Saturday, April 2, 2011

Groete van Ierland waar die wind lekker waai!

2 April ‘11

Goeie dag allemaal, familie en vriende!
Veels Geluk aan almal wat die komende week verjaar! Kayla Butkovic in Jhb, Devlin Duvenhage in Pmb alby die 4 de April en hulle verskil net omtrent ‘n uur in ouderdom! Die 5de NinePaula student in Pta! Mag dit ‘n pragtige dag vir elkeen van julle wees!

Ons het die afgelope week ‘n wind ervaar wat sekerlik nie eers naby die Suid-Ooster kom nie! Bome om, dakke af en as jy loop moet jy vashou anders help die wind jou aan!
Temperature was redelik maar nie naastenby so warm soos in Exeter nie! Gemiddeld tussen 11 -14 met een nag storm reen as poeding! Die arme affodille lê almal plat want hulle het pragtige lang stingels en hul weerstand teen die gemene wind is maar nie van die beste nie!
Barry het die week sy beste uitgehaal en volgens die TV se tuin program ons groente bedding in die lewe geroep! Dit is op sigself ‘n kunswerk! Die gans mis en kompos is herhaalde male deurgewerk en is nou gereed vir plant. Die wind was so guur dat ons dit nie buite kon waag nie en ons hoop van harte dat dit beter weer sal wees teen Maandag! Vandag is uit want ek het oefen sessie by die kerk netnou en sal groot deel van die middag nie hier wees nie!
Uit die 1500 Psalme en Gesange het ek 200 gekies en dit toe afgeskaal na 50 en nou is ons by 25 en dit is ook nog teveel!
Ek hoop en bid dat dit ‘n goeie middag sal wees! Gevul met prys gesang in dankbaarheid!die 10de April
Ek werk regtig net nou en dan – weet nie waar dit gaan eindig nie eintlik is ek woedend daaroor maar aan die ander kant geniet ek ook die samesyn met Barry! Dit is net die ou salaries tjekkie wat ly! Die nuwe eienaar het geen idée hoe om met die Iere te werk nie en hy gaan sy kop gruwelik stamp! Hy wil die hospital omskep in ‘n Engelse inrigting met Engelse wette ens en ek sien groot moeilikheid kom! Hy doen nie vooraf studies nie en kom nou agter dat hy nie die MRI scanner in ‘n gebou kan plaas waarvan die dak van sement is nie! Net die boonste vloer van die hospital is onder iets anders teels of iets en hy sal nou ‘n geboutjie moet oprig vir die MRI scanner!
Verder waarsku hy aanhoudend dat as jy nie hou van sy manier van dinge doen nie is daar altyd die deur! Ek probeer maar wegbly van die deur, sak my kop en doen soos ek beveel word murmereer onderlangs veral as ek soggens huistoe ry en by die tyd dat ek tuis stop is alles uit en ek voel weer goed!
My nuwe kar is ‘n droom voertuig en ek gebruik tenminste die helfte minder brandstof as met die vorige kar! Barry hou aan vir my vertel dis nie meer ‘n nuwe kar nie maar wel ‘n 2de handse kar en ek moet nou daaraan gewoond raak!
Ek verneem van mense wat by die kwekerye werk dat laat ryp en koue verantwoordelik is vir die swak plant gehalte en dat ons hopelik in die volgende 3 weke beter plante tekoop sal kry! Dus.... die mandjies is nog netjies opgestapel met niks binne-in nie!
Gaan nou eers ‘n koppie tee drink en dan Kerk toe en ek sal later klaar skryf!
Terug van die kerk en net ‘n paar het opgedaag maar genoeg om uit die laaste 25, 14 Psalme en Gesange te kies!
Môre is natuurlik die beste dag van die week en ek sien uit na ons sielevoeding!
Ons ervaar ook die bekende ‘April showers’ wat uitsak sonder waarskuwing en jou deurdrenk in oomblikke! Jy gaan nooit die deur uit sonder ‘n sambreel of reënjas aan nie!
Altyd heerlik om van almal te hoor,geniet elke briefie terdee!
Net soos by Gerlof waai die wind die kersie bloeisels overal en ons loop op tapyte van pink bloeisels! Ons, dis nou hier in die platteland van Ierland, het ook ‘n ‘wilde ‘appelboom wat dieselfde bloeisels het net in wit ,te pragtig!
Politiek gevul met ellende is nou deel van ons lewens en die leuens wat die vorige regering vertel het aangaande die finansieële situasie is skrikwekkend en ons het duidelik die stresstoets vir die banke gedop! €70biljoen nodig om ons te red –so jammer dat ons geen bome het wat die korrekte blare dra wat mens net kan pluk nie!
Nou ja alhoewel dit lente is is dit nog meeste dae regtig koud maar ons het vanoggend besluit dat ons nou nie meer die vuur gaan aansteek nie en as dit nodig is sal ons net die sentrale verwarming aanskakel! Hopelik sal daar nou minder stof in die woonkamer wees!
Onse kleinseun loop met behulp van alles waar hy aan kan vashou die hele wereld vol! Hy het sy eie taal en kan sekere dinge baie duidelik sê! Ek groet hom altyd as ek hom sien of wanneer ons oor die foon praat met’ Ouma se seuntjie’ en as hy dit hoor luister hy altyd aandagtig!
Ons vier môre Moedersdag hier in Ierland en Barry het spesiaal vir my nog affodille gaan pluk –die hele huis ruik heerlik!.’n Geseënde Moedersdag aan alle moeders en groot moeders hier in Ierland en Engeland!
Aan almal wat eksamens skryf en studeer , alle voorspoed!
Wees tog altyd versigtig ,hou veiligheid altyd 1ste op jou lysie!
Ons groet vanuit ‘n windverwaaide Ierland!
Barry & Christina

1 comment:

Anonymous said...

Your blog looks nice, even so it would be far better if you’ll be able to use lighter colors too as a professional design. This will make sure that a lot more readers come to check it out.Informative post by the way!

nolvadex