Monday, March 19, 2012

Koue lente groete vanuit Cranelymore

Maandag 19 Maart ‘12

Goeie dag allemaal, Familie en Vriende,

Ons lente het die klits kwyt- 2oggende was my kar toegevries en temperatuur onder vriespunt- vandag is dit effens beter maar die wind wat van wie weet waar kom, is bitter koud-ek was buite om waarnemings te doen van werk deur die ou man wat jare terug vir ons gehelp bou het en ook om ons nuwe grassnyer te bewonder wat nou 3 maande in sy karton in die skuur gerus het .
My ore was total gevries en ek moes my hande onder die warm water tot liggaams temperatuur bring, jou neus loop aanhoudend van die koue en die son is daar maar jy sien hom nie en jy voel hom nie!
My skrywe is laat want ek is terug by die werk en het sommer 4 nagte die week gewerk en in die nuwe saal vir 2 daarvan. Die lengte van die saal is ongeveer 50 meter en ek het die eerste nag byna by die venster uitgespring van ellende. ‘n Laat opname en die dokter wat die pasient sien en jy moet daar bly staan terwyl alles tot stilstand kom want jy is die enigste verpleegster op diens met ‘n helper. As dit nie vir Marina my helper was nie sou ek nie vandag die briefie kon skryf nie, sy was my regter en linker hand en soms ook my voete toe ek nie meer kon nie!
3 Van die pasiente was daar vir ‘respite’ en die res was siek ou mense. Elkeen het jou dubbele aandag nodig. Die man wat in beheer van die hospital is, is hard besig om bloed uit ‘n klip te tap en as jy enigsins murmereer is sy motto “ If you cannot cope you are free to go”
Ewenwel, ek kom toe deur die nag sonder om meeste van die pasiënte eers te groet en die volgende oggend toe dinge nou effe kalmer begin raak en hulle my gesig vir die eerste keer sien het ek verduidelik dat ek ‘n “ hovercraft” was en het met spoed by hulle verby gesweef- hulle het almal bevestig dat hulle gesien het hoe hard ek werk en my baie jammer gekry. Die saal is nuut en daar is baie dinge nie beskikbaar nie en veral met medikasies , moes jy heeltyd terug na die sjirurgiese saal wat vir die naweek gesluit was, want, soos julle seker weet was dit St Patricks dag Saterdag en vandag is “ Bank holiday” omdat die landsdag op ‘n Saterdag geval het. Ek het die ander saal rot en kaal gegaps om te oorleef!. Ek besef terdeë dat ek nie meer jonk is nie en my ou knie het laas nag my baie opdraande gegee- as ek die been uitstrek dan wil hy nie buig nie –uiteindelik kliek die spul en kan ek die knie buig en dan wil dit weer nie reguit nie-ek was moedeloos dit het my ‘n goeie uur wakker gehou en ek het die slaap bitter nodig gehad. Het maar vanmore anti inflamatoriese salf aangesmeer en ‘n verband omgedraai net om bietjie verligting te kry.Gelukkig het my skouer nie veel gepyn nie maar ek was deeglik bewus van hom.
Om alles mooier te maak was daar verlede Woensdag ‘n vergadering en iewers het iets verkeerd geloop in my 2 maande van afwesigheid en nou word ons almal gestraf en MG die baas het besluit dat die spul nou omgegooi gaan word en dat daar nou nie meer permanente nagstaf sal wees nie en ons almal moet nou dagdiens ook werk. Ek begin dus 26 Maart met die vonnis –as ek nie eers die nag sonder ellende kan deurkom nie wonder ek hoe my knie dit sal hou as ek 30 keer op ‘n dag die trap moet af en weer op, om pasiente teater toe te neem!veral as daar 58 ingeboek is vir die dag. Ek moet nog 18 mnde werk en ek hoop ek maak dit!
Genoeg gekla,dag ek sal julle maar net inlig wat die stand van sake is. My briewe sal dus nie meer so gereeld die lig en lug bereik nie want ek het geen idée wat vir my voorlê nie!
In die tuin staan die rubarber kierts regop en mooi gesond geen slakke het hulle bygekom nie want ons het hulle toegemaak met strooi vir die winter. Ons tulpe is almal besig om ooptegaan en die affodille is pragtig- ek pluk maklik 20 elke week en huis ruik so lekker. Die rose se blare is ongelooflik groen en gesond nadat ons die kunsmis vir rose gestrooi het- hulle is so dankbaar! Hoop die rose self gaan ook daarby baat.
Ons nuwe projek vir die tuin is in wording,20 ton “top soil” is donderdag hier afgelaai en hoe Barry die enorme trok in die werf gekry het en alles op die regte plek gestort gekry het is vir my nou nog duister maar die man het baie mooi geluister wat Barry sê en alles het goed afgeloop. Die “railway sleepers” is die volgende dag afgelaai en nou is die ou man besig om die grond met die kruiwa aantery om ons nuwe blombeddings te maak. Die voorste muur is baie naby aan die huis en lyk afskuwelik want dit is lapwerk en nie die beste gedoen nie en nou wil ons die muur toekry met plante!
Die gras is nog veels te nat om te sny maar die nuwe gras snyer wat ons 3 maande gelede gekoop het teen ‘n belaglike prys toe niemand aan grassny gedink het nie is aanmekaar gesit deur die genie van ‘n man en nou wag ons dat dit droog genoeg word om die oerwoud aftesny! – Intussen hoor ek die masjien werk sal moet gaan kyk!
Die bloeisels aan die vrugte bome is byna oop en die aartappels en uie is geplant! Die voëltjies is besig om nessies te bou en dit is pragtig –die robin het die elektriese paal langs die huis gekies en ons loer elke nou en dan om tesien hoe dit vorder. Die duiwe is ook in en uit die hoë heining en ons verwag dat die “blackbirds” kan nie die Afrikaans in my skool woordeboek kry nie- ook naby die huis hul nessie sal bou!
Die lente – nie in temperatuur nie- maar die nuwe groei en al die skakerings van groen is altyd vir my so pragtig!.
Op die politieke front gaan dit effe stil want elke minister is iewers op die aarde om St Patricks dag te vier as gas van lande- dit gaan dus stil vir ‘n verandering want hulle het 19 dae vakansie! Die land kry finaniseel baie swaar maar hulle kan rondjakker soos wie weet waste ryk mense op ons onkoste!
Ek verneem dat die prys van brandstof in SA baie duur is maar hier is dit nog duurder as by julle ons betaal tans €1-62 (x met10 om R te kry) en €1.57 vir diesel. Plesier ritte word nou beperk tot kerk en werk!
Die ellende van die bus ongeluk tussen Switzerland en België het ons ook vreeslik geskok en ons harte gaan uit na die ouers van die kinders!
Ek het kerk gemis vanweë my nagdiens van Staerdagnag en my totale uitputting- maar ek hoop van harte dat die wat in Engeland en Ierland woon ‘n pragtige Moedersdag gehad het en ‘n geseënde Sondag.
Ons besoekende diere het ons verras toe Professor helder oor dag kom kuier het en ek ‘n pragtige foto deur die kombuis venster van hom kon neem dus ontmoet Professor ons ‘wilde’ kat wat al baie makker is. Die kripmvarkie kom gereeld maar ons het hom lank laas gesien en die jakkalsies is vlymskerp in hul gedrag en maak seker ons weet van hulle maar ons kry hulle net nie te sien nie. Blackie sit voor die agterdeur soggens as ons opstaan veral die oggende wat hy die nag in die skuur deurgebring het,waar hy anders woon weet ons nie!
Verjaardae en ek het in my brief verlede week genoem- Georg die 18de gister en vandag Arnolda! Veels geluk weer eens!
Ons innige simpatie aan Gerlof wat gister sy nael verloor het met ‘n groot “Chef” mes- terwyl hy gekerf het! ‘n ongeluk gebeur so gou!
Baie dankie vir al die heerlike briefies: Heerlike brief van Leopold, Karen, Angie, Sue in Kanada, Joy in Brisbane, Gerlof se gereelde brief en ek het darem nou 2 briewe van Arnolda gekry , Isabel wat ook gereeld skryf! Daar is ander wat maar lui wegsteek! – of miskien werk hulle te hard!Hoop dat die siekes aan die herstel is Johann, Werner, en ook Hanlie. Oubaas –hoe gaan dit nou?
Ek groet - my vingers is af van die koue en ek het niks meer omtesê nie. Ons hoop dit reen waar dit droog is en dat die herfs nie te koud is nie! Almal wat met vakansie SA toe gaan geniet elke oomblik! Ek weet van Annarie, Jeanne, die Eloff’s in Exeter, die Kanadese Krugers en wie weet wie nog!
Wees altyd versigtig op die paaie en hou veiligheid tuis altyd as prioriteit in jul gedagtes!
Liefde groete vanuit Cranleymore waar die wind vandag baie koud waai alhoewel dit 10° buite is.
Barry en Christina

No comments: