Saturday, April 30, 2011

Groete vanuit 'n windverwaaide Ierland

30 April’11
Goeie dag Allemaal, familie en vriende!
Dit is nog vroeg maar omdat die dae so lank is word alles effe vroeër gedoen as gewoonlik en die Saterdag oggend inkopies is afgehandel en ons drink reeds ons oggend koffietjie sonder koek!
Die wind waai ‘n hond uit ‘n bos uit! Die son skyn warm en die lug is deinserig en temperature wissel tussen dorp en waar ons woon, met ‘n graad!
Hier lees die barometer 16 en in die dorp 17! Ten spyte van die hoë temperatuur (hoog in ons oë) maak die wind dit voel koud en baie onplesierig jy kan nie buite sit en lees nie en daar is ‘n fyn stof wat jou oë laat traan en ek het ‘n loop oog soos dit is en as ek vandag buite sou sit moet ek heeltyd my oog af vee want anders dink mense ek huil!
Waar ek die wasgoed ophang is heel partye hoë bome en die wind fluit behoorlik daardeur, soos ‘n panfluit! Ons wou die Duitse beet en spinasie uitplant vandag maar ek sien op daarteen en sal dit liewer Maandag doen wanneer die wind iewers anders mense en dinge gaan plesier!
Die Ierse eiland is op die oomblik in prag en praal getooi! Netso mooi as wat Katryn en Willem se troue gister was! Die musiek was pragtig dit moet ek sê en sy het pragtig gelyk, ek skat vir iemand waarvan so bohaai gemaak is, ‘n baie elegante goed passende troutrok!
Die velde staan vol in blom met die Fur bosse wat helder geel tot byna oranje blomme dra, die kersie bome se laaste bloeisels word vandag die see ingewaai. Orals word blomme verkoop die winkels met stalletjies buite lyk vrolik met al die kleure en elke ‘roundabout’( verkeers sirkel) is beplant met gesiggies van elke moontlike kleur! Absoluut ‘n fees vir die oog! Die Haw Thorn met sy massa wit blommetjie is besig om die kamp heinings te bevestig en die kontras tussen groen en wit is buitegewoon mooi! In die kampe is daar die pragtige vet koeie en beeste, ander kampe is vol kalfies wat snags by die ma’s slaap maar bedags in ‘n kamp gehuisves word!
Daar is ‘n ongewone hoë getal tweeling en drieling geboortes by die koeie hierdie jaar en tot 4linge by die skape!!!! Omdat die ooi net 2 spene het word die nuwelinge , gewoonlik die 3de of 4de lammetjie met ‘n ander ooi se nageboorte besmeer en dan vir haar gegee as sy net 1 lammetjie het, en so word almal gevoed!
Die boere werk baie hard op die oomblik hulle nagte is maar sonder slaap veral waar daar meer as een kalf of lam verwag word! Hulle moet ook met die droëe weer die lande rol en wag vir die weervoorspelling van reen en dan kom AVON (die bemesting-wat deur die winter maande in ‘n tenk opegaar is van die beeste wat op kraal staan) en sprei al die lande tot groot ergernis van almal wat dit myle ver kan ruik!
Ons noem dit AVON maar dit is sommer net ons naam vir die reuk wat die wêreld omkeer in groen wei velde!
By die werk gaan dit woes! Hierdie nuwe baas is iets uit die bose!
Hy het die nuwe kok wat hy aangestel het die deur uitgeja omdat hy nie gedoen het wat van hom verwag is nie en buite het hy die kontrakteurs wat die teer werk doen ook die pad laat vat en nuwes laat inkom- hulle is ook inmiddels die deur gewys want hulle het net van 9-4 gewerk en die hele plek aan die knor gehad want ons moes nou ons karre vêr van die hospitaal parkeer waar enig-iemand hulle kan beskadig as hulle wou!
Hy hou elkeen soos ‘n valk dop en weë jou as jy ‘n voet verkeerd sit- geen genade ,waarskuwing 1,2,&3 volg vinnig opmekaar en jy is uit!
Ek het geen probleem met hard werk nie en gee nie duit om vir sy dreigemente nie! Hy hou ons glo vanuit sy ‘apartment’ ( soos ‘n woonstel hier in Ierland genoem word) dop met ‘n verkyker en almal glo wat hy sê maar hy mag dit nie doen nie , die wet verbied hom maar hy het almal op hol! Hy het die 1ste paar maande in ‘n hotel gewoon maar het inmiddels na die ‘apartment’ getrek wat direk agter die hospital gronde is!
Hy spandeer geld asof dit aan bome groei, maar ons salarisse, vir dubbel die werk ,bly dieselfde! Enig-iemand wat werk soek op die genesende vlak Dokters ens moet op die webblad gaan kyk hy soek Drs op baie gebiede! www.SFH/VFM.com of so iets!!!!
Genoeg van werk! Môre is Sondag en dit is my beurt om die orgel te bespeel en ek sien baie daarna uit alhoewel om deel van die gemeente te wees is ook baie spesiaals en ek het verlede Sondag se sang baie geniet!
Ons word ook mildelik met sielskos verkwik en dit is baie spesiaal!
Ons was baie bevoorregt om Lukas , ons kleinseun en sy ouers verlede Sondag op besoek te hê, Hy is ‘n pragtige intelligente seuntjie en het ons baie plesier verskaf! Hy het 2 verjaardae gehad, een met sy Dublin familie en een met sy Oupa en Ouma! Barry het gestraal toe hy duidelik Oupa gesê het! Hy sien ‘n by en roep ‘bumble bee’!
Hy is lief vir diere en wou net naby aan die beeste kom wat in die veld agter die huis loop! Hy het alles op die proef gestel, die gruis in die pad, die daisies op die grasperk en sy vingertjies was groen van pluk ,wou ook natuurlik proe hoe alles smaak en ons moes sy mond gedurig skoon maak!
Hy weet goed dat hy die middelpunt van belangstelling is en buit dit goed uit! Hy loop nognie alleen nie , te ongeduldig, wil vinnig op ‘n plek kom en is baie lief vir vleis!!!! Sê baie woorde en gebruik albei hande ewe gemaklik om dinge te doen!
Daar is soveel vakansie dae wat mekaar opvolg dat dit vir die ekonomie ‘n ellende is! Hier 2 lang naweke namekaar! Die teaters het die dae wat hulle gewerk dubbel getalle deurgejaag!
Verjaardae! Gerda van Hester en Attie, Veels Geluk!!! Mag jou jong jare gevul wees met groot prestasies en vreugdes!
Lee Kruger in Florida! Veels Geluk en ons hoop dat jy die dag terdeë sal geniet!
Christiaan , seun van Chris en Marthie Potgieter word ook ‘n jaar ouer en ‘n jaar wyser, Hoop dat die eksamens wat voor die deur lê goed sal afloop en dat jou toekoms planne goed sal uitwerk!
ENIGE ANDER VERJAARDAG WAT EK NIE GENOEM HET NIE Alles van die beste!
Die wat hulle voorberei vir eksamens- mag dit met julle studies goed gaan!
Aan almal wat aan die herstel is van operasies of wat in die volgende paar dae ‘n prosedure moet ondergaan , ons dink hier aan Brandon, mag dit alles voorspoedig verloop!
Ons groet vanuit ‘n plekkie in die middle van die eiland waar daar 13 mandjies vol gesiggies en helder, vrolike blommetjies aan die mure hang, waar die Rhododendrons in volle blom staan,waar die appel en peer bloeisels, spierwit en pienk, die agterplaas verfraai!
Wees altyd versigtig en onthou om die deure te sluit!
Liefde groete
Barry en Christina

No comments: