Sunday, September 23, 2012

Groete vanuit 'n herfsaand in Cranleymore

Saterdag 22 September 12 Goeie dag aan allemaal, familie en vriende! Ons is sopas terug van ons besoek aan Dublin! Pragtige dag wat met 4° wat tot 13 gestyg het soos die dag gevorder het. Daar was pragtige sonskyn en GEEN WIND NIE! Tenspyte van die lae temperatuur was dit nie koud nie want dit is meestal die wind wat ons laat bibber. In die laaste 4 weke het ons 48mm reen gehad wat baie gunstig was, geen droogte nie en net bietjie meer son as reen! Ons het ons belofte nagekom en al ons moed bymekaar geskraap en net na 11.30vanoggend die pad Dublin toe gevat. Ek probeer die pad memoriseer sodat ek nie op die kaart hoef te kyk nie –ons het nie ‘n Santjie’ wat die pad aangee nie-ons is nog ouderwets en het baie kaart boeke in die kar. Verstaan nie hoekom ek nie die ryery en strate in die plek onder die knie kan kry nie. Die kinders woon lekker maar nou het die huis te klein geword en en hulle trek een of ander tyd na ‘n 4 slaapkamer huis met groter gronde en met meer ruimte, gelukkig is die huis presies 100 meter verder in dieselfde paadjie en dit sal darem nie te erg wees nie- dit is nou die getrekkery. Ons was bederf met ‘n smaaklike middagmaal en heerlike koek as nagereg. Die idee was om 3 verjaardae in een te vier. Myne Finbarr en Barry en dit het goed gewerk, Lukas het die kersies op die koek dood geblaas en ‘Happy birthday ‘ gesing! Hy praat vol sinne met ‘n Dublin aksent en jy moet mooi luister om by te hou! Finbarr werk baie hard maar dit blyk asof dit vir die eerste keer werklik goed gaan, Amanda was genader om uittehelp by ‘n maatskappy as persoonlike assistent vir die baas oorspronklik net vir 2 mnde maar nou het hulle gevra of sy langer kan werk-sy het ‘n wonderlike vermoë om orde in chaos te skep en dan hou sy hulle met ‘n ysterhand in beheer!. Lukas is terug by sy dag moeder van vroeër en haar dogters wat ‘n Montosori sentrum oopgemaak het is ook daar gevestig. Lukas mag nog nie deel van die skool wees nie maar hy wandel in en uit soos dit hom behaag en smiddae mag hy die klok lui vir middagete dan roep hy luidkeels: Children Lunchtime! Sy hare is pragtig gesny en hy lyk te oulik! Ek het lanklaas geskryf want ek het sewe nagte gewerk met een nag tussenin af, en dit was 7 nagte van enorme stres. Elke nag was ‘n uitdaging wat nie net jou kennis beproef nie maar ook jou uithou vermoeë tot die uiterste. Verlede Sondag was ‘n lang dag en kort dag –Joy wat die orrel sou speel moes skielik werk en ek moes inspring. Dit beteken dat ek soos blits verslag oorgee –ry net onder die spoedgrens huis toe-gelukkig is daar min verkeer op ‘n Sondag oggend .tuis verklee ek gou, so effe en dan is ek weer met Barry terug in die kar op pad kerk toe. Na kerk terug huistoe en direk bed toe , slaap ‘n ½ uur langer en teen 7uur is ek weer op pad werk toe. Hier gaan dit goed met almal, kat, jakkalsies voeltjies en die tortelduifies. Die krimpvarkie het seker gaan rus vir die winter want ons sien geen spoor van hom nie. Gisteraand sit die een jakkalsie toe so ewe en wag vir sy kos te kostelik en te pragtig! Ons dink daar is 4 van hulle ouers en 2 kinders. Die tuin hou nog wonderbaarlik goed. Die pronkertjies bly steeds blom en die kappertjies lyk wonderlik! Barry het die bolle geplant vir die lente kleure dos- tulpe en affodille! Ons druiwe trossies kon nie regtig ryp word nie want die son was effe afwesig ,en die 2 tamatie plante met 100de tamaties aan moet nou maar in die kombuis ryp word! Dit word te koud snags en gou geneog sal daar ryp wees. Die gras groei nog steeds en ons sal seker nog so 3-4x moet sny –noudat die dae korter is en nie meer so baie son nie groei dit nie meer so vreeslik vinnig nie. Op die politieke front is daar onmin tussen ministers wat saam moet werk in dieselfde ministeries van verskille lede van die koalisie en elke nou en dan is daar ‘n ontploffing .die Min vir Gsondheid het die ‘vote of confidence’ gewen en nou ploeter hy maar aan,mens hoop byna hy beland in dryfsand en verdwyn stil-stil. Die 1ste Min het vandag die Pous ontmoet en sy hand geskud.....almal wonder wat gesé was want Ende Kenny het vroeër in die jaar kwaai uitspraak gelewer teenoor die lakse gedrag van die Pontif en sy klomp teenoor die kinder misbruik wat deur die priesters wéreld wyd plaasgevind het. Die hele wéreld is op die punt van oorlog, die ellendes in die middel-ooste is bekommerenswaardig, waar gaan dit eindig? Al die briefies wat inkom is so welkom en ek lees baie lekker aan al die verhale en dinge. Wat het van Arnolda geword of moet ek nie vra nie- ek vertel aan Barry al die stories en hy vra gereeld wat hoor ek van Kanada en dan moet ek sé dis net my vriendin wat ook daar woon wat gereeld laat weet wat aangaan, maar van die familie hoor ek niks. Môre is ‘n groot en belangrike dag in die kalender van die kerk. Dit is die oes dank diens en weereens hanteer ek al die orrel werk en moes hierdie keer ook al die Psalme en gesange kies. Die fees daarna is gewoonlik van die beste en ons hoop so dat ons eie predikant as gas daar sal wees ons mis hom geweldig! Verjaardae: Adelbert het die 20 ste verjaar en ons hoop dat dit ‘n goeie dag vir hom was. Ons onthou my broer Paul vandag, dit sou sy verjaardag gewees het. Op 24ste verjaar jonge Cobus van Marle en dan die 26ste Cilna in Memel en natuurlik Barry. Veels geluk aan julle almal! Dit word nou gou donker en Barry het die kos vir die jakkalsies sopas uitgegooi. Ek het ook aan die einde van my skryf gekom en sé maar soos gewoonlik, wees tog asb vesigtig, buite, binne en op die pad , ons dink veral aan die wat op plase woon! Die winter kom nou vinnig nader en ek groet vanuit ‘n regte herfs dag en aand in Cranleymore! Barry en Christina

No comments: