Saterdag 26 Nov’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende!
Net in van buite, dit reën katte en honde! Gelukkig het ek nog my ou Lancet reënjak en het die aangetrek voor ons die deur uit is- ek moet geld trek by die gat in die muur en daar is geen afdakkie nie en die groot druppels wat op die dwarsbalk net bo jou kop, water vergader- laat jou papsopnat! Ek lyk soos ‘n regte boef want my kop is toe met die kappie en ek trippel soos ‘n jong perd rond om die water te vermy! Ten spyte van al die water wat op ons uitgegiet word is dit ‘n wonderlike 11° ,ons het niks om oor te kla nie net dat dit soms natter as gewoonlik is!
Die tulpe en affodille staan 4” hoog tenspyte van ekstra grond wat ons oor al die bakke gegooi het. Ons gaan hierdie jaar tulpe vir Kersfees hê! My groot orgidieë het 2 stingels en aan elkeen sit omtrent 12 knoppe – wat ‘n pragtige gesig sal dit nie wees vir Kers nie! Die kleiner orgidië op die vensterbak in die sitkamer het almal omtrent 14 blomme aan ,baie mooi en dit is omtrent al wat goed lyk, die laaste rose is deur die stormsterkte wind skoon van hul stingels afgewaai. Ons bekyk die brusselse spruite elke week en wag nou net vir hulle om groot genoeg te word om te pluk ,die laaste broccolli is vanmôre afgesny en nou is daar nog kool en blomkool wat aan die groei is! Die winter uie staan ook 4” hoog.
Dit lyk of die Rhododendrons ook wil blom – alles is in die war – ons temperature in vergelyking met verlede jaar verskil byna met 10° - dit maak my byna bang want as die koue gaan kom gaan dit nie ‘n mooi ding wees nie,maar ‘n gevaarlike ding!
Ons nagtelike besoekers verskaf ons nog steeds baie plesier, Na die vreeslike geveg tussen Blackie en Professor het lg besluit om ‘n nuwe plekkie te kry waar hy wegkruip en dit het ons nagte geneem om hom raak te sien –sy kleure meng 100% met die agtergrond ,net sy wit baard wat hom die naam Professor gegee het, is sigbaar! Hy kinkepink nog maar is heelwat beter. Die jakkalsies kom nog so nou en dan maar meestal laat nag want hulle is nou volwasse en Woensdag nag het ek ‘n jakkalsie doodgery op die pad, nie ver van die huis gesien nie , mag dalk een van ons s’n wees. Ons het uiteindelik ons 25kg sal grondboontjies by die voer verskaffer gekry asook ‘n 25kg sak wilde voëltjie saad- dit werk baie goedkoper uit en was die voël kinders opgewonde oor hulle winter voeding! Ongelooflik hoe gou die nuus versprei het en sedertdien het ons ‘n magdom voëltjies wat ons besoek! Die ‘magpies’ en die kraaie moet weggehou word en Barry prakseer toe ‘n onderste-bo emmer met gate in en ‘n platformpie waarop die voëltjies kan staan en uit die gaatjies die kos pik! Dit is te klein vir die groot voëls maar goed vir die kleiner soorte!
Die grondbone word in ‘n soort houer met 4 millimeter openinge gegooi en hulle eet dit dan deur die draad!
Op die politiek front staan sake maar aan die swart kant, die begroting is oor 10 dae en ons is al goed die skrik op die lyf geja! Dit is werklik so dat die wat het, nog meer sal hê en die wat min het nog minder. Hier is bestuurders van lands sake en die elektrisiteit bv en nog vele meer wat meer per jaar verdien as ons Eerste Minister. Hulle salarisse was nou bekend gemaak en die parlement het gevra dat hulle vrywillig 15% van hulle salarisse sal laat gaan – sommige het maar ander weier!
Kunstenaars, van watter aard ookal betaal 2% inkomste belasting waar ons wat vir normale salarisse werk 28% tot en met ‘n sekere bedrag en dan word dit 41% maar selfs hulle betaal nie eers die skamele bedrag nie en mense soos Foster & Allen wat wêreld bekend is is nou aangeskryf vir €6miljoen.
Omtrent 5 jaar gelede was Séan Quinn een van Ierland se rykste mense en nou is hy bankkrot verklaar nadat hy met die bank as aansporing homself in die skuld gedompel het deur aandele te koop en nou die bank €3 biljoen skuld toe alles in duie gestort het en ons die arme werker moet nou sy skuld betaal sodat die bank nie ondergaan nie! Onverstaanbaar maar dis nou hoe dit is!
By die werk gaan dit woes, Ons almal werk oneindig hard- die dag personeel miskien selfs harder as ons in die nag maar vir my voel dit asof ek nog nooit in my lewe so hard gewerk het nie! Een oggend het ek al huilende huistoe gery want ek was so moeg en raadop, geestelik uitgeput en liggamlik net nie daartoe instaat om eers my uniform uittetrek nie. Ek was Dinsdag nag alleen , en met ‘n opname net na 19h30 ‘n baie siek man maar ook totaal deurmekaar- heelwaarskynlik uitsaaiinge in die brein want hy het kanker in die longe en kry moeilik om asem te haal sonder suurstof- Hy was vir longontsteking in die County hospitaal opgeneem sowat 4 weke gelede en ‘n week gelede ontslaan en tuis kon hulle nie met hom huis hou nie hy was so deurmekaar en weier om te-eet dat hulle uit moedeloos heidheid en omdat hulle nie ure wou wag in die County om gesien te word nie, die man na ons toegebring het! Ek het 5 ander pasiente gahad wat netso baie aandag geverg het as hy alhoewel nie deurmekaar nie maar tog en ek kon hom vir geen oomblik alleen laat nie en as die klokkie lui moes ek omtrent hardop bid dat hy net vir ‘n paar minute in die bed sou bly Die volgende nag het Dr ‘n inspuiting voorgeskryf en hy het vir 4 ure geslaap maar toe hy daar wakker word het hy die verpleegster omtrent moeite gegee. Gelukkig was ons 2 die volgende aand maar die saal was vol!Almal van ons wat nog goed van gees is dank die Hemelse Vader vir hulle helderheid want om so jou einde tegemoet tegaan is werklik baie moeilik! Hy weet natuurlik nie wat om hom aangaan nie maar vir die wat naaste aan hom is en die wat hom moet versorg is dit sielsdodend. Dit is maar een pasient wat moeilik is ek praat nie eers van die ander nie en soggens om 7vm begin die nuwe dag se opnames en Woensdag oggend was daar 14 wat 7uur opgedaag het! Daar moet tenminste een pasient van elke sjirurg gereed wees om 8vm op die tafel te wees en mense dit vra omgedoen te wees as jy net 1 mens is- hulle het darem een van die dag verplaagsters om ½ 8 laat inkom om te help! Nogtans voel dit vir my asof ek kort voor lank vir uitputting afgeboek gaan word. My Vitamine pille het ook intussen klaar geraak en ek kon met die 3 weke van slegte skofte, kon ek nie by ‘n apteker uitkom om voorraad te kry nie en het die gevolge daarvan duidelik gevoel!
Genoeg gekla! Ons het ‘n wonderlike dag verlede Saterdag met ons kleinseun Lukas en sy ouers deurgebring! Hy is ‘n klein karnallie en baie bekkig! Kry natuurlik al die aandag en floreer daarop!
Môre die beste dag van my week en ek sien so vreeslik uit daarna dat ek dit byna moeilik vind om te wag! Ek is ook op orgel diens en het alle Pslame en Gesange goed geoefen. Môre oefen die kindertjies ook “ Away in a Manger” vir die Kersliedere diens en ons hoop dat die eletrisiteit in die herstelde skoolsaal gekoppel sal wees sodat ons sop en rolletjies kan voorsit inplaas van koek op Sondag 18 Desember! Die predikant is tans besig met ‘n reeks preke uit Matthëus en hy doen dit so wonderbaarlik goed- dat daar ‘n hele nuwe betekenis van wie God werklik is vir ons blootgelê word. Ons is baie bevoorregt om hier in hierdie land waar daar nog soveel heidense dinge gepraktiseer word, die onderrig kan kry!
Nou ja Verjaarsdae! Een van ons SA vriendinne hier in Ierland wat Boerewors en Biltong haar besigheid maak verjaar vandag Veels Geluk Jeanette- hoop jou dag is goed!
Nine Eloff(Arnolda se dogter) verjaar die 29ste en Elmarie die 2de Desember Veels geluk aan julle albei!
Dit is baie lekker om al die briefies te lees die gereelde briewe is wonderlik maar daar is die wat wel effe afskeep!
Meeste van die jonge lui in SA het nou hul eksamen afgehandel en is reeds met verlof! Hoop van harte dat alles goed afgeloop het! Almal wat iewers anders op aarde studeer en nog eksamens moet skryf- alles van die beste vir julle!
Wees tog altyd baie versigtig in al jul doen en late!
Ons groet vanuit ‘n druipnat Cranleymore!
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment