Sondag 21 Augustus’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende!
Net om te wys dat my bedoelinge goed was laat ek die volgende op die bladsy......
Woensdag 17 Augustus’11
Goeie dag aan allemaal, Familie en vriende!
Dit was ‘n pragtige dag, die sonsopkoms was briljant en die son het heerlik geskyn totdat Barry my wakker gemaak het 14h15, skielik besluit die wolke wat van nêrens afgekom het nie om ‘n watte laag te vorm en die son te verduister, hoekom net toe ek ook die son kon geniet!? Nie regverdig nie! die nag temperature is besig om vinnig te val – 6-10 grade en bedags, as die son skyn darem nog so 16-18° maar ek wil nou nie spoke op jaag nie maar herfs is oppad. Die blare het begin val en die swaetjies begin bymekaar kom. Het nou net gekyk hoe ‘n swerm van seker 50 swaeltjies in ‘n groot sirkel bo die dorp hulle maters bemekaar roep! Wat gaan van die ou veerlose voeltjies in hul nessie word- veral die 3 wat nou 4 dae oud is!
Nou ja, ons terug by Sondag, die dag na Saterdag en die dag net voor Maandag!
Die weer het intussen in sprokies land verander en die son fee het haar stokkie oor Ierland geswaai en na byna, ek weet nie eers meer hoeveel dae van reën het die son briljant gister geskyn en werklik my dag gemaak!
Ons was baie geseën met die kinders as geselsskap . Ons het ‘n “Troeteldier plaas” in Athlone besoek, pragtig geleë tussen die heuwels en natuurlik die pragtigste groen velde , hoë bome en pragtige natuurskoon. Ons het dit baie geniet maar sou nog veel meer diere wou sien, maar dit is nou nie ons plek nie en hulle het groot aantrekskrag, elke ouerpaar met kinders onder omtrent 10 jaar het gister die geleentheid van goeie weer benut en baie, baie klein woelwaters het hulle vingers deur die ogiesdraad gesteek en jy moes net keer ! Daarna is ons na ons geliefde restaurant waar ons ‘n maal der male geniet het. Die mees wonderlikste Fillet Steak in die land volgens my en natuurlik al die bygeregte ingesluit. Die kinders het dit ook geniet so ook klein Lukas wat alles eet. Hy eet net soos dit hoort met die hand en alles word in klein stukkies gesny en hy het ‘n bord verorber gevul met broccoli, blomkool, wortels, en hoender stukkies opgevolg met roomys! Ons het ons verbaas oor die kind wat alles eet en dit so geniet! Hy noem alles op sy bord terwyl dit oppik om in sy mond te steek!Hy sal Dinsdag 16 mnde oud wees maar is reeds wys! Hy is baie hande vol want hy hardloop vinnig en jy moet net by-hou. Ouers het effe rus kans gekry terwyl Oupa en Ouma die harddloop werk gedoen het! Hy is toonsuiwer en sing te pragtig! Genoeg gespog!
Hulle het my met ‘n gruwellooslike l..... a ........n .........g riem geriem by die werk. Ek is weer in die diep kant ingegooi en moet op my ou dag studeer wat my glad nie aanstaan nie- die brein selle het net nie meer die vermoë om alles so vinnig inteneem en weertegee nie! Volgende Vrydag en Saterdag is die “Advanced Cardiac Life Support” kusus aan die gang en om alles te kroon skryf ons eksamen en moet 84% behaal anders dop jy,en as jy dop moet jy die €500 terug betaal hahaha hulle sal dit met €5 elke 2 weke van my verhaal en dit beteken dat hulle my nie in die pad kan steek nie want ek skuld hulle geld!
Bo en behalwe die ontydige studie werk het ek soos ‘n voos gedrukte perske gevoel. Ek het byna 2 weke gelede begin met ‘n maraton diens plig nagte en dae, ek het naderhand nie meer geweet of ek moet slaap of wakker wees nie, ek was in elke geval meer in die bed as daaruit! Gisteroggend het dit toe op ‘n einde gekom en met 1 ½ uur slaap agter die blad is ons hier weg na Athlone!
Met al die gewerk het ek verlede Sondag se preek gemis en vandag kon ek rustig in die kerkbank sit en saam met die gemeente sing want Joy het gespeel en sal weer uithelp volgende Sondag! Die preek was siele voedsel. Ps 2 en Handelinge 4 vanaf v 23. Gebed- die predikant van ons het ‘n wonderlike gawe!
Die groentetuin is in ‘n herlewe staat Al die broccoli, kool, wortels, ertjies en uie is uit Al die aartappels gelig ,die is in ‘n swart sak in die skuur vir die winter gebruik en die res is in die yskas of vrieskas! In hulle plek het ons winter kool, blomkool, brusselse spruite en broccoli geplant en hoop daar kom iets van!
Die pronkertjies het ‘n drag blomme gehad wat ongelooflik was!Die rose is in hul 2de drag en lyk pragtig! Ons kom gister agter dat ons geen swaardlelies het nie- maar ons sal plan maak volgende jaar! Die dalias is ook pragtig!Ons het in Maart begonias geplant wat nog steeds pragtig is !
Verjaardae het gekom en gegaan! En ek het agter gebly , baie jammer daaroor maar ek glo dat almal wat wel verjaar het pragtige dae gehad het en my wense vir jul almal is dat God julle ryklik sal seën! Marjorie Bosman 11e, Gerhardjie van Frik en Elmarie die 12de, Nicholas en Christopher in Cork die 19e, SJP Kruger iewers in Australie 20ste en Rachelle wat die 24ste verjaar! Hoop jou dag sal ook uitmuntend wees!
Nou ja hier vier ons ook uitslae van finale skool jaar en wens Christiaan van Longford geluk met sy manjifieke verbeterde uitslae! Die SAfrikaners begin nou voorberei vir rekord eksamens ens. Alles van die beste, ek weet van 2 jong manne wat sal moet leer en dit is Nico en Stephan! Nicola (Laurel se dogter) die jonge dame moet dit in Engels doen en almal van julle- Alles wat goed is!
Soos julle kan verneem gaan dit goed met ons en die Here seën ons daagliks met sy genade en liefde!
Ek groet en vir die wat die briefies gemis het.....vergewe maar julle kan altyd ou briefies lees as julle op my blog gaan kyk!
www.diemalmense.blog.com of so-iets!
Ons groet vanuit ‘n sonnige dag in Cranleymore met almal altyd in ons gebede vir jul veiligheid en behoud!
Barry en Christina
NS Baie dankie aan almal wat aan my sulke mooi wense gestuur het - vanaf elke oord op aarde!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment