Saturday, July 7, 2012
Groete vanuit Cranleymore
Saterdag 7 Julie’12
Goeie dag allemaal,
Weereens is die weer ons slegste bate en Junie was die natste maand sedert 1910! Julie is goed op pad om ook ‘n rekord te breek,die son kom darem so nou en dan uit en dan hardloop ons omtrent buite toe om 10 minute later byna sopnat weer die huis in te hardloop.
Die wêreld is groen en ruig en pragtig maar die arme boere kom die slegste daarvan af met gras wat reeds platgeval het en nou begin vrot en om dit dan as voer te sny en te bêre word ook nie aanbeveel nie- die grane en gewasse kan nie ryp word nie want daar is nie genoeg son nie! Meeste van die diere staan op stal want hulle sak weg in die modder op die lande.
My rose lyk goed ,die groente tuin floreer en ons eet ons eie uie wat heerlik soet is. Ons het die appelboom wat ek van ‘n pit af gegroei het ook buite toe geneem en die kom goed aan!
Ek kry Barry nie so ver om ‘n blikkie bier te koop vir die slakke nie- jy gooi glo bietjie bier in ‘n piering waar hulle graag gaan eet snags Hulle is glo ook mal oor bier en drink hulle kehoeks en versuip dan in die piering. Ons deftige voorwielaangedrewe grassnyer wat van die begin af moeilikheid gegee het het nou finaal geknak en Home Base het ons tegemoet gekom en sal die masjien terug neem , ons was daar om te sien of ons een van die ander grassnyers kan koop maar Barry is so presies en dié word weer ‘n moeilike besluit!
Ek het ‘n paar dae af gehad na 2 maraton werksweke en voel effe beter ,werk vanaand en môre aand alleen met ‘n helper!
Ons eerste heup vervanging het goed afgeloop en die 81jarige ou omie is heel in sy skik! Hy het wel die 2de nag effe negatief gereageer op die Morfienpomp en dinge begin ervaar- Ek kom in hy sluimer so weg- elke keer –maak hom goed wakker en verduidelik dat ek hom ‘n spuitjie onder die vel-liefs op sy maag moet gee en skielik dink die ou oom in sy beneweldheid ek het ‘n mes in my hand en ek gaan hom vermoor en hy begin aan alles pluk en trek en probeer uit die bed kom- gelukkig was die huis dokter net agter my en het die saak beredder maar dinge kon sleg verkeerd geloop het!
Verder is dit net tennis op RTE kry nie eers kans om na Tour de France te kyk nie . Ek geniet dit baie om die roete te volg en Frankryk en ander dele vanuit ‘n fietssaal te bekyk!
Op die politieke front is daar stilte vir ‘n keer,onderlangse struwelling is altyd daar maar op die stadium maak hulle reg om met vakansie te gaan en dit bring gemoedere tot rus.
Ons hoop dat Jeanne nou ingeburger is in Dapper straat Fleurhof BFN!
Honderde voëltjies kom eet van vroeg tot laat en ons geniet die versameling van vliegende wesentjies baie- die kat eet goed ,dit is nou Blackie maar sy jas is nou rooi bruin en nie meer swart nie! Die jakkalsies groei mooi maar ons het gister oggend ‘n krimvarkie langs die pad gesien naby aan die huis en hoop maar dit is nie een van ons s’n nie.
Verjaardae: Esther verjaar 13de Veels geluk vriendin Ons hoop en bid dat die jaar met rasse skrede beter sal wees as die end van die jaar wat verby is! Sonja in SA verjaar ook die 13de Hoor niks van jou nie- wonder nou maar net? Mooi verjaardag vir jou!
Pauli die aanstaande bruidegom verjaar ook die 13de. Veels geluk jongman! Net die beste jou toegewens!
Ek mis ongelukkig weer kerk more want ek kom te laat tuis maar sal opmaak vanaf volgende week!
Veels geluk aan almal wat eksamens geslaag het en die wat alweer begin studeer vir hul eind eksamens
Baie dankie aan almal wat ‘n briefie gestuur het en al was dit net ‘n paar lyntjies weet ons nou dat Arnolda nog leef! Mooi fotos van Paul gekry.
Almal wat op die pad gaan wees - veilige reise en die wat tuis bly onthou veiligheid in en om die huis en julle self!
Groete uit Cranleymore waar dit bewolk is maar darem nie koud nie! 17°
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment