Saturday, January 14, 2012

groete vanuit 'n sonnige dag in Januarie in Cranleymore

14 January Saterdag

Goeie dag alle maal, familie en vriende,
Die son skyn heerlik en dit is effe koud in vergelyking met die laaste paar weke wat ons byna somer temperature gehad het. Dit was nodig dat dit koud geword het want die winter ‘vomiting bug’ het hier bloots rond gehol en almal was siek,hospitale het besoektye verbied ens., maar hopelik sal dit nou beter gaan – ons het 2 nagte gelede effe ryp gehad –die eerste in omtrent 6 weke. Vandag is dit 5 °.
Ons het die jaar paar sukkelend begin, Verlede Vrydag het ek ‘n afspraak met die SA vriendinne gehad en ons het ook ‘n skoonheidsprodukte dame gehad wat dinge ten toon gestel het en ons kon koop en bestel .
Net na ontbyt sê Barry vir my hy het snaakse golwe voor sy oë- neem dadelik sy bloeddruk, die is normaal en hy het nie hoofpyn of enige ander simptome nie, vra toe of dit goed is as ek die oggend nie daar sal wees nie, hy beloof om niks drasties soos hout kap- dis nou groot blokke- te doen nie net die klein houtjies wat vir die begin van die vuur gebruik word. Ek is hier weg- kom netso na 1nm terug en gewoonlik wag hy vir my as dit nie by die hek is nie dan sit hy by die venster. Hy is egter nêrens te sien nie ek maak die hek toe en toe ek inkom roep ek- geen antwoord nie- en dadelik weet ek daar is fout want hy is nie buite nie maar waar sou hy wees? Kry hom in die bed- so siek het ek hom nog nooit gesien nie met die vreeslikste hoofpyn wat hy ooit in sy lewe gehad het en braking daarmee saam – hy is so swak hy kan skaars by die badkamer kom as hy naar word, eers wil hy nie hê ek moet die Dr bel nie maar nadat hy 6x gebraak het en sy oë agter in die kaste sit lui ek en ja, hy sal huis toe kom! 1/2 uur later is hy hier en bevestig my ergste vermoede dat dit dalk ‘n brein bloeding kon wees- Barry weier om met die ambulans te gaan en ek neem hom per motor ongevalle toe. Met ‘n brief van jou GP word jy gou gesien en buitendien word enige iemand met hoofpyn of borspyn dadelik gesien deur die ‘Triage Nurse ‘ en sy beveel dan aan wie die siekste is en eerste gesien moet word –so word Barry toe byna dadeliik gesien en almal dink dis ‘n brein bloeding want al die ander tekens is teenwoordig- na 6 ure van alle moontlike ondersoeke en hy intussen goed gespuit met anti naar en pyn medikasie begin beter voel en wil net huis toe maar Drs maak hom bly en laat nag is die resultaat van die CT Scan uit- sovêr skoon maar hulle wag op die offisiële verslag van die radioloog want hulle mog dalk iets gemis het- die volgende oggend toe die skool van dokters rondte doen is sy kardioloog aan die hoof van die span en herken hom dadelik van 2 jaar gelede en hy kry ekstra aandag! Nog ‘n baie nuwe spesiale bloedtoets word nog gedoen en as die normaal is hoef hulle nie lumbale punksie te doen nie en hy kan huis toe gaan. 4nm kry hy die OK en ons is weg – ek het nou nie juis kon slaap die vorige nag nie want my gedagtes was maar heeltyd by Barry en ek was weer by hom toe die deure oop maak! Maar my skof van 5 nagte lê voor die deur en nadat ek seker gemaak het hy is gemaklik en die foon langs hom is ek weg werk toe . Dit was ‘n wilde nag en ek het my ‘n ongeluk gewerk met net helper en 14 pasiënte- ek was byna dood, kom tuis en vind Barry met bietjie meer kleur in sy gesig en ‘n glimlag en ek voel sommer beter. Hulle het gesê hy moet ‘n gloukoom toets kry wat ek sal reël. Intussen gaan my nagte voort en Woensdagoggend vroeg bring ek ‘n Parkinsons pasient wat skeef terug geval het op die bed reguit en hoor iets skeur in my skouer en die pyn laat my sommer bewe- daar is nie tyd om te stop nie en ek werk klaar- Tuis drink ek 2 panados en slaap- beweeg niks, dus die skouer rus en voel nie te erg nie, Woensdag nag was erg 22 pasiente en 2 verpleegsters en geen helper – soos die nag ouer word so word my skouer seerder totdat ek dit nie meer kon beweeg nie- . laat die huis dokter kyk en sê ongevalle toe- maar ek werk eers die nag klaar en Donderdag sien ek die Dr in ongevalle – X strale wys dat die die skouer nie sit waar hy moet nie - ? die tendons wat die skouer knop aan die sleutelbeen vas heg het geskeur- Nou is ek ook ‘n ongevalle- tuis en sal Dinsdag MRI scan kry om te sien hoe erg die skade is!
Die arm is nou in ‘n slinger en dit bring groot verligting!
Genoeg van ons ellendes - ons is net baie dankbaar dat Barry nie ‘n brein bloeding gehad het nie maar ? virus infeksie- hulle sluit ‘n migrane uit- dag later arriveer ‘n brief wat afspraak gee vir Barry om die kardioloog te sien dus hy is in goeie hande!
Op die politieke front gaan dit vrot verby die nuwe regering is 100x slegter as die een wat uit gestem is en ons val verder en verder in die moeras in- besighede maak toe elke dag 200-500 mense wat werkloos word en die getal van welsyns betalings gaan op! Hulle ploeter in die modder rond en het geen idee wat aangaan nie! Die Minister van gesondheid maak een glips na die ander en het geen idee wat hy doen nie en die onderwys minister het al die studente in die harnas ingejaag. ...en so gaan dit aan! Die ergste van alles is dat die wat die ellende veroorsaak nog skot vry rond karjakker!
Terug by die goeie en mooie! Groot was my blydskap toe Barry laat weet dat lang verlore Professor die vorige nag sy verskyning gemaak het- en hy is spek vet – hy en die klein – nou groot jakkalsies leef in simbiose saam- dus eet hy saam met hulle en dit is gewoonlik laat nag- tot Barry ander aand net na 10 nm die buite lig aanskskel om tesien of die jakkalsies alles opge-eet het en daar is professor hard besig om saam met hulle aan alles te smul- Ons het hom laat gisteraand weer gesien – dit was wonderlik en ek is so bly- het regtig gedink hy is dood – intussen het hy maar net sy tye verander en saam met sy vriende kom eet -laat nag! Blackie is nog steeds die baas op die plaas en kom sit op die vensterbank en mieau! Honderde voeltjies eet hier by ons en die voëlgesang is soos ‘n vroeg oggend danklied vol dankbaarheid- as ek soggens stop bly ek eers ‘n oomblik sit en luister na die pragtige sang!
Die affodille sal seker in so 7 dae oop wees en die kroukusse is reeds oop! Alles is baie vroeg vanwee die vreemde weer.
Môre is die beste dag van die week vir my en dit sal in groot dankbaarheid wees dat ons kerk toe gaan!
Verjaardae het by my verby gegaan want ek het gewerk en nie naby die komper gekom nie. Maandag het Corli van Elmarie en Frikkie verjaar- ek hoop dat dit ‘n pragtige dag vir haar was en dat alles goed afgeloop het met die verjaardag!
Marie-Janke , die student wat verlief is op die Duitser verjaar eerkomende Maandag en my kerk vriendin in Florida Park- Dorothy, verjaar Dinsdag – ek hoop dat jy ‘n gesonder jaar sal hê! Veels geluk aan almal! As ek iemand uitgelaat het – Verjaar lekker!
Almal wat in Kanada gekuier het is nou tuis en ons verneem van Hessie dat dit ‘n goeie vakansie was! Hoop om ook van die ander te hoor! Joy gaan neiw zeeland toe vir ‘n par weke – Geniet dit Joy en stuur groete aan Bekendes!
Ons klein mannetjie Lukas herhaal alles wat sy ouers sê en vanmôre praat ek met hom oor die foon en skielik is hy stil en Finbarr sê in die agtergrond- hy praat aanmekaar en skielik ‘shut up’ hy en skielik klip hard oor die foon sê hy vir my ”shut-up” dit was baie snaaks- maar hy wil net met sy Oupa praat ek is nou nie eintlik belangrik nie!
Verder lees ons maar van die gruwel dade orals – hier en in SA dinge is besig erg verkeerd te loop in die wêreld. Hoop ook dat Werner goed aansterk tuis en sal graag wil hoor hoe dit gaan!
Nou ja, ek groet en glo dat julle veiligheid as prioriteit op jul lysie het!
Ry versigtig en Gerhardus in Dallas geniet die Rodeo vertoning vanaand!
Liefde groete vanuit ‘n sonnige maar koue Cranleymore

Barry & Christina

No comments: