Sondag 10 Julie’11
Goeie dag Allemaal, familie en vriende en baie spesiaal aan die nuwe vriende op my pos lys! Marianne en Lizzie!
Gelukkig dat ek vandag kan skryf- die hospital het 3nm gesluit en ek hoef nie vannag te werk nie! More aand is ek weer terug aan diens.
Ek is nou goed wakker en kan met vreugde sé dat die buie, dis nou reën word gereeld afgewissel met wonderlike warm welkom sonskyn! Julle moet verstaan dat temperature in Finland was gister 32! En hoe dit moontlik is weet ek nie maar hier het dit net so 20-22 geraak op sekere plekke en dan skrik hierdie klomp Iere hulle skoon katswink vir die donderweer.
Kyk nou net na die beelde van die ellendes in Belfast- daar is mense wat so hard probeer om vrede in die punt van hierdie eiland te bring maar die afgelope 3 weke het nou gewys dat dit nog lank nie verby is nie- dit is so jammer want toerisme wat so brood nodig is word erg befoeter deur die spul ontevrede onredelike idiote, die Protestante inwoners die keer, wat geen rede will verstaan nie en soos Barry se die toekoms van Noord Ierland se ellendes is nog nie gebore nie. Mense is bang en vrees vir hul lewens- karre is uitgebrand en polisie beseer! Petrolbomme is die wapen van die dag. Gaan oor vlae wat gestryk is in plekke naby kerke en mense word uit hul huise gedryf. Groot massiewe ‘bon fires’ word aan die brand gesteek. Dis oorlog in die Noorde van vooraf!
Hier by ons is die gort gar. Die Feinne Gael party wat nou aan bewind is het met die voor verkiesing veldtog baie beloftes gemaak wat nou totaal in al in die modder vasgeval is- Die Taiseach het ontken dat hy die beloftes gemaak maar hier is ‘big brother’ wat jou dophou en alles hoor en opneem wat jy sê en nou speel hulle sy besoek aan die hospital waar die Ongevalle afd. Van Roscommon Hospitaal more oggend om 8vm toegmaak word, terug en Hy skud die personeel se hande en beloof plegtig dat die behoud van die hospitaal dienste ten alle koste behou sal word. Hy sal nou sy trap moet ken want die valletjie is uit!
Mense is woedend en voel dat vals beloftes was gemaak om die stem van die mense te kry- ons is wel bekend met die metode in SA!
Gedurende die week was ons as SA vroue in Ierland se Midlands bymekaar om koffie te drink en in ons eie taal te praat- dit klink baie soos die gegons van die bye!
Ek het nog 2 SA dames ontmoet en soos altyd is dit altyd baie spesiaal. Daar is nou byna meer SAfrikaners in Die middel van Ierland as in die Vrystaat!
Gister wat seker een van die besigste dae in die lewe van die hospitaal sedert ek daar begin werk bet 7 jaar gelede! Dink julle net in- 26 kindertjies tussen 4-15jr met elk ‘n ouer n ‘n saal met 32 beddens plus 4 volwassenes almal behalwe een se mangels wat verwyder is! Dit was besiger as Heathrow die dag voor Kersfees!
Gelukkig het hulle hierdie keer pasient veiligheid laat seëvier en ons was 2 verpleegsters en ‘n helper met 1 verpleegster wat die man met die grootste operasie ‘ge-special’ het. Teen 1vm was almal aan die slaap en ons kon ‘n kopiie tee drink vir die 1ste keer. Dit het vroeg(04h45) gister oggend begin toe ons reeds 14 pasiente in die saal gehad het van die vorige dag. Hulle moes almal wakker gemaak word ,pyn verligting en antibiotika gegee word, al die mammies se beddens opgemaak word van wie daar aan my kant alleen 7 was , en die saal moes aan die kant wees teen ¼ voor 7 vir die 1ste opnames vir die dag se groot teater lys!
Dit was geen grap nie!
Die ou, MG (die baas) het darem die ordentlikheid gehad om te skakel van England waar hy deel van die naweek met sy gesin deurbring, om te hoor hoe die dag verloop het en of ons dit darem gemaak het! Ongewone gedrag vir hom, maar hy het ook ‘n spesiale operasie dag gehad vir mense met nierstene wat met laser flenters geblaas word en 11 pasiente was in die ander saal waar hierdie prosedure plaas gevind het- masjien en tegnoloog en spesialis oorgebring vna Engeland! Die kadiologie dept maak môre-oggend oop en ek is dankbaar ek werk gedurende die nag!
My tuin: Die groente tuin is in chaos, total oorgroei en onbeheerbaar! Het alles te naby aanmekaar geplant en met die gans mis in die grond het alles dubbel so groot gegroei! Die aartappels is nou in blom en die ons sal die week ertjies kan pluk. Die wortels is heerlik en die spinasie is nou op ‘n einde die duitse pers wortels(kan nou glad nie onthou wat dit genoem word nie)RADYSE is groter as die wortels en nou wonder ek hoe ons dit moet eet? Net opsny in slaai of kan mens die kook?
Die rose is buitegewoon mooi- die muur is pink, pers en bloedrooi en jou oog rus op die wonder van natuur!
My tamatie plant in die voorportaal staan nou 6vt hoog en ons het die 1ste tamaties vanmiddag gepluk!
Ons het kerk gemis want ek het geslaap- groot verlies vir sielskos maar ons sal opmaak met ekstra Bybel studie!
Verjaardae: Die nuwe lede van my adreslys word versoek om verjaardae deurtestuur sodat goeie wense julle kan bereik op jul belangrike dag ook die van kinders. Hier die week stuur ek gelukwensinge aan Esther Kroon Veels Geluk vriendin- mag dit ‘n pragtige jaar vir jou wees! Pauli Eloff in Engeland- ook goeie wense vir jou! Geniet jou besoek aan SA.
Nou ja my nuus is op en as ek die brief wil uitstuur voor die nag my oorval moet ek nou end kry! Gerlof vertrek môre na SA veilige reis en geniet! Baie dankie vir al die lekker lees briefies- dit is so welkom!
Hierdie keer groet ek vanuit Cranleymore waar daar tans geen reën val nie en die son besig is om onder te gaan en waar dit lekker warm was vir die hele dag!
Wees altyd versigtig!
Liefde groete
Barry en Christina
NS : Ons het ook ‘n Nuwe TV gekoop om by tehou met tegnologie want die ou TV sou obsoluut gewees het aan die einde van die jaar! Na groot ellende het ek uiteindelik toe al die Analog kanale ook ingstel gekry!(die digitale kanale was ‘self-tuning’) Daarvoor moet ek gelukwensinge ontvang!( Hoe klap ek myself nou op die rug!)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment