Sondag 24 Julie’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende,
So baie wat ek wou sê, dwars deur die week het ek geheue notas gemaak en noudat ek uiteindelik kans kry om te skryf, sal ek seker die helfte vergeet.
Ek begin by die weer. Die begin van die week het maar trietserig begin. Gister het breë glimlagte, vrolike stemme and veel vreugde gebring- dit was seker een van die beste dae van die somer. Gisteroggend net so na ½ 6 (05h35) toe die son sy kop oor die horizon stoot en die vlammende bal swaar in die lug hang –het ek geweet dat dit sekerlik ‘n pragrige dag sou wees. In die son was die temperatuur tussen 25-27° en in die skadu goed 21!‘n Ligte briesie net om jou te herinner dat ons omring is deur see en hier en daar ‘n wolkie om darem nou nie die eiland te warm te laat word nie. Vandag het ons wakker geword met ligte reën wat die aarde effe afgekoel het en net so naby 1uur vanmiddag maak die son toe weer sy verskyning en ons beleef nog steeds ‘n briljante dag!
Gister was ook ‘n baie spesiale dag. Lukas met sy ouers was op besoek ! Ons het die mannetjie 7 weke laas in lewende lywe gesien en mense is daar lewe in die klein mensie-jy het omtrent ‘n energie drankie nodig om by te hou! Nie ’n oomblik gaan verby waarin hy nie beweeg nie- Ons het goeie oefening gehad, jy moet oë in jou agterkop hê anders is hy die rand af. Hy eet alles op aarde wat organies gegroei is en is bo normaal spraaksaam. Sy woordeskat is ongelooflik van umbrella- tot ice-cream en down there –out en up-down en alles tussen-in! Hy roep sy’Oupa’ so hard dat mense omdraai om te sien wie roep so !.
Ons het besluit om na die Longford se Landbou skou toe te gaan, met die weer so goed en om te sien hoe hy reageer en ons was duidelik verras. Die eerste uur was hy heel gelukkig in die stoot karretjie maar toe word die sit teveel en hy roep luid! Out! Out!. Hy het geen vrees vir die vreemde nie.Hy stap flink met jou vinger in sy hand en hy is baie haastig. Nie ‘n bang haar op sy kop nie- het die skaap ‘n knyp gegee en omtrent elke hond omhels- hy was so ingenome met die ponie dat hy byna gehuil het toe die ruiter moes gaan deelneem. Ek het ‘n soutigheidjie in’n pakkie vir hom gehad en as ek nie gou genoeg een aangee nie roep hy ‘Ouma! Ta! Die ongelooflike ooreenkoms met Finbarr toe hy so oud was is skrikwekkend –dit was asof ons 31 jaar terug gevoer was. Tuis het hy heel party stappies op sy eie gegee tot groot vermaak van ons almal. Ek moet sê ek was effe kapoet teen 8nm toe hulle die hek uitry want ek het net 1 ½ uur geslaap voor die sms deurgekom het dat hulle op pad is.
Die wêreld is pragtig- die bome staan dig met blaar bedekking, die velde groen en die blomme in volle kleur. Die rose is asemberowend mooi! Die groente tuin is ‘n totale oerwoud en ons het maar moes begin uitdun, die broccoli is pragtig aan die groei en die uie kon ‘n prys op die skou gewen het as ek ingeskryf het.
Ons het heel week ons eie aartappels ge-eet- jy voel byna skuldig want dis so lekker! Daar gaan nie baie ertjies oorbly om te pluk nie want elke keer wat ons verby loop word daar eers gestop, ‘n paar gepluk en die peul net daar gepop en en die ertjies ge-eet.
Dit het wild gegaan by die werk- 4 nagte agter my blad vir die afgelope week en die komende week weer 4 nagte- Die eerste week in Augustus is die normale teater lyste afwesig want die Drs is met vakansie behalwe die wat op roep is soos ek wat vir 3 nagte op roep is. Die noodgevalle afdeling is oop en as iemand opgeneem moet word en versorg word sal dit my plig wees die eerste helfte van die week en my vriendin werk die volgende 3 nagte en die ander verpleegster kry Sondag nag! Die ‘skoonlug teater’ word geinstalleer gedurende die week en ons betree dan ‘n nuwe era met heup en knie vervangings asook rug operasies.
Ek het nie vandag die orgel gespeel nie en was bevoorregt om vanuit die kerkbank die psalme en gesange te sing! Die sielsvoeding was ongelooflik goed – ons is so bevoorregt met ‘n predikant wat werklik die boodskap uitstekend kan oordra!
Verjaardae; Eckhart Scholtz. ‘n klein nefie- verjaar vandag. Adelbert, ek wonder of jy die gelukwensinge aan hom kan oordra. Die 26ste verjaar Oubaas en die 31ste Frikkie! Veels geluk aan julle almal!Thilo in Saudi- Happy Birthday!!! For the 27th!
Ek wonder nou net hoe die uie sorteerder daar op die plaas hom toe van sy taak gekwyt het- Hessie laat weet asb! Al die familie wat bymekaar kuier vanuit alle oorde van die wêreld- geniet die samesyn!
Ek het genoeg kwyt geraak en hoop dat almal wat siek is beter voel, en dat die wat siek was nou heeltemaal gesond is! Die wat deur sielswroeginge gaan mag julle die seënende hand van ons Hemelse Vader op julle voel.
Wees tog altyd versigtig!
Baie liefde groete vanuit ‘n warm sonnige Cranleymore
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment