Saturday, January 16, 2010

Greetings from a melting Ireland

16 Januarie 2010

Goeie dag aan almal, familie en vriende,

Die sneeu het gesmelt, die temperatuur het gestyg ,gister was dit 11 grade teen 2nm, ongelooflik na ‘n maand van vriesende omstandighede. Gister het die wind met mening gewaai en dit het gereёn asof die aarde hier in Ierland nie ‘n druppel water gesien het vir maande nie. Oral staan die lande onder water en dele van die kanale en mere is nog steeds geys! Ons kla nie want elke gogga en virus moes vrek in die gure omstandighede!
Die koue het ook groot ellendes meegebring, gebarste water pype en baie plekke sit sonder water of net sekere tye van die dag water in die krane! Dublin is sleg getref !
‘n Man wat op pad was na seun in Dublin van die suide het bleikbaar gegly voor sy huis en niemand het geweet nie en hy is dood onder ‘n kombers van sneeu! Na 10 dae het die bure begin bekommerd raak en toe die Garda daar opdaag sien hulle ‘n hand vanonder die sneeu uitsteek! OOk die verskriklike aardbewing in Haiti, wat is ons tog bevoorregt om niks tekort te hê nie, die armoede en ellende van squatter woonbuurte is soveel meer as in beter bedeelde dele!

Daar is so baie werk wat nou op my wag in die tuin, al die verwoeste blommetjies moes geknyp word al die dooie blare weggesny word en met die lang koue spel het die groei van die affodille en tulpe natuurlik tot stilstand gekom en begin nou eers weer beweeg! Die 1st Feb is snoei dag en daardie week sal ek regtig my deel moet bydra!
Die ganse is nog steeds ‘n groot plesier. Hulle is so vet soos ‘n gans wat reg is vir ‘n fees en sal, noudat die gras weer sigbaar is op diёet geplaas moet word want anders is hulle te swaar vir hulle pote. Hulle het hul eie program 12middag gaan hulle rus tot 2nm en dan vroetel hulle rond tot bedtyd. Hulle gesels en flap die vlerke en hardloop agter Barry aan!
Die kleiner voёl gemeenskap het gister begin sing, die robin sit hoog in die boom en het seker ‘n uur lank aanmekaar gesing! Dit was so pragtig!.ons het verskeie vreemde voёls opgemerk. Die rotte het nooit weer hul verskyning gemaak nie ,dus neem ons aan dat hulle daarmee heen is!
My besoek aan die ‘sjirurg’ was ‘n fiasco.
Dit was my eerste keer wat ek nou werklik met die ongeorganiseerde Hospitaal dienste van hierdie land deurmekaar was. Ek moes ‘n uur wag en toe ek die spreek kamer instap is daar geen sjirurg nie maar ‘n vreemde dokter van Nigerieё. Hy het geen benul gehad wie en wat ek is nie en wat ek daar soek nie. Na ‘n rukkie het hy wel deeglik besef dat ek op die punt staan van ontplof en het probeer verskoning maak en verduidelik dat hy net waarnemend is en dat die ander Dr nog in die buiteland is en hy sal dadelik gaan uitvind of ek bespreek is vir sjirurgie.
Om ‘n lang storie kort temaak ek was nêrens in die boek gemeld nie en moet weer volgende week terug gaan in die hoop om die regte sjirurg te sien.
My eie arme GP het moeite gehad om my te kalmeer maar het uiteindelik my so ver gekry dat ek nou volgende week die man sal sien met ‘n brief wat hy gedikteer het in my teenwoordigheid en hopelik ek sal dan iets meer weet!
Ek is dus nog steeds op” siek verlof “wat lank nie meer siek verlof is nie maar net lui lekker lewe by die huis!
Ek word betaal maar ‘minimum wages’ en dit word nou dringend dat ek na normal terug keer!
Dit was heerlik om briefies van almal te ontvang soos julle tuis kom na jul besoeke aan die ‘Heimat’ daar is egter nog heel party uitstaande en die wat in SA woon word hierby ingesluit!. Leopold se brief van Nuwe Jaar in Delft was ‘n belewenis! Hier het alles gelukkig doodstil verby gegaan!
Môre is soos altyd die beste dag van my week en die predikant het pragtige Psalme en Gesange gekies en ons drink ook tee môre ,dus heerlike samesyn!
Verjaarsdae is vandag MarieJanke en ek hoop dat dit vir haar ‘n pragtige dag sal wees en die jaar ‘n groot sukses. Dorothy in Johannesburg verjaar môre en ek hoop en bid dat sy ook ‘n jaar vol seёninge sal beleef!
Heerlik om weer van Joy te hoor in Brisbane.
Ek groet vanuit Cranleymore met die hoop dat almal veilig tuis sal kom, dat dit sal reёn waar dit droog is, dat die damme vol sal loop, dat die oeste op die lande goeie pryse sal kry en dat alle ‘live stock’ vet en gesond is!
Dat die wat nuwe uitdagings aanvaar dit sal deurvoer en sukses sal hê ook die wat nou in die noordelike halfrond voor eksamens staan ,dat dit goed sal gaan!
Die ‘nuwe ‘dokter in PMB haar werk sal geniet so-ook die jongman in Melbourne!Miskien kan Haya my Anneke se epos adres stuur dan sit ek haar op die poslys!
Wees altyd versigtig, sluit die deure, neem niks as van selfsprekend aan nie! Trap versigtig! Bly gesond!
Die Dunnes

No comments: