Saturday, June 9, 2012
Groete van ons in Cranleymore
Saterdag 9 Junie’12
Goeie dag aan die wat wel die briewe lees! Hoop dit gaan goed met julle!
Die son skyn vandag eintlik sedert 12 uur , vroeg vanmore was die wolke laag nog maar dikkerig. Twee dae van reen, aanhoudend –dit het nooit gestop nie dag en nag oor ‘n 100mm het geval. Ons was vinnig op pad om ‘n ark te bou toe die weer stelsel ‘n bietjie genade toelaat!
Ons was vinnig vir 2 dae Galway toe en ons mannewalisse is opgeteken op my blog. Ek kan nie verstaan hoe sommige die bald kan oop maak en ander nie! Hier volg dit weer.
www.blogspot.com Alledaagse lewe in ‘n vreemde land. – of
www.tawwetienie.blogspot.com
Ek het dit in Engels geskryf dan kan al my vriende en familie dit lees.
In ons afwesigheid het die slakke oorgeneem en al my Afrikaner regops is opge-eet, die boonste punte van my dalias is opgevreet en 2 bosse wortels is weg lyk of iemand hulle met ‘n sker geknip het. Ons luister en probeer alle rade maar hulle kom snags wanneer ons rustig in ons beddens is en eet hulle lywe vol. Die reen weer maak dit natuurlik nog erger.
Die druiwestok lyk nog goed en my 8 trosse druiwe hang nog, hulle is nog in die wonder stadium en met geen son nie het daar ook geen groei plaas gevind die afgelope week nie.
Sommige rose het bietjie swaar gekry met die reen en ander lyk te pragtig! Die Clematis plante teen die voorste muur is oorweldigend mooi! Die blomme is so groot soos klein bordjies!
Die kleur skema sou goed by die Koningin van England gepas het want dit is alles rooi, wit en byna pers blou!
My tamatie plante staan goed regop en groei mooi op die voor stoepie saam met my appel bome en ook my spanspek pitte wat opgekom het!
Ek het die skorsie pitte direk in die tuin geplant en hoop vir die beste! Die aartappels staan in blom , die ertjies kom mooi aan en die uie is yslik groot!
My 2 weke verlof is byna verby en ek werk weer Woensdagnag.
Ten spyte van die reen het ek heirdie 2 weke baie beniet! Ons het baie verrig gekry en ook dinge gedoen wat ons van hou!.
Môre kom die kinders om saam met ons ons 35ste troudag te herdenk, die 11de. Kannie wag vir die kleinkind nie hy is glo baie bekkig en een of ander dag verlede week het die agterdeur toegeslaan met hom buite in die tuin en hy kon die deur wat gesluit het nie oop kry nie en hy sien sy ma bo in die slaapkamer en skree klip hard. ‘Amanda- open the bloody door!’ Hy het so hard geskree dat dit bure hom kon hoor – nou weet julle kinders hoor dinge wat jy nie van weet nie –dus wees versigtig wat julle se voor die kleintjies. Hulle gebruik nooit lelike taal nie maar tog het hy dit iewers gehoor!
Die kerk het hulle 2 jaarlikse braaivleis die 23ste en dit is ons beurt om as gasheer optetree.
Ietwat later.
Ek sit nog so en skryf toe hoor ek die gras masjien en vlieg toe uit soos ‘n pyl in ‘n boog!
Ek is terug goeie 3 ure later. Die gras moes na regte baie natter gewees het maar dit het heel glad verloop. Ons het oral gesny-ons is nou Barry en ek alternatief. Elkeen kry 2 rondtes en op die manier word nie een doodmoeg nie en Barry kry kans om asem te skep tussen-in. Hy gaan vir sy opvolg stress toets 2 Julie en ek vrees wat dit gaan wys want hy raak vinnig kort asem as hy dinge doen. Gate grawe en te vinnig agter die vlieg masjien aanloop. Het van te vore genoem die nuwe grassnyer is voorwiel aangedrewe en jy moet loop ken om by te hou!.
Ewentewel. Dit lyk nou weer pragtig buite- ons het ook in die groot pad gesny wat die kothuisie tog ‘n beter aansig gee.
Die son skyn nog steeds heerlik maar iewers moet ‘n mens ‘n streep trek en ek moes inkom om kos te maak en ook om die brief klaar te skryf!
Ons predikant is nog steeds nie wel nie en dis elke Sondag ‘n verrassing ,wie die prediker is. Joy en ek is in beheer van musiek en ons sing maar meeste goed bekende Psalme en Gesange want ons voorsinger( dis nou ons eie predikant) wat goed kan sing is nie daar nie ek kan wel die eerste versie lekker saam sing maar as ek nie al die versies uit my kop ken nie kan ek nie op 2 plekke tegerlykertyd kyk nie!
Ons is dankbaar dat daar wel elke Sondag iemand is wat ons sielskos bring.
Verjaardae. Sonja Kruger se dogter Elaine verjaar die 11de, Anneke, die dokter en dogter van Haya en Cobus verjaar 15e en my Nig Retha in Vryheid, die 16de! Net die beste wense vir die jaar wat voorlê aan julle almal. Die moontlikheid dat ek iemand uitgelaat het is groot en ook aan diegene dan- Lekker verjaar!
Hier gaan dit op die politieke front maar vrot. Ons het nou wel ‘Ja’ gestem- Nie ons nie maar die land vir die ‘Stability Treaty’ en ek dink dat die klomp gedink het dat Angela Merkel ons meer gunstig sou aankyk en toe gee sy ‘n goeie blaf en laat blyk dat sy glad nie van plan is om ons skuld makliker te maak nie!
Een van die onafhanklike kandidate –‘n ‘Property Developer’- skuld Miljoene aan die belasting vergaarder en hy het sommer so bietjie tussen in ook gejok maar het erken hy het gejok en dink nou dit maak hom nie meer so skuldig as wanneer hy stil sou bly nie. Hy het lang wit hare dra ‘n oorbel of twee en het T hempde of pink hemde sonder das aan in die parlement! Ongure karakter maar die mense het hom verkies en daar sit hy! Kroek en al.
Hier mag jy tot 6maande tronkstraf gehad het en nog in die parliment sit- anderster soort plek die!
Rugby en SA wen teenoor Engeland en Ierland verloor teen Nieu Zealand.In Poolland is die voetbal aan die gang en dit sal seker tot oorlopenstoe in ons kele afgedruk word vir die volgende paar weke. Ierland speel môre middag laat en die hele Ierland sal tot stilstand kom behalwe hier in Cranleymore waar ons rustig ons gang sal gaan!.
Ons besoekende diere en voëls is ‘n groot plesier. Sedert ons weer die voëls begin voer het het hier seker 100 meer voëltjies opgedaag, as sonder die kos.
Die kat Blackie het maer geword en sy jas skyn rooi deur- ons gee hom droë katkos maar hy verkies iets anders, Barry dink hy baljaar maar net teveel!
Professor die ander kat het ons ‘n goeie 2 mnde nie gesien nie- dit betekn nie dat hy weg of iets oorgekom het soos wat ek elke keer dink nie maar hy kom eet saam met die Jakkalsies en dit is te laat vir ons- die klein jakkalsies was nie gisteraand hier nie want die reën was erg en ons vermoed hulle het in hul skuilplek gebly vir die nag!
Ons dink aan almal wat nie wel is nie en spesiaal aan Devlin wat ‘n besering aan sy oog gekry het – Ons bid dat daar volkome herstel sal plaas vind. Ek het baie lanklaas van Arnolda gehoor- miskien is ek van haar poslys af. Stuur maar groete vir haar – as iemand met haar praat. Die ander niggies en nefies laat darem so elke nou en dan iets hoor. Gerlof en die kleinkinders se stories is pragtig en netnou maar is al sy kinders uit die huis.
Marthie se twee kinders gaan ook terug SA toe en ons bid hulle alles van die beste toe met hul planne en dink ook spesiaal aan Marthie wat een van die dae kindloos gaan wees gelukkig hou ander dinge haar besig-!
My nuus is op en ons glo dat dit met julle goed sal gaan in die koue wat voorlê- ons weet alles van koud kry glo my! Julle het ons simpatie! Daar is wel ‘n verskil – die SAfrikaners is so verwen met goeie weer en gematigde winters dat koue vir hulle nie maklik verwerkbaar is nie- Ons is daarvoor ingerig- Jy haal nooit jou warm lakens van die bed af nie want vandag is dit warm en môre bibber jy!
Wees versigtig op die paaie en hou waaksaamheid in en om die huis altyd in gedagte!
Liefde groete van ons tweewaar dit‘n heerlike aand in Cranleymore is.
Barry & Christina( Stien , Ouma vir ander)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment