Sondag 1 Aug’10
Goeie dag almal, familie en vriende!!!!
Die weer is baie wispelturig, ‘n baie bekende ondervinding hier in die groen groen eiland van die Iere! Ons het baie reën gehad die afgelope week maar so tussen deur het die son darem ook sy verskyning gemaak en dan met mening op die Ierse aarde geskyn! As julle na die golf kyk sal julle die groen sien waarvan ek praat!
Die klein blommetjies kan net nie al die water verwerk nie en is stadig maar seker besig om te versuip! Ons aarbeie het na baie weke nou aan hul einde gekom maar op die stoof, hierdie oomblik kook ek gemengde bessie konfyt, rasberries,swart bessies, appelliefies en die laaste aarbeie! Moet elke keer gaan kyk en roer!
Die rose se eerste drag is af en daar is orals nuwe groei en ons hoop om nog ‘n stel rose te hê voor die herfs ons oorval!
Ons dag temperature is net so onder julle laat winter temp, vir ons is dit heerlik maar ek is seker julle dra truie!Vandag is 15 gr wat eintlik lekker is , As ons nou nader aan 12 of 10 beweeg word die truie wel aangetrek!
Ons kleinseun Lukas groei met rasse skrede en is baie oulik! Hou sy eie bottel vas en steek sy tong vir jou uit as jy jou tong uitsteek!
Die spul by die werk het my met ‘n slap riem gevang verlede week ,ek het 5 nagte moes werk en toe ek die laaste nag in die saal kom word ek gou ingelig dat ek oue te huis toe moet gaan! Hulle het die hele week gehad om my intelig maar nee dit word op ‘n slinkse manier op die nippertjie aan jou meegedeel met ‘n notatjie teen die muur. Ek was woedend , nie so seer omdat ek daar moes werk nie maar vir die manier waarop hulle my ingelig het, dit was my 5 de nag en die ander nurse het net Donderdag en Vrdag nag gewerk sy kon maar regtig Vrydag nag daar gaan werk het, ek was regtig moeg teen daardie tyd, maar ek besluit toe dat ek dit positief sal hanteer en besluit dat ek in die Paradys werk en dat ek met dankbaarheid in my hart die werk na die beste van my vermoë sal doen ten spyte van my gemoed! Dit het toe ook baie goed afgeloop en die nag was verby voor ek my oe uit kon vee!
Nou is ek op die plek rus en gaan die eerste paar dae net lui wees en dan sal ek huis begin skoon maak! Ons moet eers Dinsdag Dublin toe vir Barry se Isotope X Strale van die hart en ons sal die hele dag weg wees. Ons het besluit om met die trein na Dublin toe te gaan en dan met ‘n taxi na die hospitaal! Die Luis wat ‘n deftige
tram is en loop van die stasie tot by die hospitaal maar Barry wil onderdood nie daarin klim nie! Ons hoop dat die ondersoek goed sal afloop!
Vandag is daar 2 verjaardae Gerlof wat tans op besoek in SA is en Renate van Mendel my broer.! Veels geluk aan hulle en mag dit ‘n goeie en suksesvolle jaar wees!
Ek weet nie of die jonge lui in SA nog rekord eksamen skryf nie maar in ieder geval hoop ons dat die wat hulle begin voorberei vir die jaar-end eksamen dat dit goed sal gaan! Baie begin in Sept of net daarna ‘n nuwe loopbaan of die volgende jaar op universiteit en ons hoop dat vir almal van julle dit ‘n wonderlike ervaring sal wees! Die dokters wat hul hospitaal jaar doen, (ek weet maar min van hulle af,) Attie jnr, Anneke, Sam,(Kathleen rus nog eers na die geboorte van Isabelle) ons hoop dat hulle baie geleer het so vér en dat hulle uitstekende dokters gaan wees!
Die wat nie belangstel in die gans storie nie . Wees gegroet!
Die jong ganse is môre 5 weke oud is het 18 jaar in 5 weke geleef, hulle is nou geheel-en-al selfstandig, hulle is nou jong ganse met vere en vlerke. Swem sonder toesig en vreet hulle trommeldik!. Hulle word nog so effe deur die ouer lui beskerm maar elke nou en dan waag een van hulle bietjie om weg van die groep te wei! Baie oulik!
Ons het egter baie weemoedig al die eiers van een hen en ook 7 eiers van die 2 de sittende hen verloor maar spog darem met 3 pas uitgebroeide kuikens! Ons dink die eiers was ouer as 10 dae, Ons het hulle gemerk maar volgende jaar sal ons die datum op hulle skryf en versigtig wees ,en nie uit datum eiers onder hulle sit nie!
Ons het baie geleer en verstaan dinge nou effe beter en sal volgende jaar beter ge-organiseerd wees en ook hopelik ‘n broeikas hê! Om hulle groot te maak is niks nie maar hierdie gebroeiery is ‘n konsternasie op die stasie! Ons sal hulle nou van mekaar moet skei, kom die lente,(dis nog maande weg) want die matriarg mag nie sy dogters dek nie en die seuns mag ook nie hul mammas of sussies bykom nie dus ons sal die jong henne met ‘n nuwe mannetjie moet dek , Prins Scruffie behou sy harem van 4 henne! Ons het nou altesaam15 ganse!
Ek heg’n foto aan van die 5 weke oue ganse en die nuut uitgebroeide 3! Ons het ‘n magdom voeltjies wat in die heining leef swaeltjies , tot ‘n ‘Lady Wagtail’ met ‘n poot defek maar voer haar babatjies net so goed as enige ander voëltjie! Die swaeltjies in die donkie huis het hul 2de stel eiers van 4 gelê en begin sit , hulle het dit effe laat gelos maar ons hoop dat hulle dit sal maak!
Ons het vandag ons eie predikant se pa op besoek gehad en hy het baie goed gepreek en ons het heerlik gesing. Barry het die Psalme en Gesange gekies en almal het kom sê dat die keuse wonderlik was....want..... hulle kon dit met oorgawe sing! Dit het ook goed by die diens ingepas!
Nou ja ek het nie eintlik verder nuus nie en groet dus met wense dat Nine en Nine jnr hul reis geniet, Dat Gerlof en Sandra lekker vakansie hou, dat almal wat voorbereiding tref vir troues dit met vreugde doen! Rob en Thilo in VSA geniet dit!
Baie dankie vir al die briefies, dit is altyd so lekker om van julle te hoor! Sue ek wag vir die opname!
Groete met liefde van ons in Cranleymore!
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment