Saturday, March 3, 2012

Lente groete vanuit Cranleymore

Saterdag 3 Maart’12

Goeie dag allemaal, familie en vriende,
Teen 11uur vanmore besluit ek, met die windjie wat so op ‘n drafstap is en die son wat so lekker skyn dat die lakens en wasgoed vandag vir die eerste keer die jaar, buite toe moet gaan- Barry help want hierdie lakens, vir die ekstra groot bed is groot en swaar veral as hulle nog effe klam is! Baie trots beskou ons twee toe ons hande werk – in Suid Afrika het ons elke Maandag lakens geruil – maar in hierdie land klim jy met al wat warm pajamas is en sokke vir voete in die bed en hoef die lakens volgens my dan nie elke week geruil te word nie veral nie in die winter nie- jou elektrisiteitsrekening sal hemelhoog wees want die tuimel droër sal 24 uur ‘n dag werk. Eventewel – daar wapper die lakens en die res van die was goed toe te pragtig aan die lyn- ons is binne toe na ‘n toer deur die tuin en ons daaglikse bewondering van die affodille en ook om na elke bietjie groei te staar. Ek het die rose Donderdag kunsmis gegooi –net voor die reen en ons wag nou in spanning om te sien wat gaan word.
Natuurlik doen ons ook brein gimnastiek vir 1½uur . Met die nuwe Scrabble stel en ons splinter nuwe uitgawe van die Scrabble woordeboek is dit ‘n groot plesier om mekaar uittedaag!
Die tyd breek toe aan vir ons om ons Saterdagoggend inkopies te doen en toe ons net so wegtrek sak ‘n bui reen uit- terwyl die son lekker skyn- my hart het in my skoene gesak want nou is daardie wind droë lakens weer papsop nat. Ons bring toe ook besoek aan ‘n nuwe Mark wat oopgemaak het by die REDCOW want daar is ‘n man wat antieke dinge verkoop- en om Barry gelukkig te hou ry ons soontoe- was effe teleurgesteldt want dit was nou nie die mees wonderlikste goed nie en ook bietjie aan die duur kant- en ons kan net koop as dit goeie kwaliteit is en die prys reg is- koop toe ‘n paar boeke vir lees wat na die Organisasie van Autistiese kinders gaan , kry ‘n heuning en gemmer hoender vir vanaand oop gevlek soos ‘n Nando’s hoender- die eerste keer dat ek dit so sien hier in Ierland- natuurlik kom ek nou nie baie uit nie en is daar miskien plekke wat dit so doen maar waar ek my bevind –defenitief – NIE!
Heerlike brode waar ek na kyk want brood is uit in my dieet- ook die groente en vrugte stalletjie- dit was goed en ons het heerlike druiwe van Argentinie gekoop!
Terug tuis het daar verskeie buie reen geval sommige met sonskyn en ander met ‘n dik wolk as beskermingteen die son. Uiteindelik moes ek tog maar die wasgoed gaan haal en probeer red voor dit sopnat is- en nou werk die tuimel droeër weer maar dit was byna droog dus die wind en die son het darem ‘n kans gehad om die ergste nattigheid te bemeester.
Gister was ons besoek aan Dublin- waarna ek nie uitgesien het nie want Barry hou nie van Dublin nie en omdat ek nie mog bestuur na die inspuiting nie is ons met die trein daarheen. Heel vroeg op en in die trwein om 6.28vm dit was nog stik donker. Gelukkig is daar parkering by die stasie en vir €3 staan jou kar veilig. Die rit self was baie rusitg en genotvol en soos dit lig word het ons die wereld verken. Baie eende en swane op die water gesien en ook 2 fisante! By die stasie is ons per huurmotor na die kliniek toe- 1/5 de van die pad terug huis toe- dit was baie grappig! Die kliniek is pragtig- groot , lig en duidelik met genoeg geld in die sak gebou!
Ons was 20 pasiente wat skouer inspuitings moes kry en ek was 15de aan die beurt – ek is altyd bedeelt met rooi wange en ‘n baie gesonde gelaats kleur –maar ek het die inspuiting baie pynlik gevind en moes seker effe bleek geword het want skielik is almal om my en hou my vas indien ek sou kantel- ek is van tawwe-tinie se mense en het gou weer bygekom maar mense dit was seer- gee nie om wat ander mense voel nie- nie maklik weer nie!
Ek het aaklig gevoel daarna en was baie dankbaar dat ons met huurmotor en trein ons afspraak gehou het- die huurmotor bestuurder was baie oulik en het ons sy kaartjie gegee en ons het hom geskakel en hy ons weer kom oplaai en stad toe geneem!
Ons het die vroeë trein huis toe verpas en moes toe vir 2 ure ons self vermaak maar Barry het ‘n farunkel onder sy voet en so vér as wat ons loop kreun hy van die pyn- en ek hou maar my elmboog in die holte van my ander hand- twee ou krokke wat toe ten einde by die stasie op stoele gerus het tot die trein gereed was- gelukkig staan hy al ‘n goeie ½uur voor die tyd reg en kan mens inklim en rus wat ons toe ook gedoen het- veilig tuis na ‘n heerlike ontspanne rit wat ek nie nodig gehad het om ander mense te probeer vermy nie op die smelweg nie!
Ons was albei baie uitgeput en is vroeg bed toe –ek met ‘n Panado om bietjie gemakliker te voel!
Wat ‘n uitstappie! Ons moet dit weer doen volgende week vir Barry se afspraak by Tallagh Hospitaal maar op die stadium is hy baie steeks en ek weet nog nie of dit ‘n werklikheid gaan word nie.
Met al ons skete dink ons aan die baie sieker as ons - Johann Reineke wat rug operasie gehad het en Haya en haar groot ellende. Ek bid dat daar beterskap sal kom!ons dink ook aan Werner wat chemo ontvang het! Hanlie –wie se nekwerwels ook aandag nodig het -
Die voëls het hul laaste grondboontjies gekry en die saadsak is ook nou leeg en nou moet hulle weer vir hulself sorg! Die katte kom gereeld en is in goeie toestand! Die krimpvarkie het ook wakker geword –ons weet hy is daar maar het hom nog nie gesien nie!
Baie dankie aan almal wat briefies geskryf het – dit word baie waardeer en veral Nine wat moeilikheid met die stuur van haar brief het en dan moet sy weer van vooraf skryf! Ook aan althea Kuyper- wat ‘n verrassing!
Môre is dit soos julle weet die beste dag van my week en ek is weer op orrel diens – as ek die woorde ken sing ek nog steeds saam!kan net nie op 2 plekke tegerlyk kyk nie en moet soms net lala!Ons reeks preke van Josef is uitstekend – en al is ons nie baie nie sien ons almal uit na die volgende preek.
Ek dink aan almal wat dalk verjaardae mag hê- pragtige jaar jul toegewens!
Die slimmes wat studeer- enige iemand wat eksamen moet skryf- alles van die beste.
Op die politieke front gaan dinge nie te ontstuimig nie- ons gaan nou stem –Referendum- oor die verandering in die Lisbon treaty- want die Iere wil nie net dinge aanvaar nie hulle moet eers daaroor redekawel! Die ellende in Sirië
Is hart verskeurend- wonder waar dit gaan eindig- David Cameron was erg ontsteld gister oor wat daar aan gaan maar ek sien nie iemand iets doen nie want China en Rusland het gesê – NEE geen inmenging nie!
Môre speel die Iere Rugby teen Frans – vorige poging was afgestel toe die wêreld ge-ys was!
Ek sal my huis dokter in die loop van volgende week sien en dan sal daar finaal besluit word of ek reg is om terug tegaan werk toe- hoog tyd!
Wees altyd versigtig en hou veiligheid gedurig voor oë!
Ek groet vanuit ‘n lente dag in Cranleymore!
Barry en Christina

No comments: