Saterdag 28 Mei 2011
Goeie dag allemaal, familie en vriende,
Die maand van Mei het baie vreugde en hartseer gebring.
Die nuwe groei punte van my rose wat oortrek was met knoppe is almal deur die wind verwoes nuwe blare is deur die wind verbrand,soos geskroei, ongelooflik maar ons het winde van 137-144 k/u die afgelope maand oor die eiland gevoel...en dit gaan nog steeds voort. Die son probeer oneindig hard om deur die massas wolke te skyn maar ek dink hy verloor moed teen die middel van die dag en gee maar oor aan die wolke massas wat oor ons tuimel. Dit reën aanmekaar en dit is soos winter, koud en nat. Gelukkig het ons niks winterklere weggepak na die wonderlike dae in April nie. Die weer profete voorspel warm Junie en Julie wat ek eers wil sien en ervaar.
Die mandjies het al ‘n paar maal ter aarde neergedaal, gelukkig nie te erg seer gekry nie maar my hart ruk elke keer.
Die groente tuin het koolplante verloor wat die wind skoon uit die aarde gewaai het, die Duitse spinasie lyk ergter baie goed en ons hoop om vanaand daarvan te eet.
Eers was Koniging Elizabeth II hier en toe die President van VSA en ons was in rep en roer.
Alles het uitstekend verloop behalwe dat die Limosine van die Amerikaners wat oor die pad hobbel vasgehak het en een van die helikopters wat skade opgedoen het in die stormsterk winde en is nog steeds hier in Ierland.
Môre is, soos julle weet, die beste dag van my week. Ek is die orgellis more en omdat ek verlede Sondag geslaap het is ek erg uitgehonger vir geestesvoedsel en samesang.
Ek is ook al reeds sedert Maandag met vakansie en ons gaan môre, na kerk, vir ‘n paar dae weg na die noorde van Ierland en ook Noord Ierland toe. Ons slaap oor, baie naby aan die verste punt van beskawing in Ierland voor Amerika.
Ons is weer Donderdagaand terug want ons beplan om ook Saterdag of Sondag na Finbarr en Amanda toe tegaan om ons kleinseun te besoek.
Dit skeel my min wat by die werk aan gaan want hulle kom goed sonder my klaar en ek sonder hulle. Ek moet erken ek hou baie van my werk en gee gladnie om, om werk toe tegaan nie, dit is vir my baie lekker om mense te sien beter word. Daar is ook ‘n tyd om te rus en dit is nou waar ek my bevind, erg rustig.
Die feit dat die weer onaangenaam is, word nou vergeet en ons gaan die beste van die paar dae maak.
Ek het niemand wat nou verjaar nie maar daar is wel mense wat klaar eksamen geskryf het en ander wat nog vakke moet skryf en ons dink baie spesiaal aan almal. Jeanne Potgieter was in ‘n motor ongeluk maar ons dank die Vader dat niemand erstig beseer is nie en baie jammer dat hulle vakansietjie nou daarmee heen is.
Toni Kelly Smith vertrek na Australie en ons wens haar alles van die beste toe en bly in kontak asseblief.
Voël lewe het gestabiliseer met die mamma voeltjies wat kinders met wurpies voed en swaeltjies wat weer eiertjies lê. Die laaste lot was uit die nes geskop, ons dink hulle was wind eiers.
Die wind het die ‘magpie’ se nes seker 10 meter hoog uit die boom gewaai, dit was baie interesant om te sien hoe die nes gebou was,die basis is seker 20-30 stokkies van omtrent 12’’ lank wat oormekaar geweef word en dan volg die regte nes met modder en gras en watookal saam geknoei en uitgevoer met dons. Dit lyk nie of daar eiers in was nie.
Nou ja behalwe vir die wind en die reen en die koue en geen somer nie, gaan dit goed . Ons is gesond en goed bedeelt met ‘n lagie van vet wat dringend afgewerk moet word maar my knie wil nie meer op die trapmeule loop nie dus moet ons maar op ‘n ander manier probeer. Die beste is natuurlik om jou mond toetehou maar dit is darem baie moeilik.
Alte lekker om briefies uit Kanada en Exeter Kokanje en Roodepoort te kry, geniet dit altyd baie. Die ander mag ook skryf! Sue jou video was pragtig!!!!
Ek groet en skryf D V volgende week as ons terug van osn reisie.
Wees altyd versigtig op die paaie.
Onthou julle eie veiligheid!
Liefde groete
Barry & Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment