Sunday, June 26, 2011

Verwarde Somer Groete vanuit Ierland

26 Junie 2011
Sondag
Goeie dag allemaal, familie en viende,
Die weerburo is nie in my boekies nie- hulle het snik hete dag voorspel 20-24°. Nou moet ek erken dat die temperatuur lees wel 20 grade maar dis ‘n aaklige wind wat waai en die wolk bedekking is soos ‘n laag koek, met jam en versiersuiker tussen in- en waar ons veronderstel is om heerlik in die son te sit en warm moet kry sit ons binne want die wind waai jou deurmekaar ,met truie aan onder ‘n kombersie oor die knieë in die middle van somer- ai, ai, ai,.......dissie fêrrie!(pragtige Afrikaans).
Noudat julle weet wat in die lug aangaan sal ek julle op hoogte bring met dinge op ons stukkie aarde.
Die groente tuin is soos ‘n oerwoud-tussen die vuilgoed groei die groente met mening- die spring uitjies is heerlik en die spinasie word weekliks gepluk en voorsien kos aan my en die huislose slakke ‘slugs’ grillerige diertjies wat ‘n slym streep los waar hulle was- was alles maar 4x voor ek dink ek het die blare nou skoon. Die wortels is soet maar effe gekronkel- ons dink dat die gans mis wat ingewerk is nie oral in klein stukkies gebreek het nie en as die wortel nie kan deur nie dan krul dit maar om die obstruksie-gelukkig neem dit niks van die smaak weg nie net die skoonheid van die wortels is geskend! In die blomtuin staan sake effe hartseer-een van my mandjies het iewers ‘n luis siekte opgetel en die hele mandjie se plantjies is by die grond oppervlakte afgevreet- Elke dag sien ek die mandjie huil- gee water maar omdat hulle effe hoog hang is dit nie maklik om te sien wat binne aangaan nie maar uiteindelik het ons die mandjie na benede laat daal en ontdek toe die microluis derduisende van hulle besig om elke plantjie te verwoes. Nou is daar net 12 Mandjies oor-klink baie soos die liedjie van die tien groen botteltjies.
Die rose wat oorgebly het na die brandwonde van die wind lyk mooi en ruik heerlik! Die kappertjies is pragtig en gee pragtig kleur aan al die blombakke- die pronkertjies sal seker in volle blom wees gedurende die week.Tier lelies wat verlede jaar pienk was met wit in die middel is die jaar geel ek kannie verstaan hoe dit kan wees nie maar om te sien is om te glo-dinge hier in die eiland kan verander sonder dat jy gewaarsku word.
Die velde is groen, die bome is swaar belaai met ‘n vrag blare wat vir niks stuit nie- en die water is min- die opgaar dam in Dublin is 30% laer nou as verlede jaar die tyd en nou mag die Dublinners nie meer hulle gras nat gooi nie- dis een ding wat ons nog nooit gedoen het om die gras nat temaak nie! Die arme waterwese en water ingineurs van die eiland weet niks (dis nou my mening) van water bewaring nie – hulle mors water en weet nie wat dit beteken om regte droogte te ervaar nie.
Terug by die werk het sake gevorder, die parkie met ‘n grasperk in die middel is omgeskep in ‘n parkeer area- die hele omtrek van die hopsitaal is uiteindelik klaar geteer. Die fasade van die hospital self is mooi gemaak met hout panele en liggrys geverf,nuwe vensters oral in met wit rame en ek moet erken dit begin al beter lyk,die nonne het nooit enige skoonheidsonderhoud aan die hospitaal geskenk nie en dit het na 40 jaar effe afgetakel voorgekom. Die nuwe scanners is geinstalleer en ons sal eersdaags oop wees vir Ongevalle van 8vm tot 8nm.Omdat dit meestal mediese assuransie gevalle sal wees en mense wat bereid is om kontant te betaal ,behoort ons nie oorlaai te word met dronkaards wat net die nag hulle babbelas wil afslaap nie. ‘n SA radiografis gaan in die X-strale dept werk en een van die kosmetiese sjirurge gaan sy eie kliniek van die hospital hanteer en Harleystreet sal moet spook om die hospital te behou –hulle pasiente gee ons baie ellende en die Nuwe eienaar is moeg vir hulle nonsens
Ons uniforms is nou ‘scrubs’ en ons verteenwoordig nou die reenboog nasies- kleure wissel van maroon tot lig pink met donker blou , vloot blou en lig blou vir die verskillende verpleeg personeel. Ek sal dus van môre-aand in vlootblou geklee wees- sit met ‘n kas vol wit uniforms en donker blou lang broeke wat nou van geen waarde is nie. Dit alles vir vooruitgang. Ongelukkig is die eienaar heelwaarskynlik ‘n uitstekende besigheids man maar van met mense werk het hy geen idée nie- die een huisdokter het opgemerk dat hy’obnoxious and unprofessional’ is in sy optrede teenoor sy werksmense. Ons weet hy hou nie van verpleegsters nie en as hy kon sou ons verruil het vir ape of bobbejane maar dan sal hy teveel moet betaal aan assuransie. Hy het defenetief oë agter sy kop want hy sien alles- die CCTV sal ook in die maand van Julie aangebring word en dan hoop ons hy hoef ons nie meer dop te hou nie –hy kan dan net die films terug draai elke oggend as hy klaar gehardloop het.
Klaar gekla-ek is baie dankbaar dat ek werk het en dit gedurende die nag doen want ek hou nie van ongeskikte mense nie en ek sal sommer ‘n opmerking maak dus bid ek maar hard vir ‘n wag voor my mond en ‘n sward oor my tong!
Al die eksamens is nou agter die rug en nou word daar in spanning gewag vir uitslae en ons hoop van harte dat almal baie goed gedoen het. SA studente en skoolkinders is nou halfpad deur die jaar en die hele wêreld is byna nou met vakansie! Gerlof en Sandra byna op pad
Verjaardae:Karin van Niekerk in Florida Park verjaar saam met Joleen in PMB Dinsdag die 28ste –aan albei van julle Veels Geluk! Mag die jaar groot verrassings inhou.leopold verjaar 30ste- Mooi jaar vir jou toegewens.
Ons was vandag geseën met ‘n uitstekende preek deur ons eie predikant- ons is erg bevoorregt om hier in die katolieke land so ‘n ‘Gereformeerde’Presbyteriaanse predikant te hê. Onglukkig het hulle vandag by die kerk stadiger as stadig gesing en ek het maar opgehou speel want ek was al byna klaar met die Psalm toe hulle iewers in die middel was- wat ‘n fiasco- ek het na die tyd hard met Stephen gepraat –die ou mense volg hom en nie die orrel nie en ‘n begrafnis stoet beweeg vinniger as wat ons gesing het.
Finbarr en Amanda is so besig dat ons klein Lukas lank laas gesien het en moet nog 4 weke wag voor ons hom gaan sien hy sal seker al rond hardloop teen daardie tyd! Hy sê ongelooflik baie woorde wag nou net vir die eerste sinnetjie! Kathleen se 2de is naby en Isabelle net ‘n jaar- ons dink aan jou!
Ek het nou genoeg gesê. Die langste dag is verby en reeds is ons dae korter-dis nou vir die wat wakker is om 4vm soos ek.
Wees tog asb versigtig op die paaie en moenie jul veiliheid vergeet nie!
Baie groete van ons in ‘n totaal verwarde Ierse somer
Barry en Christina

No comments: