Wednesday, August 27, 2008

Maandag

4 Augustus 2008

Ek het verlede week effe gemis want ek het bietjie hard gewerk netso voor my vakansie!

Baie dinge het intussen gebeur en ek sal maar voor begin.

Barry dag toe die werker is weg nadat ons hom die vorige Vrydag betaal het…Maandag het dan opgedaag en geen werker en Barry bring toe die turf self in die skuur in ‘n magtige taak maar teen 2nm het hy alles in die skuur… Die middag word die gras toe gesny, net voor die reen uitsak…o ja, dit is somer hier maar dis meer winter as somer.Ek moet eerlik wees dit word net soms bietjie koud , ons gemiddelde temperature is tussen 17-20 wat baie aangenaam is.

Dinsdag is die sluise oop en dit reen tot en met 5nm toe ek opstaan toe kom die son uit! Barry het rustig verkeer met ‘n koerant en na die “Galway races” gekyk, dit is nou die elite perde resies geleentheid van die jaar en duur van Maandag tot Vrydag….alle vroue modes word daar ten toon gestel..self die bes gelede man! Eintlik gaan dit oor die perde…’n SA Jokkie het ook goed gepresteer.

Woensdag daag meneer toe op. Barry moes vinnig dink wat nog gedoen moes word.Daar was ‘n stuk van die voor muur aan die binnekant wat nog gepleister moes word en die is toe gou gedoen. Die stoof wat in Okt verlede jaar uit die huis geneem is en op die stoep gestaan sedert dan word toe met ‘boer maak ‘n plan’ van die stoep afgerol ,die stoof weeg ‘n ½ ton, en na 2 ure is die toe in die skuur. So tussen deur sak daar elke keer ‘n bui uit en moet werk gestaak word.
Donderdag lyk toe nie te sleg nie die wolke hang laag maar dit skrik Barry glad nie af nie en die bedding buite die nuwe muur word toe ontklip en gelyk gehark en gras saad gestrooi. Hoop net die klomp idiote stop nie op my gras nie. Hulle gebruik ons indraaipad en voor die huis vir ‘n u-draai en om hul fone te beantwoord. Dit is nou ‘n’soft verge’ en hulle se wiele sal lekker wegsak! Maar dan is my gras daarmee heen!
Vrydag laat toe weet dat goeie weer kan net 24 uur duur en dit het deurentyd dan sag dan hard gereen en tussen deur moes meneer toe die ander kant van die heining snoei! Nou kan ons deur die heining sien waarvan ek gladnie hou nie…net die beeste kan insien maar nogtans dit was ‘n goeie beskermer teen die noorde wind wat baie koud kan wees. Willens en wetens wou Barry toe die muur verf .en het ook begin nou le al die verf aan die voet van die muur want die reen het heerlik gespoel.

Intussen werk ek aaneen want skielik is ons so besig dat die teater tot 10.30nm nog besig is…almal is moeg en kort van draad en elk nou en dan vlieg die hare .ek is bly ek werk in die nag…daar is tenminste vrede tussen ons klompie, dit was ergter harde werk..moeilike gevalle en baie probleme. Ek laat ergter niks my onderkry nie en soggens lewer ons die ellendes ,as rustige gekontroleerde nie bloeiende pasiente aan dag personeel oor.

Intussen het die nuwe kliniek oopgemaak netso neffens ons met die oorgewig minister in aksie. Ek het rustig geslaap. Ons het darem die hoof nuus gehaal.
Nabetragting van die akkreditasie besoek was hoof onderwerp van elke geselsie. Administratief was daar ‘n paar hak plekke ‘Health & Safety’ het erg kort geskiet maar hulle wou nie luister toe ek gepraat het nie..nou pluk hulle die vrugte! Hulle kom glo weer terug ,weet nie presies wanneer nie, maar dan moet alles in orde wees!
Intussen het die hospitaal toegemaak vir Augustus se eerste week. Gewoonlik doen hulle dan die nodige herstel werk in teater en waar dit nodig is..en ek het dan nog ‘n week nadat hulle terug is,nog vakansie!!!!!

Saterdag het die son uitgekom teen 2nm nadat die wereld byna weggespoel het ..dit reen altyd hier maar wolkbreke ken hulle nie en baie plekke het 6vt onder water gewees,die riviere het hul walle oorstrooml en alles saamgevat…dit was werklik baie erg!!!!Dit was hoofsaaklik in die suide en suidweste van die eiland, ons woon gelukkig op ‘n helling en die water kan weg hardloop maar selfs hier het my kar in ‘n goeie 8” diep poel gestaan. Barry het my ‘wellies’ reg gehad by die deur ingeval die water nog so diep staan as ek werktoe moet gaan,maar dit was gelukkig weggedrein teen ½ 8.
Sondag oggend het die ander nurse vir my verslag oorgegee en ek was gelukkig vroeg tuis , en kon darem nog die Psalme en Gesange goed oefen in die kerk voor die diens.
‘n Besoekende hulp prediker van Howth/Sutton gemeente in Dublin, Mićeal (uitgespreek foneties-Mehol)Bolger, het die diens waargeneem, goed gepreek maar hy wou nie die mikrofoon gebruik nie en die ou mense kon hom nie hoor nie!!!maar ons het lekker gesing!!

Vandag was amptelik my eerste dag van verlof en ons het lekker laat geslaap. Tee in die bed gehad en toe opgestaan ‘n geweldige luukse vir ons!

Ons het die pad gevat en eerste stop was buite ons naaste groot dorp waar daar ‘n ‘carboot sale’ was altyd baie interesant..maar die keer is ons daar weg met al ons geld in ons sake. Met die padkaart se hulp ry ons toe noord na Cloone naby aan die noordelike grens met Noord Ierland om na ‘n ‘agricultural show’ te gaan kyk.
Al die paaie is nie aangewys nie en ons ry toe ‘n effense draai maar deur asemberowende mooi landskap berge!!! Hier sien ons mos nie berge nie en dit was so anders…die plante groei en omgewing total verskillend van waar ons woon 60 km terug. By die skou gronde aangekom was dit ‘n tipiese boere gemeenskap…beeste, perde, skape, honde, bokke, ponies, donkies, pluimvee, eet stalletjies en roomys karre,
Die plaaslike radiostasie was op diens en later die middag was ons vergas met ‘n ‘western country’ singer…wat baie mooi was. My kniee wou nie meer nie en uiteindelik na 4 ure is ons terug in die kar , Die son het toe sterk geskyn en dit was baie warm..21 grade…vroeg oggend was dit baie bewolk en elke nou en dan het daar ‘n goeie paar druppels geval om ons te laat besef dat dit Ierland is! Hierdie keer neem ons ‘n korter roete huis toe maar nog steeds baie mooi!! Verby vele mere en pragtige natuurlike woude. Barry het dadelik van moegheid aan die slaap geraak op die bank en ek gryp toe die geleentheid om gou te tik!
More word ons oë getoets .hoog tyd want ek kan lank al nie meer sien nie..Barry kry nou alles verniet ..hy het sy mediese kaart gekry en betaal nou nie meer vir enige mediese onkostes nie.Wonderlik.!!! Ek kry afslag 25% wat baie help omdat ek ‘PRSA’ betaal. Weet nie waarvoor dit staan nie maar is soortgelyk aan die SA blou boekie…..Welsyn of so iets.
31 Julie was Frikkie se verjaardag!
Die 1ste Augustus was met 2 verjaardae aangeteken op my kalender. Gerlof en Renate (Br Mendel) Ons hoop dat dit ‘n pragtige dag was vir aldrie van julle!
My innige simpatie met Hessie wat nou gebroke is in vele plekke … smeer Arnika aan en suig die pilletjies dit is goed vir die been seer! Nou sal jy seker nie weer perd ry nie …kyk maar liewer hoe die ander dit doen ! Gou gesond word en hoop dat jy nie te seer het nie!


My nuus is op en ek glo dat julle nou op hoogte van sake is. My komper het ‘n hewige infeksie van ‘n ‘Embedded virus’ Hy word behandel vanuit SA en Dublin ..daar is nog tekens van vergifting maar ek hoop van harte dat dit uiteindelik sal opklaar!

Mooi bly en groete
Vanuit ‘n baie mooi natuurskone eiland!
Barry & Christina(Stien)

No comments: