Saturday, November 16, 2013

Heerliek weer

Saterdag 16 November’13 Goeie dag aan almal, familie en vriende! Die hele wêreld is om vér gegooi- die vreeslike dinge in die Fillipyne , die oorvoed reen en ellendes in die Kaap en instede van koud wees hier , is dit vandag 13° met heerlike sonskyn! Hulle het gewaarsku dat ons volgende week gaan bibber! Ek is nou net deur 72 uur van moedelose woede vir my onkunde met hierdie skoot rekenaar wat ons lewens beheer! Dit is totaal onaanvaarbaar dat ‘n mens in ‘n koue sweet kan uitbreek omdat die ding nie wil doen wat jy vra nie- dit was so hittete of die skootrekenaar was op pad Sligo toe op die vlerke van ‘n groot kraai want ek het genoeg gehad – Finbarr het gehelp maar hy sit vér en ek is dom en nog steeds wou dit nie saam werk nie – uiteindelik na my dreigement doen ek toe alles wat die rooi vlae beveel en nou kan ek darem my brief skryf! Ons harte is seer vir al die ellendes in die Fillipyne – ek ken baie Fillipynse verpleegsters wat saam met my gewerk het en hulle is almal erg ontsteld! Eienaardig dat hulle so lank geneem het om nood kos en water by hulle te kry mens sou dink dat die Fillipynse regering tog lank genoeg geweet het dat ellende op pad is maar hulle het geen voorbereiding getref nie!...maar ons dink mos altyd –ag nee wat dit gaan nie met ons gebeur nie! Vanmôre soek ek die kleiner kat en toe ek hom vind weet ek dadelik waar hy ‘n draai gemaak het gedurende die nag- ‘n kar het hom seker ‘n veeg gegee- geen bene gebreek nie maar tog orals baie seer en hy loop effe mank! Ook nie lus vir sy kos nie en lê maar net in die son- ek troos maar elke nou en dan – wou Calpol koop om vir hom te gee maar Barry wou nie – nou moet hy maar self beter voel! Hy het dus 1 van sy 9 lewens gisternag verloor! Dit was ‘n baie interesante week vol dinge en gebeure! Uiteindelik het die mediese fonds ingestem om my knie vervanging te doen maar ons moet 20% inbetaal intussen is die hospitaal waar ek gewerk het en die operasie sou hê deur die bank oorgeneem en ons weet nie of dit die paal gaan haal nie-! Ek sal dan na ‘n Dublinse kliniek toe moet gaan! Voor enige reelings getref kan word moet ek eers uitvind wat die 20% in die ander kliniek behels! Ons het gister gou die gras vir die laaste keer die jaar gesny en dit lyk pragtig – die wind het die hele week gewaai en daar was geen reen nie dus die gras was droog maar oneindig lank!- Die heining,aan die pad se kant, is ook gesny en ons is nou reg vir die winter! Ek is so siek vir die politici dat ek gedurig sooibrand van hulle het en het effe afgeskakel ten opsigte van hulle toneelopvoerings! Hulle is seker maar soos in elke land, absolute kriminele- steel van hul eie mense om seker te maak dit gaan goed met hulself! Môre is dit die beste dag van my week en ons gaan met dankbare harte kerk toe! Dit is ook my beurt voor die orrel en dit bring groot vreugde in my hart! Ek weet nie hoelank ek dit nog sal kan volhou nie maar intussen gaan ons voort! Buite het ek nog ‘n paar rose en my chrissante wat blom die res het erg deurgeloop met die ryp van vorige week! Ek het my een lemoen boom wat ek oor het (die ander is verruil of weggegee) ingebring vir die winter! Al die druiwe is op en die pere is gepluk en word nou sag in die kas! Die kleure van herfs en winter is hierdie jaar besonder mooi en gryp jou aan die hart! Hildegard se kuier was briljant- ons is so verwen met lekkernye , biltong en tydskrifte – dit was soos 3 Kersfeeste bymekaar! Veels geluk aan die ouerpaar in Melbourne met die koms, enige dag nou van die baba ! Laat ons asb weet! Ek weet nou nog nie wat die kleinding in Kanada se geslag is nie of hoe die baba lyk nie! Is daar niemand wat vir ons ‘n ou fototjies kan stuur nie! Die trek petalje van Arnolda sal ‘n goeie storie uitmaak – skryf alles neer en ons stuur dit dan vir die Rooi Rose ! Hulle soek goeie stories en hierdie een kry ‘n medalje! Verjaardae!Attie (snr) verjaar vandag- ons beste wense Attie en voortdurende beterskap! Hanlie die 19de- ons hoop ook dat jou jaar baie beter gaan wees en geen pyn insluit nie! Paul en Mendel die 21ste – Heerlike verjaardag vir julle twee! Bianca Carstens, klein Renate van Hanlie en Paul, as ook Jeanne Potgieter! Veels geluk aan julle almal! Aan almal wat aansterk na operasies. Hanlie en Karin –alles van die beste! Julle het albei nek operasie gehad? Baie dankie aan almal wat sulke lekker briefies gestuur het en al die fotos! Georg – ons lees lekker aan al jou eskapades! Baie dankie ook an Dr Tertius Venter vir sy nuusbrief! Fluit-fluit my storie is uit! Effe bewolkte lug met son verskuilde strale vergesel ons groete! Wees tog altyd versigtig, wees gereed vir alle onverwagte gebeure en sluit jul deure! Barry & Christina

No comments: