Saterdag 10 Desember’11
Goeie dag allemaal, familie en vriende,
Die winter het gearriveer maar baie sagkens-niks in vergelyking met verlede jaar nie. Woensdagvroeg oggend en sonopkom tyd het hierdie wind wat van orals afgekom het gewaai teen so ‘n hoë spoed dat jy moes vashou anders dra hy jou weg!
Hy het ‘n wilde draai oor ons gemaak en in Scotland die wêreld onderstebo gehad! Ek het almal daar wat sonder elektrisiteit sit baie jammer gekry!Ook al die ellendes wat daarmee saam gaan, huise wat verwoes is en die wilde see!
Gister en vandag skyn die son ewe liefies en daar is net ‘n ligte briesie wat aan jou ore raak,dis koud maar droog ,die nat koue dring deur murg en been!
Temperature wissel tussen -1 tot 4° baie draaglik!
Die gaste van Arnolda moes seker al ge-arriveer het en sal nou effe kan deel in Noordelike halfrond se weersomstandighede- hoop van harte dat julle verblyf in Kanada ‘n groot belewenis sal wees!
Ek het ook nou een van hierdie deftige selfone wat alles kan doen maar dis eintlik ‘n fiasko want jy wou nog dan het dit al –en totaal iets anders as wat jy wou! Dit gaan al beter maar soms gebeur dinge wat jy nie op voorbereid was nie soos die oggend wat ek perongeluk oor ‘n verkeerde plekkie gehuiwer het en ek hoor hoe Finbarr se voicemail antwoord en ek kry die ding nie afgeskakel nie! Verder kan ek nou my hotmail en gmail pos oor die foon lees- om terug teantwoord word snelskrif en baie onpersoonlik want leestekens en gesiggies is min!
Die Europese Euro ellendes eet ons op en nou staan Engeland daar vér, alleen op ‘n eiland want hulle dink anders en doen anders en ons ploeter maar aan. Na die begroting wat oor 2 dae heen gestrek het was daar baie ongelukkigheid op die Ierse Eiland ten spyte van die feit dat hulle geweet het wat gaan kom want alles het uitgelek lank voor dié belangrike dae! Ons het wel besef dat die mense van Ierland op Welsyn pakkies leef. Daar is ‘n pakkie vir alles, veral vir mense wat kinders het maak nie saak of jou salaris 6 figure het nie en of jy jou morsdood werk en 1000€ minder huistoe bring as toe die Celtic Tier aan bewind was nie- jy kry ‘n pakkie vir elke kind, net ondat jy die kind het, en dan nog ‘n pakkie omdat die kind moet skoene dra,en ‘n ander omdat die kind moet skool toe gaan en so gaan dit aan. ‘n Ander pakkie vir brandstof- nie vir jou kar nie maar vir die huis, vir jou elektrisiteits rekening vir jou telefoon rekening vir die apteek en dit gaan aan en aan –ek weet daar is mense wat dit baie nodig het en hulle is die wat met groot liefde kan kry maar daar is ander wat 4 karre het wat in ‘n huis bly met 14 kamers en wie se salarisse vér hoër is as wat iemand kan droom en hulle kry dieslefde pakkies. Aan die naderkant kry die persoon wat inisiatief toon en sy eie besigheid op die been bring en hom ten gronde werk om ‘n lewe te maak , nie ‘n sent van die bank nie- dit word in prinsipe geweier en as die persoon wat 10-15 mense werk gegee het ondergaan kry hy absoluut niks van die welsyn nie want hy het vir homself gewerk en dit is tot daarnatoe! Hierdie persoon, met ‘n huis verband om te betaal en alles wat daarmee saam gaan, sit skielik in die grootste knyp en daar is geen pakkie vir hom nie! Ek kan dit nie begryp nie! Die mense van Nigerieë en ander Afrika lande wat onder die Asylum Act hier woon kry alles-’n huis, kar, brandstof toelaag, kinder toelaag en nog veel meer en hulle doen niks!
Nou het het ek klaar gal gebraak!
Ons is in diepe dankbaarheid hier want ek het ‘n goeie werk, kry ‘n salaris en kan leef sonder om te wonder waar môre se kos vandaan gaan kom.
Ons innige simpatie met Esther en haar familie wat haar moeder gedurende die week verloor het. Ons dink aan julle! En vra die Here vir vertroosting.
Welkom terug ook aan Marthie wat net terug is van SA waar sy haar moeder verloor het. Julle word almal aan die Here opgedra.!
Ons dink ook Laurel se dogter wat ‘n ongeluk gehad het ,feite onbekend aan my, maar sy is oor ‘n balkon gestoot,
Ons hoop en bid Laurel dat Nicole sal herstel van wat sy ook al oorgekom het.
Veels Geluk aan Brandon wat goed gepresteer het en onder baie slegte omstandighede tog na die volgende ?standard gaan- Nanette ons is saam met jou dankbaar vir die goeie nuus! Ook dat dit geestelik beter gaan! Geluk aan Devlin wat goed gepresteer het Jaco en klein Gerhard- Ouma Isabel het bietjie gespog en ons is saam bly veral as dit kom by Wiskunde pryse!
Al die kinders wat nou matriek geskryf het, is nou skielik jongmense en ‘n nuwe lewe staar julle in die gesig –so baie dinge omte doen so baie omte ervaar- as julle maar onthou as motto” As ek Jesus nie saam kan nooi nie dan gaan ek nie!” Die hele wêreld is in bedryging van alkohol en allerhande drugs wat brein skade kan veroorsaak en die ellendes wat daarmee saam gaan sien ons daagliks- hier ‘n pa wat sy 4 dogters vanaf hul 5de jaar aangerand het en hulle ma het hom aangemoedig – hy sit nou vir die res van sy lewe in die tronk maar die kinders het die letsels!Die ma is vir 8 jaar tronk toegestuur!
Klaar gepreek!
Môre is my beste dag van die week en ek sit in die kerkbank môre en kan sing! Tot eer en verheerliking van ons Grote God!
Verjaardae- niks aangeteken in my boekie vir die komende week nie maar sou daar wel iemand ‘n verjaardag of herdenking wees- Veels Geluk!
Ons groente tuin is nou byna leeg- ons het die kool koppe gepluk en verorber! Die brusselse spruite kom volgende aan die beurt! Die arme bol plante het almal uitgeloop en staan ten minste 4” hoog en ons hoop hulle oorleef die nagte wat daar ryp gaan kom! Die nuwe uitloopsels van die rose oorleef nog so vér.
Professor ons besoekende kat het ons nou 3 weke laas gesien en ons vermoed dat hy dood is . Die swart kat Blackie wat ook in die skuur op die strooi slaap, dink dié is die beste katte hotel op aarde! Hy arriveer soms vroeg in die oggend of saans sit hy op die vensterbank en wag geduldig vir sy kos en melk! Die jakkalsies kry ons so nou en dan ‘n kykie van maar julle kom nou laat nag! Ons het behoorlik 100e voëltjies op besoek! Hulle kry grondboontjies ,wilde voëlsaad en ook droë hawermout om te eet! Met die kinders gaan dit goed, het vanmôre vinnig ge-Skype en het ons Lukas gesien- hy is te pragtig! Kathleen en Tim moet hulle hande vol hê met 2 kleintjies!
Hy is gaande oor sy Oupa!
Nou ja dis Kerstyd en ons stuur geen kaarte uit nie – en sal nader aan die dag ons goeie wense via die epos oordra! Baie dankie vir die kaarte wat reeds ge-arriveer het! Baie dankie vir die lieflike fotos Gerhardus ons geniet jou Duisburg besoek netsoveel as jy! Hoop jy neem mooi fotos van Holland oor die naweek! Baie dankie Arnolda vir fotos albums – het dit baie geneit! Baie dankie ook vir al die briefies- soos altyd word hulle met groot apteit verslint. Cilna ek hoop julle het veilig gereis! En dat Gert ‘n bietjie sal rus voor hy daar weer begin werk! Dit was wonderlik om julle albei te kon sien al was dit net ‘n paar minute!
Wees baie versigtig en hou veiligheid in gedagte met alles wat julle doen! Op die paaie, by die huis en in die winkels!
Ons groet vanuit Cranleymore waar die son vanoggend om 10 voor 9 sy verskyning gemaak het en nou effe agter ‘n wolkie rus! Saans net na 4nm verdwyn hy agter die horison, dit is helder lig buite snags want die maan gee baie weerkaatste lig terug en ons kan alles duidelik buite sien - anders is dit erg donker!
Ook is daar nog net ‘n paar dae oor en dan draai die wêreld in ons guns! Sons gewys!
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment