29 Januarie’11
Vandag my eerste 2011 kar gesien hulle is maar skaars die jaar! Buite is dit 4 grade en bewolk maar kalm en eintlik heerlik! Geen wind nie , ooooooo die wind kan jou verkluim maar vandag is heerlik al skyn die son net sulke flardes !
Ek het die hele ganskelike week gewerk en bedags geslaap ,ek is so moeg dat ek aan die slaap is voor Barry nog die blinder afgetrek het, ek lê doodstil beweeg nie eers nie en 5nm moet hy my skud om wakker te word! Gistermiddag vir die eertste keer sedert Maandag weer ordentlik daglik gesien en het dit baie waardeer!
Ek het ook heerlik aan die briefies gelees maar Gerlof kry duidelik ander pos as ek want ek het net Nine se verhaal gekry! Hessie het jy van my vergeet en die Hoedspruit Weddings, is dit ‘n webblad? sal maar soek!
Die politiek is soos ‘n soupie en sal ‘n pragtige TV reeks uitmaak! Ek sweer hoog en laag dat hulle , dis nou al die wat stemme probeer werf, nie oor die drumpel sal trap nie maar Barry is ewe geneë om almal intenooi en dan te karnuffel! Ek wonder regtig hoe dit op aarde moontlik is om so ‘n verandering te ondergaan wanneer jy in die politieke arena inloop. Onverskrokke met die dikste vel,arrogant, maak beloftes links en regs en hang hierdie pragtige geel wortels voor jou oë en leer vinnig om te jok, eintlik lieg hulle en dan kan hulle nie die eerste leun onthou nie en ‘n 2de een word opgedis en hulle vergeet wat hulle in die eerste leun gese het!. Ek kan net nie beskaafd teenoor die spul optree nie want hulle is almal dieselfde! ‘Gangsters’ soos die buurman sê!!!! Die Sinn Fein klomp praat die reguitste en hulle is die rebelle en ek voel ook soos ‘n rebel op die oomblik, hierdie 2de belasting neem ‘n groot hap uit jou salaris en hoe harder jy werk hoe meer betaal jy, dit is gruwelik!!!
Die hospitaal het groot planne en ek hoop en bid dit kom tot ‘n werklikheid voor ek aftree!!!! Die bestaande gebou word reeds plek, plek verander om ekstra dinge te akkomodeer en die ‘skoonlug’ ( laminaflow)’ teaters is al in aanbou wat beteken dat ons nou groot orpopediese gevalle gaan kry ,heup en knie vervangings,rug operasies en dies meer!
Iewers in die week het ek ‘n noue ontkoming gehad toe een van my ENT pasiente wat ‘n septum korreksie en sinus skraping gehad het aan die bloei gaan toe ek die neus pak verwyder, hy maak dit toe nie maklik nie en bloei toe van die sphenoidale ruimte – geen bloeding deur die neus nie maar die vars bloed stroom toe in sy keel af! waar geen drukking of kaltostat gaan bykom sonder om hom aan die slaap te maak nie maar ek dag toe ‘ ‘n boer maak ‘n plan’ ek pak hom toe in ysblokke van agter en voor en laat hom stukke ys suig ,die arme man se oë was gevries en so-ook sy tande maar siedaar voor die dokter nog iets kon doen het ek die saak gered, Die dokter was erg ingenome met my reddingspoging en het almal vertel dat ek hom nie regtig nodig het nie want hy kan by my leer ,al die harde werk maak nie saak as iemand waardeer wat jy doen nie! Ek spog nie ek vertel sommer maar wat ek beleef! Die ander wou weet ‘how did you know where he was bleeding form?’ Ag, ek weet sommer maar net seker jare se verpleging en kennis wat jy opdoen so met die tyd saam! Die NOK sjirurg het later gese dat ek presies reg was en het gesê hy wonder hoe ek geweet het! Ek is 41 jaar in die beroep hierdie jaar behoort iets te geleer het, sou ek sê!
Buite is dit goor en grou ,hulle voorspel weer sneeu en ons het besluit om te wag vir die 1ste Maart voor ons die tuin gaan mooi maak! Die affodille se punte is sterk besig om deur die bevrore grond te breek! Ek was nog nie weer onderveld toe want my hart word baie seer as ek die paar oorgeblewe vere van die ganse sien , ek kry nog baie swaar om te aanvaar dat daar nie meer ganse is nie . Op pad Longford toe sien ons 3 van hulle maar hulle het nie water om inte swem nie en is vreeslik vuil! Hulle ken die geluid van die kar en as ons stadig verby ry, kyk hulle almal op!
Ons het nou 2 orrels wat moontlike aankope kan wees, ek het ‘n uitgebreide soektog op hande gehad maar wil nou nie meer die klawerbord elke Sondag karwei nie Donderaand is AGM en alhoewel ek werk het hulle nou genoeg inligting om ‘n keuse te maak en die geld goedtekeur!
More is soos julle teen die tyd weet my wonderlikste dag van die week! Psalme en Gesange reeds bekend en ek speel hulle regtig nou net deur – ook albyna 5 jaar wat ek die orrel in die kerk speel!
Verjaardae: Reuben Kruger verjaar vandag en ek hoop hy het ‘n pragtige dag en dat die fesie vanaand heerlik sal wees! Tiener fesie!
More verjaar Sharon Barry se niggie wat ook hier in Ierland woon! Sy het net voor ons hierna toe gekom! Lekker verjaar Sharon!
Tjaart verjaar die 1ste Feb en ek wens hom net die beste toe vir die jaar en baie dankie dat jy gereeld met Mendel kontak maak! Ek waardeer dit baie!
Ook is more altyd vir my ‘n sielige dag want my broers is reeds 6 jaar oorlede. Die dag sal wel onthou word maar ek is ook baie dankbaar dat ons more besoek van PF(Finbarr) Amanda en Lukas kry en ons kan nie wag nie, sommige van julle het ‘n fotojie gekry ,hy is ‘n oulike knapie!!!! Hy beweeg soos weerlig en jy moet hom met ‘n valkoog dophou!
Die koerante was vol van Mandela se siekte en het hoofnuus op TV hier by ons gehaal! Ek wonder wat gaan word as hy dood gaan , of dit die stabiliteit van die land sal ontwrig of versterk!
Nou ja ek groet, skaapboud met gebakte aartappels soet patats ertjies en sampioen sous vir hoof gereg en appeltert met room vir nagereg! Ons bederf hulle maat altyd ‘n bietjie!
Baie dankie aan almal wat briefies geskryf het dit word hoog op prys gestel en jou werklikwaar ook een van Mendel in PMB, ek dag hulle het lankal van my vergeet!
Groete van ons, uit ‘n bewolkte winter middag!
Barry en Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment