Sunday, June 24, 2012
Groete vanuit Cranleymore waar die son effe skyn
Sondag 24 Junie’12
Goeie dag aan almal, familie en vriende
Die sonnetjie skyn- die hitte is baie welkom – ons het maar sovér ‘n bibberende somer! Ons dag temperature is slegter as SA se winter temperature!
Ten spyte van die snaakse somer is die wêreld groener as groen en so ruig, die klein paadjies omring jou met groei van struik en boom,daar is omtrent net genoeg plek vir jou motor op die paadjies!
Ons het gisteraand ons kerk braaivleis gehad en dit was ‘n dawerende sukses omdat dit net so teen 6nm ophou reën het- ons het hard gebid en gevra dat daar net ‘n breek moet kom en ons gebede was verhoor- ten spyte van laag hangende wolke het dit ophou reën! Ons het ‘n soort van ‘n kontrapsie gehad waaronder die dromme met vuur was en dit het gehelp vroeër in die aand . Ons was baie dankbaar vir die getal mense wat daar was- my hart was seer want daar was nie eers een Suid Afrikaner van die ander gemeente nie- jammer dat almal iets anders aan die gang gehad het maar dit is seker hoe dit gaan. Ek was in beheer van die een drom vuur om die boerewors op gaar te maak en dit het baie goed gegaan en die mense was gaande oor die heerlike snaakse vleis gereg, hulle ken net sulke sagte pap vark worsies en hamburger patties vir ‘n braaivleis – maar hulle begin slim word – ek leer hulle mooi!
Ons tuin het baie skade opgedoen met die aanhoudende reen en ek is bly ek het fotos geneem toe dit op die mooiste was.
Die groente tuin staan ruig met alle voedsel soorte - wortels uie aartappels en ertjies – my tamatie plante op die voor stoepie is alweer besig om dak toe te trek hierdie keer sal ons hulle mooi op lei sodat die hoof tak nie weer in die helfte knak nie.
Ek het ‘n appelboom van ‘n pit wat nou omtrent ‘n voet hoog staan – ek is nie seker of ek die onderste blare moet stroop om die stam sterker te maak nie, weet iemand? Sal graag wil weet wat ek moet doen daar is nog 5 pitte wat gegroei het en ek is erg trots op my binnenshuise vrugte boord.
Die druif stok buite teen die skuur se muur groei pragtig het bietjie been meel gegee verlede week want die blare het begin geel word seker teveel water maar hoe kan ek die reen nou afkeer?
Die rose teen die muur is ‘n lus vir die oog! Gelukkig het hulle goed beskermend gebly teen die hewige winde en reen!
Ek het regtig hardgewerk die afgelope week maar is darem nou 4 nagte af en sal kan inhaal om dinge hier in orde tekry!
Ek ly vreeslik aan hooikoors met al die grasse in saad en sommer net enige ding- my oe begin jeuk en oomblikke later begin ek nies – teen 20x staan ek op en gaan drink ys water –dis al wat die nies stop!Drink my anti-histamien maar niks help nie! Neus sproei en nogwat maar.......nies , die kan ek goed doen!
Vandag was my beurt om die orgel te speel en het dit terdee geniet nadat ek 3 weke laas die geleentheid gehad het! Ons predikant is nog onwel en sal seker nog geruime tyd met siek verlof wees en ons word Sondae verras met wie ook al die kerkdeur inloop en hom kom voorstel as die prediker van die dag.
Ons wildtuin bestaande uit die jakkalsies, Blackie die kat en die res floreer sedert ek weer terug by die werk is! Blackie het ontdek dat Whiskas heerlik is en eet die kosbak leeg!
Honderde nuwe(jonglinge) voëltjies is tans besig om deur hul ouers in ons tuin gevoed te word. Ons het na my laaste brief dringend ondersoek gaan instel optrent die eiers in die swaeltjie nes in die donkiehuis en Barry het een teen sy lippe gehou en die was warm en ons het in groot dankbaar hulle goed dopgehou en Dinsdag het die baba swaeltjies hul verskyning gemaak en albei ouers is baie besig met voer. Die swaeltjie wat dood is moes die wyfie van die ander paar wees want daar vlieg nou net 3 van hulle ronden daar is geen eiers in die ander nessie nie.!
Ons langste dag het verby gereen en ek was gereed om fotos te neem van die sonsopkoms en ondergang vanuit die hospitaal se boonste verdieping maar heelaas was dit my nie beskore nie.
Op die politieke front gaan Martin Mc Guinnes in die week die Koningin van Ingland se hand skud agter geslote deure met een fotograaf in hul midde- hierdie Iere kan maar net nie die verlede daar los nie en nou wil hulle weet of hy om vergifnis gaan vra omdat die IRA destyd Mount Batten met ‘n bom vermoor het in ‘n klein plekkie, Mulloghmore, in Donegal Bay ‘n klein vissers-dorpie. Ai, ai, ai!
Verjaardae: Karin in Florida Park verjaar die 28ste en so-ook Joleen- Veels geluk aan jul albei
30 Junie Leopold Scholtz – heugelike dag jou toegewens!hoop ek het die regte datum!
Aan almal wat eksamen uitslae verwag – dit kom ook op ‘n einde en aan die wat nog vakke moet skryf- laat dit goed gaan!
Ons dink aan Marthie en familie met Jeanne wat huis uitgaan om haar toekoms in SA te gaan verseker. Ons het simpatie met die totsiens sê maar hoop en bid dat dit ‘n wondelike nuwe begin virJeanne sal wees!
Baie dankie aan almal wat briefies geskryf het – ek geniet elke woord- en baie dankie Nine vir jou lekker reis verhaal!
Gerlof het nog nie die dae begin aftel vir hulle vertrek SA toe nie nou wonder ek maar net.....
Wees asb versigtig – tuis en op die paaie!
Ons groet vanuit ‘n sonnige Cranleymore
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment