Sunday, November 11, 2012

Vuur warm groete

Sondag 11 November’12 Goeie dag allemaal, familie en vriende, Dit was ‘n droewige week vir die familie in Pretoria en ons is in gees en gedagtes veral met Stefan en Nine en dan almal wat so nou betrokke was by die maande van moedige veg van die kleinste mensie denkbaar. Tog is ons dankbaarheid groot vir sy verlossing. Dit is net so na ½ 3 en na vanoggned se briljante sonskyn en 3 grade op pad kerk toe-sit ons byna in donkerte.Die pragtige blou van vroeg dag is nou toegewikkel in ‘n dik kombers van grys en wit wolke massas en die temperatuur draai net so by 6°. Ons moet darem onthou ons bly in die Noordelike halfrond en hier is alles moontlik selfs die onmoontlike! Gister was ‘n dag volgepak met opwinding vreugdes en lekker eet. Die kinders was op besoek en omdat ons hulle nie baie sien nie word daar omtrent altyd ‘n Kersmaal voorgesit en gister was dit skaapboud met gebakte artappels ,soet wortels, blomkool,broccolli met wit sous en kaas bo-oor gebak in die oond. Poeding vir jonge heer was roomys met warm sjokolade sous en die groot mense- appeltert met room. Gladnie goed vir die middel nie maar ‘n mens mag darem so nou en dan die perke oortree. Dit was ‘n heerlike ervaring om die kinders hier te hê en dan ook die goeie nuus dat Lukas volgende jaar ‘n maatjie gaan kry. 3 Jaar gelede was ek in die dieptes oor die nuus dat ons ‘n kleinkind gaan hê en so met die tyd het hy die punt van ons harte geword. Hy is mal oor sy Oupa ek het waarde maar alleen waar dit hom behaag.. Hy het so groot geword in die 2 mnde wat ons hom nie gesien het nie, dat dit byna skrikwekkend is hoe lank hy is. Hy praat soos ‘n 4jarige en kan goed argumenteer en sy saak stel en is so sterk soos ‘n os. Hulle woon nou in ‘n groot en gerieflike huis en is baie gelukkig.! Ons woon nog steeds op die stukkie grond wat die liewe Heer vir ons beskik het en waar ons vreugdes ongekend is. Die voêltjies in groot getalle kan jou oneindig besig hou. Ons het ook die valk sien duik en gelukkig het die kwikstertjie net betyds uit sy pad gekom maar teen die venster vas –hy het ietwat bedremmeld bly sit en uiteindelik weer weg gevlieg. Duidelik dankbaar dat hy nie ‘n maaltyd geword het nie. Blackie dink hy behoort aan ons –kan byna praat en noudat dit alreeds donker is net na 5nm sit hy voor die deur en huil om ons aandag te trek. Hy is nou spek vet en sy jas blink! Daar is nie nog ‘n kat in die land wat soveel aandag ontvang as die besoekende kat wat nie eers ons s’n is nie. Gruwelikke moorde wat hier op die eiland plaas vind en dit maak ‘n mens wonder waar dit alles gaan eindig ook die vreeslike moorde wat in SA families voorkom. Hier het ‘n jongman ‘n jong vrou vermoor en haar in ‘n drom gedruk en in sy agterplaas begrawe. In Walis is ‘n ander Ierse vee-arts vermoor en sy is in stukke gesny en op verskillende plekke begrawe. Onbegryplik. Ek wil liewers nie eers die politiek noem nie- gister was Referendum stemming om die konstitusie te verander vir die regte van die KIND... Nadat die kinders weer die pad huistoe gevat het, het ons na die wedstryd Ierland teen die Bokke gekyk maar die 1ste helfte het die Bokke –waarvan ons niemand ken nie- nog ‘n slapie in gekry en teen halftyd met die telling Ierland 12 en SA 3 kom daardie spul wilde beeste terug, en mensig hulle het omtrent die Iere vertrap- letterlik en figuurlik- ek weet maar min van die spel af- maar ten spyte van SA se wen was dit vir my ‘n lelike wedstyd. Die tuin is nou in ‘rest mode’,al die bolle is geplant en sommige kom alreeds op om sekerlik verbrand te word deur die ysige koue wat nog gaan kom. Ek het omtrent 12 lemoen boompies wat uitgeplant moet word en 4 wat oorgeplant moet word in groter potte. Ek het ook 2 doringboompies wat Christiaan (Potgieter) vir my gegee het voor hy SA toe is. Ongelukkig het iets die een boompie se blare bygekom die ander een lyk nog baie goed. Ons appelboom- gegroei van ‘n pit- staan nou trots in die tuin. Ons enigste peer vir die jaar 2012 het afgeval en ek het hom nou in ‘n ere plek –hy is miniatuur en klipsteen hard. Hy sal lank hou. Vandag was weereens die beste dag van my week-ons eie predikant is terug en hy het begin met ‘n reeks preke uit Galasiers- suiwer skrifuitlegging-wat wonderlik is-ons het dit baie gemis!.Ek het nou 3 weke agter die orrel gewees en volgende week is dit Joy se beurt. My vakanise kom hierdie week op ‘n einde en ek werk die volgende 2 naweke en is nie seker of ek by skryf gaan uitkom nie. Sandra sit reeds in die trein op pad huis toe en ons is bly dat sy nog by haar ma kon kuier. Jammer om te hoor dat MarieJanke sukkel om werk te kry- het sy enige ander lande oorweeg? Verjaarsdae: Annalize verjaar die 14de en ons wens haar ‘n pragtige dag toe. Attie op die plaas in die Noorde verjaar 16e. Lekker verjaar! Aan almal wat eksamen skryf en vir die wat wag op uitslae –mag dit goed gaan. Baie dankie aan almal wat briefies geskryf het en ja daar is werklik baie van julle wat bietjie kan laat weet hoe dit gaan. Ek pos nou maar elke 6 weke ‘n dik koevert aan Br Mendel want hy hoor andersins niks van ons nie. Is darem in kontak per SMS Arnolda en Garth- hoe vind julle dit om Oupa en Ouma te wees? Miskien het julle van die aarde afgeval? Ons wat reeds die verhewe status bereik het - hou nooit op praat oor die wonderwerke nie –maar julle is dood stil..............! Nou het ek niks meer om te sê nie en wens julle ‘n goeie week of meer toe. Onthou dat veiligheid van uiterste belang is tuis en weg –ook op die paaie! Ons sit heerlik warm voor die vuur en stuur dus vuur warm groete vanuit Cranleymore. Barry & Christina

No comments: