15 Januarie 2011
Goeie dag familie en vriende,
As julle dit nog nie weet nie ,dit reen en dit reen en vandag is 12 grade ongelooflike weerspatrone wat deur die eiland op vlerke van hoë winde beweeg!
Jy moet vinnig kyk as jy die son wil sien want as dié ‘n kans kry mag daar vir enkele sekondes ‘n blerts wamte deur die wolke massa dring andersins het ons die ligte aan van vroeg oggend tot ons bed toe gaan! Die dae begin darem al langer word wat ‘n blye verskynsel is!
My hart gaan uit na die inwoners van Queensland, ek was self nog nooit in ‘n vloed nie maar ons het voor verlede jaar erge vloede naby aan ons gehad en dit is hartverskeurend!
Veels Geluk aan Sam en Emma wat volgende Saterdag trou! Mag julle ‘n pragtige dag in sonnige Suid Afrika hê.
Ons het maar min nuus, al die ganse is verkoop en dis stil op die werf, ek mis hulle baie maar ek dink Barry mis hulle die meeste maar hy kon dit net nie volhou nie , ‘n Mens moet na diere omsien en veral met die geweldige sneeu wat ons gehad,moet hulle gevoer word en goed versorg word en dit verg baie,ook beperk dit ons bewegings en nou is ons vry!!!!!My hart is baie seer want die storie verteller is dood en lankal opge-eet!
Ons het ‘n nuwe baas by die hsopitaal en hy beplan baie veranderinge en ek hoop dit kom tot ‘n werklikheid want met die oorstromings van griep gevalle by die Algemene Hopsitaal gedurende die afgelope 6 weke is ‘n ekstra Ongevalle en Nood dienste dept hoogs in aanvraag ,veral vir privaat pasiente wat nou almal na die algemene hospitaal toe moet gaan! Omdat daar so baie pasiente op trollies moes deurbring en daar so min personeel is vanwee die bekortings in Gesondheid het mense ongediagnoseerd gelê vir dae en so het ons op die oomblik pasiente wat geperforeerde blindederms met die nagevolge op ons saal!
Ek sou nog met verlof gewees het die afgelope week maar is alreeds Woensdagnag terug, baie verpleegsters siek met die Swine griep! Die afgelope jaar het ons min mediese pasiente gehad maar nou stroom hulle in en dit verg baie verpleeging! Ek moet erken na byna 5 weke van niks doen nie is dit heerlik om weer te werk ,my rug het die eerste nag bietjie les opgesê maar jy raak gou weer daaraan gewoond!
Ons politieke toestand is een van chaos en ellende! Die politici moet iewers opleiding kry wat hulle leer om net nooit die volle waarheid te vertel nie ook hoe om leuens in waarheid te verander, net jammer hulle onthou die eerste leun nie dan trap hulle in ‘n strik en word so gevang! Dit moet seker maar oor die aarde die geval wees ek moet nog ‘n eerbare politikus ontmoet, die wat wel is dra swaar aan hulle gemoede en sukkel om bo uittekom! Ons ken die stryd!
Gelukwensinge aan MarieJanke wat more 21 jaar oud is! ‘n pragtige dag jou toegewens!en ‘n goeie jaar! My vriendin in Florida Hills verjaar Maandag Veels geluk Dorothy! Ook aan jou ‘n mooi dag en goeie jaar toegewens!
Ek het my adres lys drasties verkort, dus is dit die laaste brief wat na almal uitgaan As daar iemand is want dink hulle wil tog iets van ons hoor laat my weet maar andersins is dit totsiens!
Mens kom op ‘n punt wat jy besef ander mense stel nie belang in jou doen en late nie en dit skeel hulle min wat hier op die Ierse eiland aangaan! Dus as jy volgende week nie ‘n brief kry weet jy , dis verby, jy is ontslae van ons! Ek sal nie verbaas wees as daar heugelike sugte die lug ingaan by die lees van die nuus nie , dis nou te sê as jy so vér lees!
Onse klein seun is fluks aan die groei en seil deesdae soos ‘n slang op sy maag en elmboë deur die lewe teen ‘n geweldige spoed!
My gesange en Psalme is goed geoefen en môre is die beste dag van my week! Ek hoop almal het ‘n geseënde Sondag! Vol sielsvoeding!
Dit is grou en lelik buite alles is pikswart verbrand van die swart ys en erge koue, al my plante in my sogenaamde ‘hothouse’ het tot slymerige rubber verander en ek moes alles uitgooi! Orgideë ,alles, net my ou piep klein rosie wat ek nou al 3 jaar oppas staan nog met ‘n paar uitloopseltjies! Buite is niks sigbaar behalwe die puntjies van die affodille nie!
Nou ja almal wat troue toe gaan, ry veilig, geniet ook vir ons part!
Liefde groete van ons in ‘n papsopnat Cranleymore
Barry & Christina
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment