Saturday, April 28, 2012
Groete vanuit 'n sonnige Cranleymore
Saterdag 28 April’12
Goeie dag allemaal, familie e vriende!
O! Dis heerlik buite, die son SKYN! Dit is 12 °, daar is ‘n briesie maar die sterk winde van die afgelope paar dae rus vandag en ten spyte van ‘n koue begin belowe die dag om inskiklik te bly , behalwe as die dik wolke wat ver op die horison lê begin nader rol. Die aarde is nat, die boere moes die beeste weer terug op stal sit want die lande is te nat en omdat dit so koud was het die gras nie gegroei nie en moet die beeste nou die oorskiet van die winter gevoer word! Die somer sukkel maar om deur die weerontwrigtings te breek. In die noordelike deel- Skadinawieë ens is daar ‘n hitte golf-Dit wil maar net nie luk nie. Engeland het nog droogte in sekere dele.
Nou net vir Blackie die besoekende kat kos gegee. Hy vra so mooi –ons merk wel dat hy baie maer is en die besering wat hy opgedoen het is uiteindelik besig om gesond te word. Professor kom snags laat saam met die klein jakkalsies eet-soms selfs die droeë brood wat ons uitgooi!
Noudat ek weer op nagdiens is is Barry en ek nuwe mense- die bedruktheid is uit ons harte en vreugde spil oor in ons uitkyk op die lewe. Gedurende die week het ons wel ontstellende nuus verneem dat die hospitaal wat deur die VFM ( Value for Money) man verlede jaar gekoop is – wat al die miljoene €’s se veranderinge aangebring het, nou in finansieële nood sit. Mense wat laaste in gekom het is natuurlik eerste uit , Kombuis personeel se ure is verminder- die kos het aansienlik duurder geword in die kantien , die skoonmakers se ure is verminder en ons kry nie ‘n sent vir oortyd werk nie!
Stories maak die rondtes wat heel onguur is- ek hoor maar ek probeer dadelik weer vergeet want ek het nooit ooghare vir die man gehad nie maar hy betaal my salaris en daarvoor is ek oneindig dankbaar, ons hoop en bid maar dat hy kop hou en weet wat hy doen!
Buite het die ryp en geweldige winde die tol ge-eis van die pragtige tulpe dos wat ons vir die laaste 2 maande betower het- Van diep violet tot bleek geel en alle moontlike kleure tussenin het WELKOM aan almal geskree wat by die hek sou inkom.
Die rose het die minste gelei en lyk nog goed op pad. Daar sit aan elke peer en appel boom ‘n goeie darg vrugte en nou moet ons net hoop dat die laat koue nie die vrugte sal laat val nie!
Ek het gedurende die week die rubarber gepluk en gekook, vir Barry voorgesit met vla en hy is goed verwen die week! Dit was die eerste pluksel en ons hoop dat hulle nou gou weer stingels sal uitsteek!
Ons het Sondag middag teen 3nm in Dublin opgedaag om ons kleinseun Lukas se 2de verjaardag te vier saam met sy Dublinse grootouers en ooms en tantes en nefies! Ons het nou vir die eerste keer regtig die geleentheid gehad om Amanda se ouers van nader te leer ken en hulle is baie liewe mense! Net so mal soos ons oor die kleinseun- hy is oorlaai met persente en speelgoed wat byna meer vermaak aan die groot mans gegee het as aan hom. Ek bly maar die ouma wat klere voorsien vir die jaar! Amanda het ‘n heerlike koue maal voorberei met baie slaaie en die beste gekookte stuk ham wat ons nog ooit ge-eet het! Poeding het uit verjaardag koek bestaan en ons het teen 6.30 weer die pad gevat en veilig tuis gewees net na 7.45.- met die lang dae en kort aande maak dit aand ry nou ‘n plesier.
Die verjaardae vir die week sluit die volgendes in: Gerda van Hessie 3 Mei, Christiaan Potgieter in Longford die 4de – Veels Geluk en mag daar nog vele goeie jare vir julle voorlê!
Ek weet dat Marie-Janke hard studeer en as daar nog ander is wat al hul energie in brein funksie moet verander-alles van die beste!
Ons dink baie spesiaal aan die Scholtz familie en baie dankie vir die foto waarin Br Mendel ook verskyn – ek waardeer dit baie Adelbert!
Ons dink ook aan Haya wat beterskap met die been en voet ervaar en Hanlie wat maar moet uithou! Ons hoop dat Johan Reyneke nou ten volle herstel het van sy rug operasie en hartaanval, ons wag hier op ‘n datum vir ons Dunne nefie wat vir brein sjirurgie moet gaan vroeg in Mei.
Op die politieke front gaan dit maar vrot – die mense het geen idee waroor die Referendum verkiesing gaan nie en hoe hard ek probeer om die kloutjie by die oor te kry –dit bly maar ‘n duistere besigheid Dit gaan oor die “Fiscal Treaty” , die een klomp Sinn Fein beveel aan dat wat die regering beweer verkeerd is en dat daar- al sou ons ‘nee ‘ stem wel geld beskikbaar sou van die IMF wees vir latere ‘uithelp’ as die land dit nodig het terwyl die regering sê dat as ons ‘Nee’ stem ons defenetief onderdeur sal wees en dat daar geen verdere fondse beskikbaar sal wees nie. Intussen gaan die debakel van water meters en die ellende van wie moet betaal en wie nie nog steeds aan! As Pennel tenks nou slim is dan bring hy gou ‘n paar duisend tenke Ierland in sodat mens die weghardlopende reenwater kan opvang en ons nie in die land waar water oorvloedig is, deur ons nekke vir water hoef te betaal nie!
Ons self het ‘n “well” in die voortuin wat toegemaak is met teer maar wat wel oopgemaak kan word en benut kan word met ‘n pomp daarop maar dit kos ook geld- die swem dam wat ons vir die ganse gekoop het gee ons genoeg water vir die tuin dus sal dit net huisgebruik wees wat ons sal kos. Eienaardige land die – om stemme te werf jare terug het hulle die gewone huisbelasting en water betalings gestaak en nou moet ons dubbel daarvoor betaal!
Nou ja more is ‘n baie spesiale dag in ons kerk kalensdr want dit is ons Psalme en Gesange diens wat hoofsaaklik hierdie jaar deur die Maynooth sang en musiek groep aangebied gaan word. Na die diens word tee en koek voorgesit – almal wat kan moet assebelif ‘n porging aanwend om te kom.
Die diens is om 3nm in Corboy Presbyterian Church net ‘n afdraai vanaf die N4 Edgeworthstown Longford pad.
Nou ja ek het genoeg kwyt geraak. Baie dankie aan almal wat so gereeld van hulle laat hoor- elke stukkie nuus word met groot entosiasme deur gelees!
Onthou dat veiligheid jul eerste prioroteit moet wees.
Aan die wat die pad moet gebruik –ry versigtig!
Liefde groete
Van ‘n plekkie in Ierland waar die son vandag heerlik skyn!
Barry & Christina ( Ouma) vir baie!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment