11 Junie 2011 Saterdag
Goeie dag allemaal, familie en vriende,
Guns, ek weet nie waar om te begin nie! Goeie dinge eerste. Ons is vandag 34 jr getroud en ons dank ons hemelse Vader vir al sy genade, liefde en seën.
Vanoggend terwyl ek besig was om deur die Psalme te speel hoor ek Barry se dringende roep, met verkeerde bril en al spring ek op en hardloop vir ‘n vale( vorige kere het ek dinge gemis omdat ek te lank draai) en daar sien ek Barry by die agterste heining staan en hy sê ewe streng ‘’ Listen” en jou waarlikwaar daar hoor ek dit ook, die geroep van die Koe-koe. Die eerste keer vir my in die natuur. Dit het in die laaste jare ‘n baie skaars roep geword en net vanoggend met die boere se program het hulle ‘n deskundige aan die woord gehad oor die Koe-koe.
Sy lê mos hul eier in ‘n ander voël se nes en so maak die pleegouers die voëltjie groot. Hulle is laat die jaar ,en daar is maar min koe-koe’s gehoor.
Ook skyn die son met rukke en stote. Vanaf Maandag het dit gereën, aanmekaar, en ons moes weer ons winter wolklere uithaal om nie te verkluim nie. Dit was net soos iemand wat Ierland in ‘n vullissak opgetel het en buite gaan gooi het. Plonk in die koue en nat weer! Wat het van somer geword waaroor ek so gespog het verlede week? – eintlik moet ons nie verbaas wees nie want dit gaan nou so vir die laaste 7½ jaar. Arme Engeland wat nie eers vér van ons af is nie, is nou ‘n droogte geteisterde gebied verklaar, die grond bars van die droogheid veral sekere gedeeltes waar geen reën van noemenswaardige gehalte geval het sedert die lente begin het nie.Ons lees ook op die SA Nuus dat julle daar in SA ook nie ‘n wonderlike winter beleef nie! Jammer julle, maar nou weet julle hoe ons die hele jaar deur voel! Erg afgeskeep.
Ek het ook my eerste aarbei gepluk en gesmul daaraan-dit smaak net anders as die wat jy in die winkel koop seker omdat dit jou eie aarbeie is.
Verjaardae: Elaine Kruger in Linden verjaar môre ek kan haar nog as klein ou dogtertjie onthou. Veels geluk Elaine ,ek het na jul familie fotos gelyk en dit was pragtig.
Anneke, die dokter in PMB verjaar die 15de! Haya jy sal maar ons geluk wensinge moet oordra want ek het haar maar miskien 1x in my lewe gesien. Lekker verjaar Anneke!
Die 16e is dit ons Niggie Retha in Vryheid se beurt. Ons het saam groot geword en word nou vér vanmekaar oud,‘n baie goeie jaar jou toegewens.
Buite floreer die groente tuin, so ook die onkruid. Ek probeer byhou maar dit wil die oorhand neem. Ons het nou al ‘n paar keer van my Duitse spinasie ge-eet ook ‘n paar wortels getoets hulle is nog nie baie groot nie maar suiker soet. Met al die reën het die half-lyf hoogte aartappels omgeval- ons het een uitgetrek omtesien of daar al aartappeltjies is maar heelaas is dit nog te vroeg. Ek ken nie die siklus van aartaapels baie goed nie maar Barry het nou die stingels afgesny,want ons kon hulle nou nie juis opbind nie maar nou is daar geen blommetjies nie,sal hulle nou nog aartappels maak, die wat nou sonder blare en blomme sit?
Die radyse is goed aan die groei-Duitse radyse dié- en hulle is pers, nie rooi soos ons gewoond is nie, sal maar sien wat word.
Ek het uiteindelik die ertjies opgelei en hoop hulle vind nou rigting. Daar is geen pere nie maar 2 appelbome het mooi vrugte aan. Die appel-liefie boompies het honderde vruggies aan en ek sal lekker konfyt kan kook. Die blomkole en so-aan het maar baie swaar gekry met die wind en reën ,ek weet nie of ons enig-iets daarvan sal kan eet nie.
Ek moes al die verbrande takkies van die rose afsny sodat nuwe groei na vore kan kom en dit lyk darem of daar weer iets gaan gebeur, my hart is baie seer oor my rose en ek was so trots op hulle! So gaan dit en ons het geen beheer oor die weer nie,behalwe as jy nou ‘n tonnel het soos Bianca- hoop jou ouers kuier nog lekker! Toni het Melbourne glo plat geloop sonder om te verdwaal. Mooi so! Alles van die beste vir jou daar in die suide so sonder die man en kinders.
My vakansie kom te vinnig tot ‘n einde en ek werk weer Maandagaand. Ek het my reis joernaal klaar en as daar iemand is wat dit wil lees laat maar weet ,ek stuur dit net aan die wat belangstel en tyd het, dit is maklik om op ‘n kaart die pad te volg of dit te Google!
Baie dankie aan almal wat moedige pogings aangewend het om ‘n briefie te skryf, dit word hoog gewaardeer. Die wat gereeld skryf, baie dankie ook aan julle- elke stukkie nuus word hier soos ‘n stofsuier opgeslurp. Nine, jou skrywe van die roete van die Voortrekkers moes baie interesant gewees het en dankie ook dat julle by Mendel en Anke besoek afgelê het. Jou pryse van R900 per nag vir ‘n 2 slaap-hut kom baie ooreen met ons pryse hier vir ‘n dubbel hotelkamer in ‘n 3* hotel. Isabel geniet jou kuier by Joleen en die dae word al minder vir die Eloffs van Exeter vir hul SA’se besoek.
Aan die wat eksamen skryf, Christiaan in Longford wat ek van weet( ek het deur die 1ste Engelse vraestel gelees en sou dit baie geniet het) en Christopher in Garretstown- Alles van die beste.
Môre is soos altyd my beste dag van die week en daar dit my beurt is om die orgel te speel asook ons dankbaarheid dat ons eie predikant terug is- sien ons baie uit na ons samesyn, voeding vir die siel en lof pryssinge.
Wees tog altyd versigtig op die paaie, jul eie veiliheid tuis ook.
Ek groet vanuit Cranleymore waar jy die reën kan sien aankom en gou kan duik, of waar die son helder skyn met heerlike hitte wat stoom op die aarde bring, blou kolle hemel tussen die dik, donker gelaaide wolke( Ons het eendag erge donderweer gehad-was baie eienaardig).
Baie liefde
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment