Saturday, January 28, 2012

Groete vanuit 'n yskoue wintersdag in Cranleymore

Saterdag 28 Jan’12

Goeie dag allemaal, familie en vriende!
...en toe kom die winter 3 dae voor ons amptelike LENTE!
Die ryp het wit gelê vanmôre en my pragtige affodille waarop ek so trots was lê plat op die aarde stokstyf gevries, nie wetende wat die dag inhou nie het ek die koue getrotseer en hulle gaan afpluk, nou het ek ‘n pragtige bossie affodille in my kombuis! 0° sê die barometer en dit is nat en bitter koud! Die son wat die afgelope paar dae so manjefiek die bloue hemele verwarm het is weg- skoon veld! Die sterre hemel gisteraand was oorstelpend mooi, al was dit deksels koud kon ons dit nie weerstaan om dit te bewonder nie. Die 1ste kwartier van die maan met Venus en Jupiter half skuins bo so 11 uur se kant en die ander teen 4uur. Ek wou ‘n foto neem maar kon nie lank genoeg my hande stil hou nie want die sluiter moes baie stadig toemaak en ek het niks om die kamera op te stabiliseer nie. Wat ‘n jammerte!
Ons het 2 weke gelede ‘n pragtige program vanuit Engeland gehad “ Star Gazing” met al die wetenskaplikes oral betrokke ook die planetorium? in Sutherland in die Karoo. Wat is die skepping een groot wonder!
Terug op aarde beleef ons ‘n erge onstabiele finansiële tydperk- alles is in die war- ons man in beheer betaal aan onbekende ‘Bond holders’ ‘n magtige groot som van biljoene oor gedurende die week en hy kan nie sê wie die ‘bond holders’ is nie! By die Switzerse byeenkoms van finansiers maak hy toe ‘n allamintige groot blaps en sê dat die resessie in Ierland veroorsaak is deur Iere wat ‘mal’ geword het en bo-hulle vemoeëns geleen en spandeer het en vergeet totaal en al van die paar wat dit gedoen het en nog steeds vry rond karjakker- die mense is woedned- Sy dae is getel dis verseker. Die een belasting na die ander word ingestel en soos julle sekerlik nou reeds weet ons – die Dunnes van Cranleymore gaan nie die inspeksie gelde vir die septiese tenk betaal nie en ook nie die inspekteur toelaat om intekom nie en al moet ons tronk toe dan moet dit maar ,maar ons het nie €12,000 om ‘n nuwe EU gespesifiseerde tenk te laat insit nie- dus hou die koerante dop!
Ek sal op my eie ‘n water monster neem van die fontein wat naby die septiese tenk is en kyk of daar enige goggas in woon!. Die boere se slurrie wat op die lande gesprei word en deur die reën in die riviere en mere instroom is veel meer nadelig as ‘n goed gekontroleerde septiese tenk.
Hulle het ook aangekondig dat afhangende van wanneer jy begin werk het, die staats pensioen nou met 25% en 50% gesnoei word en dit tree die 23 ste April in werking vandaar dat duisende mense die gesondheids beroep en onderwys en ander staats instansies einde Februarie verlaat –sodat hulle nog darem 98% van hul inbetaalde PRSA kan verhaal! Dinge lyk beroert! Terwyl ek werk is alles nog goed maar my aftree datum skuif stadig nader en wie weet wat die toekoms inhou!
Ons wilde wesentjies wat saans besoek aflê lyk baie gesond, Professor moet maar versigtig wees want meneer Blackie hou die tuin deeglik dop en ek wonder of hy aan iemand behoort en of hy maar oral rondgaan en kos kry. Hy eet die droë kos net as hy sterf van die hongerte, anders sit hy en miaeu vir iets lekkerder. Die magdom voëltjies bring ons groot plesier – nog ‘n pragtige program wat ons van Engeland kan sien is “ Earth Flight” ons het reeds ‘n goeie paar draaie in SA gegooi op die rug van ‘n arend of ‘n kraan voël selfs flaminke. Baie besonders.
Die dae van gesteelde TV gaan in Okt aan ‘n einde kom wanneer Engeland en Ierland -ek weet nie van die ander Europese lande nie, digitale TV sal hê en dan is ‘n lugdraad van nul en gener waarde! As ek nie nou gou plan maak nie sal ons die mooi programme verloor! Skye en derglike opsies sal moet ondersoek word.
Nou ja ek weet van studente wat hul eerste Universiteits jaar gaan begin en ons hoop van harte dat dit vir hulle ‘n groot belewenis sal wees en dat hulle die regte rigting gekies het, ander is al reeds besig om hul voorteberei vir hule eindeksamenn hier in die noordelike halfrond . Kleiner kindertjies het reeds nou ‘n week of 2 groot skool toegegaan ek weet van 2- Dimitrij en Leané. Ek het wel fotos van Dimitrij ontvang maar niks van Leané nie.
Verjaardae : Reuben verjaar 29 Jan, Veels Geluk met jou verjaardag!
Sharon ons niggie in Cork verjaar die 30ste. Happy Birthday!
Dit is ook met groot heimwee dat ons die afsterwe van my 2 broers Paul en Gerhard onthou op die 30ste in 2004.
Tjaart verjaar die 1ste Feb en Nine in Kokanje die 5de
Veels geluk!
Môre is die beste dag van my week en aangesien ek môre in die kerkbank sal sit kan ek hartlik saam sing! Ons het ‘n besoekende prediker en hoop hy praat duidelik sodat almal hom kan hoor aangesien die meerderheid van die gemeente reeds effe hardhorend is!
Barry het reeds die vuur aan die gang en dit is heerlik warm hier langs my. Daar is ‘n verwarmer aan my linker kant waar ek sit en tik!
Baie dankie aan al die skrywers van briefies met goeie wense vir herstel en ja ons is baie dankbaar dat die skouer spesialis besluit het dat die skeur in so ‘n plek sit dat dit wel kan genees met rus en fisio. Dus ek is tuis op die plek rus en het reeds my 1ste fisio behandeling gehad wat my duidelik laat besef het dat ek iets groots seergemaak het. Ek moet erken dat dit elke dag beter gaan en nou dat ek die arm mag gebruik voel dit altreeds baie beter. Ook baie bly om te hoor dat Werner die 2de bahandeling veel beter hanteer! Alle beterskap vir jou Neef!
Ons het ‘n berg hier “ The Wicklow Mountain” en in die berg is baie mense wat vermoor is, begrawe in vlak of dieper grafte- hier is bitter min respek vir mense lewens- byna elke week vind hulle die gebeendere van ‘n vermoorde! Dit is meestal iemand wat deur ‘n donkaard of drug gebruiker opgelaai en vermoor is of omdat hulle geld skuld vir die drugs! Hier is dit nie ‘n “NO_NO” om deur iemand opgelaai te word nie- en tenspyte van soveel moorde word daar nooit gewaarsku dat jong meisies nie in ‘n kar van ‘n vreemde moet klim nie maar die ellende is dat in soveel gevalle is dit iemand wat hulle wel ken! Hulle dink ook niks daarvan om laatnag in die straat te loop en duim te gooi nie! Onverstaanbaar!
Vir ‘n klein landjie is die getal moorde ontstellend hoog!
Nou ja ons tel ons seënige daagliks en leef in groot dankbaarheid vir ons veiligheid!
Ons groet vanuit ‘n yskoue winters dag in Cranleymore
Onthou die gek om die hoek en jul eie veiligheid!
Liefde groete
Barry en Christina

No comments: