Saterdag 5 November’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende,
Dit is die 2de stralende dag wat ons beleef- dit is briljant! Die son skyn met sy winter hitte, die hemele is wolkloos en daar is geen W I N D nie.
Julle in SA het geen benul wat dit vir ons hier in Ierland beteken nie, julle aanvaar die son as vanselfsprekend en blou hemele is vir julle niks snaaks nie maar hier op die eiland, naaste aan Amerika, waar elke weerstelsel sy draai kom maak- kan ons nie uitgepraat raak van die S O N nie!
Die heerlike weer bring wel koue mee en ons het ons 1ste onderdentlike ryp vanmôre gehad. Dit is ook goed want alles wat ellendes veroorsaak moet weggeweer word anders kry ons allerhandse goggas wat ons bykom meer van binne as van buite. Met temperature tussen 0°- 10 glimlag ons breed!
Ons het gister ook trots ons 1ste drie broccoli koppe gepluk en dit smaak wonderlik - totaal anders as die wat dae in koue kamers lê. Dit is wonderlik om te sien hoe die brusselse spruite groei- met 2 soorte kool geniet ons ook die vorming van die koppe! So vêr sien ons nie die blomkole nie, maar wie weet?! My 2 tamatie plante wat 7vt hoog gegroei het het sy laaste vrugte met groot trots gedra tot die middel van die week – die pot is uitgedra en die ou plante uitgehaal en die grond hernu en nou is daar 20 Irisse in geplant- ‘n verdere 3 bakke het 50 Anemone in. Ons worstel om die tulpe en affodille wat in die warmte begin opkom het te beskerm teen die koue! Ekstra strooi en grond is ingebring en die punte is nou weer toe!
Wonder boven wonder het die appelboom wat deur die ganse opgevreet was weer uitgeloop en ons hoop dat dit wel ‘n goeie boom sal word.
Soos verlede week genoem ons kottuin lyk nog goed , die hanekamme staan nog in volle blom en die dalias is pragtig! Die stokroos kry effe swaar met al die reen maar het nog 3 knoppe aan wat ons hoop ‘n kans sal kry om oop te gaan!
Daar is nog steeds rose wat ongelooflik is vir die tyd van die jaar veral hier waar ons woon,ander plekke blom hulle nog steeds.
Ons kat met die af heup kom so elke 2de aand vir kos en melk. Hy gebruik die poot glad nie en die hele boudspier het geatrofeer- ons het daaraan gedink om die ISPCA in te roep maar weet nie hoe ons hom gevang sal kry nie want hy kom nie elke aand nie en ek weet nie of hulle hom sal opereer nie of liewer uitsit nie- dus ......kyk ons maar of hy self herstel. Blackie die baas van die plaas het siek gelyk verlede Sondag oggend en het eers Donderdag oggend weer opgedaag maar wou nog nie eet nie het net bietjie melk gedrink! Die Jakkalsies is blink vet en gesond- ons sien hulle so nou en dan! Die krimp vrakkie mag dalk nou iewers in ‘n bolletjie lê en hiberneer!
Die voëltjies is vreeslik luidrugtig en sing asof hulle betaal word. Ons was weer by die Plaas verkope plek Gonnacht Gold om te sien of hulle nou al ‘n sak 25kg grondboontjies ingekry het maar nee- nog niks, hulle het belowe dat dit daar sal wees volgende Saterdag!
By die werk gaan dit onder omstandighede seker goed, die man verwag oneindig baie van sy personeel en elkeen werk baie hard- ons SA mense kan soms ge-irriteerd raak wanneer die Iere dinge stadig benader of soms gladnie benader nie en wil dan alles self doen en dit werk ook nie! Jy is die enigeste een wat ly en dit kan hulle niks skeel nie! Dus ‘n mens moet baie gedissiplineerd wees.
Ons is baie dankbaar dat Jeanne haar Werksvisa gekry het – hoop nou alles werk uit vir die beste!
Ons het Woensdag oggend tee gedrink met 2 Vroue wat in die afgelope tyd van SA gearriveer het- en dit was soos Kersfees! Ons het almal persentjies gekry en ek het die vleis speserye en CD’s wat ek voor gevra het ook gekry -Heerlik! Baie dankie Gerda en Cilna!
Ons dink ook baie spesiaal aan die jongmense wat Matriek in SA skryf, Nicole, Stefan, Nico, en jongeres soos Elaine. Aan al die studente in die familie-ook aan die ouer garde wat eksamens skryf soos Thilo in Saudi- Hoop dit gaan goed. Aan almal wat studeer en moet rekenskap gee van hul kennis wens ons net die beste toe!
Verjaardae: Volgens my lysie is dit net die jong getroude dokter en Melbourne was die 8ste verjaar!Sam(Thabo) Veels Geluk en ons hoop dat jy die dag sal geniet! Weereens , enig-iemand anders wat dalk ook verjaar!Arenda verjaar die 9de,Veels Geluk! Vele herdenkings julle toegewens!
Aan almal wat met probleme worstel – onthou die Here weet die beste!
Alhoewel ek vanaand werk en op hierdie stadium ook môre-aand speel ek môre die orgel! Alle Psalme en Gesange goed ge-oefen en ons sien uit daarna om die Woord van God deur Stephen vir ons gepreek en verduidelik te kry!
Op die politieke vlak gaan dit beroerd- ek kan dit nou nie te hard sê nie maar dit blyk dat ons dieselfde regering het as vantevore net met ‘n nuwe naam en nuwe gesigte maar dieselfde beleid!
Hulle wys geen ruggraat nie-en ploeter net aan waar die ander opgehou het! Die ou wat die gebou moet regmaak waar daar honderde mense uitgesit is 2 weke gelede(vir vuur gevaar) is deur die hof van die perseel verwyder want hy kry niks gedoen nie en die mense is raadop!
Dit was vir ons baie erg om te lees van die Tukkie student wat so brutaal aangerand en verkrag is- Haya as julle dalk die mense ken laat maar weet –ons hoop van harte dat sy volkome herstel! Daar is heel party jongmense wat op Tukkies studeer wat haar dalk mag ken! Gerda, Paula-Nine, Helene en Paul. Julle as jongmense moet tog baie versigtig wees in elke opsig!
Ek hoop van harte dat die SASHON kongres in Mpumalanga goed afgeloop het . Wie is nou die Presidente? laat my weet asb!
Ons sien onse Lukas oor 2 weke en ons kan nie wag nie! Hy is ‘n oulike spraaksame mannetjie met so ‘n mooi geaardheid!
Baie dankie vir al die briefies ,dit is tog so lekker om van julle te hoor!
Nou ja, ek roep halt en wil net laaste maar nie die minste vir Cecelia Oosthuizen wat saam met my in die hospitaal as Radiografiste werk, welkom heet op my poslys! Ons leef bymekaar verby want sy werk baie hard in haar afdeling en ek snags!
Wees beraad en versigtig te alle tye!
Met warm sontrale uit ‘n wolklose Cranleymore groet ons
Barry & Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment