Saturday, August 18, 2012

Heerlike warm groete vanuit Cranleymore

18 Augustus ‘12 Goeie dag aan almal, familie en vriende, Ons beleef ‘n 2de week van somer, natuurlik reën dit gereeld en gedurende die laaste 2 weke het ons 40mm reën gehad. Die temperature was meestal tussen 13-15 soggens en ‘n paar dae het die temperatuur tot 23 gestyg en ons vergaan van die hitte! Die sweet drup behoortlik van jou af en snags het ek ‘n handdoek om my nek om gereeld my gesig aftevee want vanweë my ouderdom werk die hormone nie meer so goed nie en instede van warm gloede hardloop die water in strome van my kop af, dit is nie baie lekker as jy op ‘n pasient se arm drup nie en dan om verskoning te vra nie. My ouderdom daar gelaat,ek moet lag vir die feit dat julle bibber as dit 13 grade is en ons loop dan buite rond met ‘n onder hempie en kortbroek en flipflops! Heerlik! As die grade bo 18 is kry ons baie swaar! Almal blaas en swoeg van die hitte! Ek het geskryf van ons baba krimpvarkie wat verdwyn het en ons vrese was bewaarheid toe ons die ou klein diertjie se oorblyfsels in die onderveld gekry het waar die ‘magpie’ korte miete van hom gemaak het. My hart was baie seer en het ook weereens besef hoe wreed die natuur kan wees. Blackie lyk heelwat beter en is die prins van die wilde diere wat besoek by ons aflê. As hy arriveer spring ons om hom kos te gee en hy kry net die beste,glo my!Die voëltjies in hul 100de leef ‘n koningslewe met saad en grondboontjies as voedsel byvoeding. Die jakkalsies blink en is steeds baie sku-kan die geringste beweging agter die glas raaksien en hardloop teen groot spoed die veld in om dan later weer terug tekom! Die tuin en die beslommernis van die huislose slakke –baie ongure kreature en gladnie aanbevelinswaardig vir proteien inname nie- vreet alles op, ongelooflik, ons was op ‘n moord tog vanmiddag en het elke blom en pot omgekeer en seker 20 dood gemaak maar kom die nag, kruip hulle uit die grond en verorber alles-enige nuwe groei word summier opgevreet. Ek is jammer maar ek hou nie van die ellendige goed nie. Ek het al my nat sout, pakkies en in houers om die plante leeg gemaak –net om dan in die nag weggereen te word! 3 Appels het geval in die stormwinde van verlede week en die 1 peer sit nog, wonderbaarlik. Die tamatie boom het baie tamaties aan en ons hoop daar is genoeg hitte oor om die tamaties te laat ryp word. Ons eet gereeld groente uit ons tuin. Aartappels, wortels en uie. Die ertjies begin nou lyf kry en een van die dae sal ons ook ons eie ertjies kan eet. Die swartvoel’blackbird’ het elke appelliefie opgevreet- die enigste ding wat hoog en gesond staan is my rubarber. Op ‘n eiland wat water in oorvloed het is daar ongelukkig geen sorg beskikbaar om seker te maak dat ons goeie drinkwater het nie- Daar is altyd iewers ‘n plek op die eiland waar mense gewaarsku word om water te kook en soms help dit nie eers nie-die kwaliteit van die water is so swak dat jy dit nie eers gekook mag drink nie! Sedert ons hier woon het ons nog nooit water uit die kraan gedrink nie en ander water word altyd gekook. Ons koop water om te drink, altyd! Die einde van die 3 maande skool vakansie is byna op ‘n einde en skole begin die 30 Aug. Die matriek ‘Leaving Cert’ uitslae is uit en die dogters het die seuns uitgestof –gelukkig is daar darem nog slim kinders op aarde – 10 of meer het 9 A1’s gekry! Enigiemand wat ‘n A vir die Ierse taal kry moet ‘n wonderwerk wees. Dit is seker die moeilikste taal opgemaak deur mense wat nie geweet het wat om te se nie- voor die Vikings en toe ‘n konglommerasie van letter bymekaar gegoei het en dit Iers genoem Dit maak geen sin nie en om dit uittespreek is byna onmoontlik. Nou net op die nuus gehoor dat jy selfs nie in die see mag swem nie wat die see water is besoedel met E Coli! Dit is nou aan die kus van Cork, 3de wêreld is ‘n mooi plek! Aan die anderkant kant leef ons nog 100% veiliger as ander op aarde. Die dood van mense wat in die see verdrink is baie erg-5 in 3 dae se tyd en natuurlik ongelukke op die paaie is oneindig hoog! Ons leef ‘n baie veilige lewe en ons is erg dankbaar daarvoor, ons lees op die rekenaar nuus van die moorde en ons harte bloei vir die mense wat agter bly! Ons weet ook dat die wat daar woon nie so bewus is van wat in die land aangaan as die wat daar buite bly nie- ons lees ook mooi nuus as dit verskyn! Huidiglik maak SA se myn opstande en die polisie wat die myn werkers doodgeskiet hoof opskrifte ooral op die nuus en in elke koerant! Mamela se toespraak was byna in sy totaal op CNN en BBc uitgesaai! By die werk, werk ons teen ‘n geweldige spoed en onder geweldige druk- temin personeel en onmoontlike omstandighede en soos ons altyd verwag het, het die ellende toegeslaan toe een van ons ‘respite ‘ pasiente Woensdagnag geval het en haar heup gebreek het en terselfdertyd ‘n pasient wat aan dimensia ly op soek geraak het! Die narkotiseur vir die Oor-neus-en-keel gevalle het nie genoeg anti -naar medikasie in teater gegee nie en 14 kinders en groot mense het gebraak- dit was C H A O S!!!! Elke stukkie van my was getoets gedurende daardie nag. Nou ja die politici hou nog vakansie en ons vrees hulle terugkeer,want ons weet nie of hulle aldag weet wat hulle doen nie! Die Olimpiese Spele is oor en veby en ons raak nou weer gewoond aan die normale programme op die TV. Die Para Olimpiese Spele kom 29ste aan die beurt. Die egpaar moet teen hierdie tyd reeds getroud wees en ek hoop dat dit ‘n pragtige dag vir hulle was en vir almal wat dit met hulle gedeel het. Veels geluk aan Pauli en Mader. Verjaardae, Nicholas and Christopher in Cork verjaar 19e, SJP Kruger in Australie verjaar die 20ste en Rachelle Josling die 24ste. Veels geluk aan almal Mag die jaar ‘n goeie een wees en al jul drome bewaarheid word! Môre is die beste dag van my week en dit is my beurt om die orrel te speel en die keer is ek nie moeg nie en hoop dat my oë my nie weer in die steek sal laat nie. Dit is seker een van die vreeslikste dinge vir my om daar te sit en niks te kan sien nie net wit en swart stepe vir note en al die note op die bladsy onleesbaar! Die oogkundiges het opgegee-ek moet daarmee saam leef. Die prediker is steeds elke Sondag ‘n verrassing, ons eie predikant is aan die beter word en ons hoop en bid dat hy eersdaags sy herderskap sal kan hervat! Baie dankie aan alaml wat gereeld van hulle laat hoor! Dit is heerlik om die briefies te lees! Hiermee dan ons warm groete vanuit Cranleymore waar my wasgoed nou vir die laaste 2 weke op die draad droog geword het!. Wees tog altyd versigtig op die paaie en tuis! Barry en Christina

No comments: