Saterdag 18 Feb’12
Goeie dag aan allemaal, familie en vriende,
Ons het so ‘n ½ uur gelede ‘n lekker klomp sneeu deur die lug gewarrel sien kom, was net betyds in van ons Saterdag inkopies, melk, brood, koerant en nogwat toe die stormpie opdaag! Gister was dit warm 12° C op ‘n stadium en vandag is dit yssig net bo 2°- ongelooflik wat aangaan en daar spog die Kanadese met hulle heerlike winter! Ek word sommer groen van jaloesie!
Nog nie gehoor hoe die Exeters die weer beleef nie!
Vanwee die ewige nattigheid is die huis groen van die alge en gister middag koop ons toe gellings ‘bleach’ hulle ken nie JIK of Javel hier nie en maak dringend die buite sement skoon en die mure veral aan die noorde kant waar ons in die winter geen son kry nie!. Vanoggend na ‘n nag van hewige reën lyk die plek toe aansienlik beter. Nog ‘n keer met ‘n groot tuin besem en die tuinslang ‘n goeie skrop gegee en nou ons hoef nie bang te wees vir gly nie.
Ons kleinseun kom môre kuier en ingeval die weer goed is en hy wil buite toe moet dit darem aanvaarbaar wees vir ‘n 21 mnde oue kleuter wat alles weet en praat en alles beklouter!.
Buite gaan daar bitter min aan- ons het wel die mooi van al die affodille wat stuk stuk blom, ek pluk ook baie af want met al die reën en koue tussen in lê hulle soggens plat! Die tulpe kom ook nou goed by – maar soos altyd met ons wonderlike nat weer eet die’ slugs’-huislose slakke alles wat hulle kan vind,ek loop gereeld rond en strooi sout maar netnou reën dit en alles was verniet!
Ons wilde diere is pragtig ,vet en gesond professor kom nou al effe nader en kruip nie meer so hewig weg nie – hy sit nou al heel kordaat in die middel van die grasperk-maak seker dat ons hom sien as ons uitkyk!
Die voëlgesang is uit ‘n ander wêreld,so mooi dit laat jou hoendervleis kry!
Op die politieke front het ons die onder president van China op besoek, hy sal erg beskerm word want geen media mag naby hom kom nie.
Hy gaan ‘n paar plekke besoek ook ‘n mooi plaas in een van die counties.
Die geldelike situasie veral in Griekeland het ons maar almal aan die benoude kant – as hulle nie Maandag met ‘n aanvaarbare plan voorendag kom nie is hulle onderdeur en dit kan baie repurkusies vir die res van Eurozone lande hê wat ook in verknorsing sit soos ons!
Ek moet die skouer spesialis Maandag per foon kontak en as hy tevrede is met my verslag kan ek terug werk toe – ek dink Barry sal ‘n sug van verligting slaak want met my hier het hy aan niks gekom nie!.
Verjaardae is min- Renate Röhrs en Garth Kruger verjaar albei Dinsdag 21 Februarie. ‘n Pragtige dag word julle toegewens!
Ek weet nie van jongelui wat eksamens skryf nie maar sou daar wel iemand wees wat hard studeer –alles van die beste.
Ons dink gedurig aan ons neef Werner en hoop dat jy daagliks beter word!
Môre is my beste dag van die week en nou gaan dit ‘n dubbel vreugde wees want ons siele sal verryk word met ons begaafde predikant se preek en natturlik die sing van Psalms en Gesange( ek sit in die kerkbank) asook ons klein Lukas se besoek!
Ek lees in die opskrifte van News24 dat moord en doodslag maar net so erg is in SA as hier by ons- die mense wat hier woon het geen waarde vir ‘n lewe nie – hulle skiet en steek iemand dood net so maklik as wat hulle roomys in die winter eet. Die ‘drug lords’ en dwelm en alkohol misbruikers kan alles want hulle weet dan kwansuis nie wat hulle gedoen het nie en daarom kan die straf nou nie so erg wees nie.
Baie dankie vir die briefies van Zambia en ook bly om te hoor dit gaan elke dag beter met Oubaas- Arnolda, Hessie en Haya se briefies was ook baie welkom Gerlof skryf gereeld en alles wat in Exeter of Telford gebeur is ook heerlik omtehoor!
Ek het niks verder om te sê nie en groet dus met ‘n ysige wind en vlae sneeu uit Cranleymore.
Wees altyd versigtig, tuis en op die pad!
Liefde
Barry & Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment