Saterdag 13 Nov’10
Goeie dag allemaal, familie en vriende!!!
Ek moes nou iets ekstra oor my skouers gooi want dit het skielik kouer geword hier in die middel van die dag! 4grade op die moment- vanoggend het die temp darem tot 6 gestyg maar o weë, ek kla nie, maar dis koud . Ons het stil gesit vir ‘n paar uur want die scrabble spel van gistermiddag moes afgehandel word en natuurlik moes ‘n 2de spel daarop volg. Ons behoort die beste Scrabble spelers ter wereld te wees maar twyfel of ons die eerste rondte in die dorp sal wen! Barry is hard besig om vuurhour en turf intedra om die vuur aan die gang te kry,ons was aanvanklik nie koud nie en die son het geskyn maar intussen het ‘n dowwe grysheid die Ierse aarde oorval en ligte moes aangeskakel word! Eintlik het ons nog nie regtig winter beleef nie hier en daar ‘n oggend met ryp en -2 maar dan skyn die son en maak op vir alles!
Die afgelope week het gepaard gegaan met hewige storm weer,golwe van 50vt hoog en die weskus het sleg deurgeloop ook groot dele van die middelland het erge oorstromings beleef,winde van 110-130kpu. Groot ontwrigting vir dele waar eletrisiteit af was vir lange ure en die omstandighede vir herstel was baie gevaarlik!
Ek moet nou die klok vir 2 weke terug draai en dis byna te ver omte onthou!
Sondag(more) 2 weke gelede het die orrel in die kerk die gees gegaf, hy kraak al vir die afgelope 2 jaar soms meer soms minder maar daardie Sondag was sy laaste snikke en ons het met predikant as voorsinger maar deur die Psalme en Gesange geworstel. My werkweke was buite gewoon vol 8 nagte gewerk met ‘n breek van 2 tussenin- ek het omtrent op auto gefunksioneer! Intussen was dit Sondag en beteken dat ek laat bed toe gaan en dan tot 6nm slaap om deur die nag tekankom ,ook moes ons my klawerbord saam neem kerk toe en daar opstel sodat ons musiek kon hê! Die luidsprekers is klein en ek moes die volume byne op vol draai om klank dwarsdeur die kerk te kon kry, en dieselfde geld vir môre. Intussen het die Bokke teen Ierland gespeel met sulke onbekende wit pakkies aan, dit het my regtig nie aangestaan nie, weg was die bekende groen en geel,maar ek neem aan daar moet seker ‘n goeie rede voor wees! Vooruitgang! Hulle het neffens maar wel gewen! En dit het effe opgemaak vir die wit!
Ek het teen Donderdag middag 3 uur vir die eerste keer weer daglig gesien en son skyn ervaar maar waar ons voor die venster gesit het kon ons die veranderende weerpatroon maklik opmerk dit het omtrent 15 minute geneem vir die blou lug om na donker byna swart te verander met die wind wat die wolke teen ‘n hewige spoed laat rol en tuimel het en terselfdertyd gooi daardie einste wolke die Ierse aarde papsopnat!! Groot dik druppels wat spat as dit die grond of die venster tref en 7 minute later is alles verby die wind stil, die lug helder blou en die son skyn! 10 minute later word die hele patroon weer herhaal!.
My hart was baie seer Donderdag oggend toe een van ons SA dokters Martin Kelly ons totsien gesê het , hy sê die assuransie wat hy moet betaal en die vliegkaartjies en byna 2/3des minder gevalle maak dit nou nie meer winsgewend nie en nouse dae word al die besoekende dokters ook hier met belasting getref en dit veroorsaak ‘n groot gap in hul verdienings !
Hy het altyd vir my dingetjies gebring en nou is dit ook op ‘n einde!
Nou ja die voëltjies leef goed want hulle word goed gevoed deur baas Barry en ons sal niks sê van die ganse nie hulle is verwen verby! As ek soggens inry staan hulle by die hek en wag, hulle hoor die kar kom en staan reg vir dagsê tyd, hulle is groot en vet en die tyd raak kort om hulle by ‘n slagter te kry en Barry skrams elke keer weg as ek die onderwerp aanraak! Ek sien al hoe ons volgende jaar met 50 ganse sit!!!!
Die tuin is lelik grou en onaansienlik die mandjies moet almal uitgegooi word en met winter gesiggies beplant word maar ons kom net nie daarby uit nie, ek werk nog 4 weke ,dan is ek met verlof vir ‘n maand en sal dan plan maak! Die 100de affodille ,sommige van verlede jaar en die nuwes van die jaar is reeds besig om hulle punte bo die grond uittestoot ,veels te vroeg en as die swart ryp kom gaan hulle baie seer kry sal maar toemaak met strooi!
Ek kan omtrent nie glo dat dit nog so lekker warm in Kanada is nie- en ons tref elke stert van ongure weer wat verby trek! Selfs Gerlof-hulle spring meeste van die slegte weer vry, hulle woon net buite die band van ellende!
Arnolda ek het saam met jou heimwee en verstaan presies hoe jy voel, ek praat maar met onse Lukas Afrikaans en hoop dat hy dit wel eendag sal baas raak maar soos almal van ons wat buite SA woon ,is die taal verlore as die ouers en groot ouers dit nie volhou nie!
Dit is natuurlik vroeg donker hier net so na 5 nm trek die donkerte sy kombers oor ons ,soms as die lug oop is is die sterre skitterend mooi in die pikgitswarte nag maar ander kere kan jy die swaarheid van die wolke voel!
En ‘n eienaardige pink skynsel verskyn dan op die horison,baie mooi maar erie!
Hierdie eiland se mense glo aan die snaakste goed , die verpleegster wat saam met my werk kry ‘n uitslag in haar nek wat pynlik is en word gediagnoseer as’ shingles’ en toe is na die vrou toe met die ‘cure’ toe. Ek dom wat ek is ,vra ewe onskuldig “ what on earth does that mean; she has the cure?” baie geskok word ek toe meegedeel dat sy die ‘cure’ gegee is deur een of ander gawe en sy vryf haar trou ring oor die uitslag en dan gaan dit weg, sy moet dit wel ‘n paar keer doen maar dan verdwyn dit.....en die ergste van alles is die uitslag is regtig weg.....maar ek skryf dit maar toe aan dat dit nie ‘shingles’ was nie net ‘n uitslag! Die mense hier lei ook vreeslik aan psoriases,elke 3de persoon het hierdie uitslag...kannie onthou dat die mense in SA daaraan gelei het nie! Hier en daar een maar hier is dit soos ‘n aansteeklike siekte!
Ek sien die dermatoloog Maandag oggend vir die brandsiekte en melaatsheid op my been wat begin het met ‘n netel prik en daarna ‘n perde vlieg se steek en elke keer wanneer die gesondheid ‘n lae vlak bereik breek die ellende op my been erger uit en nou lyk dit plein sleg!
Baie dankie Elsje dat jy uiteindelik geantwoord het ek wou naderhand moed opgee maar ek hoop van harte jy voel beter!
Baie het al klaar eksamen geskryf en die jaar is aan sy einde ek hoop van harte dat dit met almal goed gegaan het!Annalize verjaar more en dan ook Attie (snr) die 16de en Hanlie die 19de Veels geluk met jul jaardig wording en mag die Here julle almal ryklik seen!
Hier steel hulle nie net klein goedjies nie maar ‘n groot ontwikkelaar is voor verlede nag op die sleepwas gelaai en weggery-€15000 en die sleepwa €3000
Vanmore of liewer laasnag het 3, 21jariges ‘n skopgraaf gesteel en was besig om die ATM(gatindiemuurmasjien) uit tebreek toe die Garda(polisie) op hulle afkom die bank is erg beskadig maar die ATM is veilig en hulle in die tronk!
Politieke nuus is gevaarlik en die resessie het nou in depressie verander en dit gaan vrot met die arme eiland se finansies en ons dank die Here elke dag vir ons seëninge, dat ons nooit uitspattig geleef het nie en dat ek ‘n goeie werk het!Al is my salaris byna die helfte minder as 5 jaar gelede kom ons nog goed oor die weg!baie mense is besig om hul huise te verloor en die getal mense voor die welsynskantore groei elke dag! Soveel besighede moes toemaak sommige wat baie jare van swaerkry oorleef het maar nou nie die mas kan opkom nie!
Ek was baie bevoorregt dat 2 van die SA’se vriendinne en een van die Dr’s wat in Midoc werk by my kom tee drink het in die hospitaal 2 weke gelede ek het net ‘n paar pasiente gehad en het hulle uitgenooi en dit was heerlik! Baie dankie Cilna, Rina en Wessel?
Ek het genoeg kwyt geraak vir 2 weke en hoop dat dit met julle almal goed sal gaan tot my volgende skrywe! Baie dankie vir al die welkome briefies!!! Fotos!!!! En sommer ‘n lyntjie om my iets te vertel! Is daar ‘n troue aan die kom? In die Vrystaat?
Hou hulle deure gesluit, laat die honde julle mooi oppas!
Liefde groete vanuit ‘n koue November middag in Cranleymore!
Barry & Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment