Saturday, July 21, 2012

21 Julie’12 Goeie dag almal, ver en naby! Dit is droog! Dit het vir 36 uur nie gereën nie! Ongelooflik! Dis nou nie baie warm nie maar jy kan darem sonder ‘n trui buite toe gaan! Ek dink die hele wêreld se weer patroon is in die war. Het fotos ontvang van die vloede in Port Elizabeth en sneeu op ander plekke in SA. Iets wat hier by ons natuurlik dood gewoon is-ook die vloede veral in laag liggende gedeeltes en naby die kus, arme Cork kry baie swaar! Die mense daar kan nie eers meer versekering vir hul huise kry nie! Die gras is gesny met die nuutste aankope , ‘n groot enjin- ek is seker ons kan met die ding op vlug gaan moet net vlerke kry! Al die dooie rose en blomme is uitgesny – ons het voëlsaad gaan bestel en gedurende die week het ons die wonderwerk beleef van Barry wat self die man gebel het om die sateliet kom te kom opsit –en nou kan hy heerlik na ‘n goeie skerm kyk met geen sneeu nie –natuurlik GOLF die Britse Ope! Daar sal darem sekere items wees wat ons sal na kyk met die Olimpiese spele en hy kan nou al die nuus kyk op BBC en RTE! Daar is heel party ander kanale ook beskikbaar ,nie dat hy ooit daarna sal kyk nie – maar ...... Die jakkalsies is pragtig ons het hulle nou die aand gesien! Blackie die kat was in ‘n oorlog maar is besig om te heel! Die rose lyk goed en die begonia hang mandjies lyk pragtig die petunias hou nie van al die reen nie en daardie mandjies het reeds hul fleur verloor! Die appelboom van pit gegroei skiet die hoogtes in en die tamatie plant het vanself sy takke gebuig en groei nou horisontaal saam met die skuur se dak! Mendel ons wou die stam onder oprol maar dit wou nie! Ons het net 11 appels oor en 1 peer! Elke jaar dryg Barry om die bome uittehaal want so vér het ons nog net die bloeisels geniet! Die aartappels word soos nodig gelig uit die grond en die wortels en ertjies lyk goed. Ek het gister my eerste bossie pronk-ertjies gepluk! Die aarbeie gee my elke dag sowat 10 aarbeie vir ontbeit-heerlik! By die werk is dit bedags besig met dag pasiente en minder groot gevalle wat oorslaap dus was die nagte heel rustig! Ek is nou af tot volgende Vrydag wat my byna laat voel asof ek met verlof is! Die kinders was hier Sondag en groot gedeelte van die dag was droog maar ‘n paar buie het ons ingejaag en ons het maar die vleis binne gaar gemaak -ek het ‘n kontrapsie wat byna netso goed soos ‘n vuur werk en binne 15 mintue was die T been stukke vleis gaar asof dit op die vuur was net die rook smaak was nie daar nie!. Lukas praat vlot en hy en sy Oupa het die plante 3x met die gieter water gegee!. Hy was effens olik want 4 groot kiestande was besig om hul verskyning te maak! Ons moes ook inderhaas van buite na binne verhuis vir die eet en het toe sommer in die kombuis ge-eet! Niks deftigs nie! Een van die besigheids mense wat goed bekend was en groot industrieë uit niks opgebou het nie het gedurende die Celtic tier die klits kwyt geraak en aandele gekoop met geld wat hy by die bank geleen het en toe val al die markte plat en alles is in sy peetjie. Hy skuld die bank Biljoene! Hy het intussen die geld in ander lande belê en toe hy bangkrot verklaar is het hy ooral nes eiertjies gehad om hom aan die gang te hou- nie gedink die klomp stom Iere sal hom uitvang nie maar nou braai sy kieringtjies goed en propper want sy seun sit nou in die tronk en ‘n nefie is aan die hardloop –glo siek -en het nie in die hof gister verskyn nie en die ou man moet praat binne 3 maande –dis nou die waarheid praat, anders gaan hy ook tronk toe! Almal is hier met vakansie –meestel oorsee want hulle soek die son en hitte na 10 mnde van reën en koue! Ons sal heerlik met Jan tuisbly se karretjie ry en heel gelukkig in Cranleymore ons somer dae wat nog moet kom, verwyl! Ons is nou ook so bevoorregt want Cilna het vir ons ‘n ordentlike reënmeter gebring van SA en ons sal van nou af ook ‘n korrekte reënveslag kan gee! Môre is die beste dag van my week en ek het weer ‘n kans voor die orgel en het Pslame en Gesange reeds gekies – ons predikant is nog met siek verlof en ons het geen idee wanneer hy weer sy beroep sal kan hervat nie! Intussen het ons besoekende predikers, nie almal opgelei nie, word evangeliste genoem met ‘n paar jaar onderrig! Hulle kwyt hulle heel goed van hul taak- onder die omstandighede en ons is dankbaar dat daar elke Sondag wel iemand opdaag!. Verjaardae: Herrie Cooper verjaar die 24ste as ek dit reg het, 1 volle jaar Veels Geluk! Oubaas verjaar die 26ste- lekker verjaar! En die 27ste verjaar Thilo in Saudi, en Megan Josling in Dublin Veels Geluk en mag die jaar voorspopedig wees! Nou ja ek groet met ‘n ligter hart vanuit Cranleymore met die waarskuwing dat julle almal baie versigtig moet wees! Barry en Christina( aangeheg ‘n foto van die T been stuk!)

No comments: