooit naby gekom het nie tot sowat 3 maande gelede, ons het maar altyd die oorskiet kos vir die voëls buite op die muurjite gesit maar kom toe agter dat daar iets groter as ‘n voëltjie dit geniet en sowaar daar sit hy toe onder die heining met sy blink oë en wag vir die versnapering, intussen het hy al so mak geword dat hy nie meer weghardloop as ons die agterdeur oop maak nie en wag net tot ons in is voor hy oor die gras hardloop en kom smul. Nou het ons ook intussen die porsies vergroot en die oorskiet vleisies en worsies wat by die werk in die asblik land word nou vir hom voorgesit en hy het intussen spek vet gework verlede Sondag aand daag hy nie op nie , en die kraai kry die kos die volgende more, Maandag aand wag ons in spanning en toe kom ‘n ander besoeker , ‘n yslike groot muis, dit was nie ‘n rot nie maar net ‘n welgevoede muis, hy het natuurlik die valletjie in die skuur gemis en leef heerlik op die oorgeblewe gans kos en natuurlik wat die kat los! Woensdag geen kat en nou begin dit aan my knaag, hy is siek, of dood, sommige kere kom hy effe later maar meeste aande sit hy reeds en wag teen ½ 7 wanneer dit ons aandmaaltyd is. Donderdag sien ons hom uiteindelik na 8uur onder die heining en dadelik weet ons iets is verkeerd. Hy hinkepink stadig tot by die muurtjie en ons sien dat sy regter voorpoot nie ingebruik is nie, moes seker ‘n trap van ‘n kar of iets weg hê maar hy leef darem, Gisteraand het hy weer nie opgedaag nie en dit maak my sommer sielig voel! Later die aand gaan kyk Barry en hy moes tog opgedaag het wat alles is opge-eet! Ons hoop maar dat hy sal herstel, en as hy aan iemand behoort dat hulle na hom sal omsien!
Die voëltjies van Ierland kry die beste voeding in ons agterplaas, Hulle is spek vet en gesond,blink in die sonlig, hulle sit net soos apies op die takke in die son vroeg in die môre! Hier het ons ook ‘n ongeval gehad, sien Woensdag oggend die voeltjie opgepof op die muurtjie sit en onder sy krop iets soos ‘n kostruksie ring en hy gaap na lug, toe ons nader gaan worstel hy weg en Donderdag oggend vind Barry hom toe teen die heining dood! So gaan die natuur sy gang!
Ons het nog niks aan die tuin gedoen nie behalwe wat ons in Oktober geplant het en wat nou vinnig opkom! Die kroukusse lyk pragtig maar daar is geen perses onder hulle nie wonder wat van hulle geword het, die affodille en tulpe groei mooi maar dit sal seker eers in blom wees teen middel-einde Maart!
As die weer hou sal ons in Maart die nuwe beddings aanlê en ‘n nuwe formaat tuin hê met meerjarige plante agter en dat die seisoen plantjies voor! Die mandjies moet ook almal hernue word en dit is groot werk want daar is 13 in getal! Ek sien tog so uit daarna!
Ongelukkig sit ek nou vir langer as 2 weke met ‘n ellende van ‘n verkoue wat sinusitis veroorsaak het en toe direk longe toe is en nou het ek die gevreesde ‘lower respiratory infection’ in die ou dae bronchitis genoem en het die geborrel toe hier vir die laaste 8 dae so erg dat ek toe ten spyte van antibiotika wat ek reeds Sondag begin drink het moes Dr toe, dadelik op hoê dosis kortisone geplaas en ten minste klink ek nie meer soos ‘n kokende ketel nie maar as die hoesbui kom gaan dit sleg!. Moes vanoggend my heerlike warm bed verlaat en op ‘n stoel in die woonkamer gaan sit met ‘n kombers om my want sodra my kop die kussings raak ( wat reeds hoog opgestapel is) begin ek hoes tenspyte van ‘n goeie nag rus, het die hoes my byna versmoor sommer uit die bloute!
Hoop maar dit klaar op want Maandag moet ek CPR klas gee vir die hele dag! Dit vereis baie fisiese aksie wat natuurlik die hoes aan die gang sit! Dus ek verstaan presies hoe Gerlog gevoel het met sy lang verkoue en toe neus en ja Sterimar is beter as neusdruppels en as jy dit maar van die begin af gebruik gaan dit gou beter!
Die politiek van ons land hang in die weegskaal van ‘n klomp mense wat werklik baie min weet van hoe om ‘n land te regeer, net 2 het sover die moed gehad om hier te klop en ons stem volgende Vrydag! Ek dink ek moet ‘n rebel wees en vir Siin Fein stem hulle praat regtuit en het nognie geleer hoe om stories te vertel nie! Die ander party leiers is ervare storie vertellers! Van finansies weet hulle almal maar bitter min en daar wag nog baie ellende op ons!
By die hospitaal is daar vordering en daar word gebreek en gebou vir ‘n vale, Die koerante was vol berigte en advertensies van die nuwe onderneming en ons hoop alles kom tot vrugte dra! ‘n Nuwe ongevalle afdeling is besig om ingerig te word en sal eersdaags in gebruik geneem word , die sale wat nou jare toe staan word weer gemeubileer en sal hopelik weer vol wees met pasiënte en natuurlik sal verpleegsters werk hê!
Verjaardae is verby en ander is aan die kom! Garth in Kanada en Renate Röhrs in Stellenbosch! Veels geluk en mag daar nog vele goeie jare op julle wag! Ek glo nie Garth het al ooit ‘n brief van my gelees nie maar Arnolda kan maar die wense oordra as hy weet wie ek is! Retha moet ook maar die wense aan Renate deurgee.
Adelbert ek het die fotos van die 14de Feb baie geniet nie dat ek ‘n benul gehad het na wie ek kyk nie maar daar was tog sommige gesigte wat bekend voorgekom het,weet nie van waar nie ....maar.... dit blyk ‘n goeie oggend te gewees het!
Môre is soos altyd die aller beste dag van die week en hopelik sal dit die laaste keer wees, of miskien voorlaaste keer wat ek my klawerbord moet kerk toe neem want die orgel is bestel en aflewering neem 2 weke dus daar is hoop! Ons beplan ‘n gemeente sang diens in onthulling en dankbaarheid vir die nuwe orgel! Natuurlik is dit ook sielsvoedingsdag en og mense, het ek dit nodig, verlede week het ek 5 nagte aanmekaar oor die naweek gewerk en kon onmoontlik nie ‘n diens bywoon nie, dus is ek erg honger!
Nou ja, vir die wat nog lees ,ons is dankbaar dat ons nog met julle kan gesels en bande so kan behou! Paul( in Van der Bijl) stuur asb baie groete aan jou pa en ma. Ek het ‘n briefie geskryf maar weet nie of hulle dit ontvang het nie! Baie dankie ook aan Tjaart wat gereeld kontak maak!
Ek groet vanuit ‘n baie vroeg lente ontwakende Ierland, hou julle oë oop en wees altyd versigtig!
Liefde groete
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment