Saturday, March 1, 2014

Koue lente groete vanuit Cranleymore

1 Maart 2014 Goeie dag allemaal, familie en vriende, Die son skyn ,so effe skamerig, die wind waai van die noorde en maak dit koud,temperature tussen 8-9℃. Dit is vandag amptelik Lente ,effe koue lente en baie nat, soveel van reen kan jy jou nie indink nie 120mm in 18 dae die reen meter het oorgeloop! Die lande staan onder water en die boere kry swaar! Die afgelope 2 weke het by my verby gevlieg. Verlede week het ek 3 nagte in die saal gewerk en was baie besig –het gemiddeld 9.5 km per nag geloop! Maandag het ek as helper begin in die akkreditasie en kwaliteit versekering afdeling net om Dinsdag oggend ingeroep te word- eers dag ek o wêreld hulle het besluit dat hulle my nie nodig het nie en ek moet maar terug gaan huis toe.Tot my groot verbasing is ek die pos van Projek Bestuurder vir Akkreditasie aangebied. Ek was bietjie oorstelp en wou eers van Barry hoor of hy genoeё sal neem met die feit dat ek 5 dae ‘n week gaan werk vir die volgende 7 maande! Ek het gevra of hulle my ure so uitwerk dat ek ‘n halfdag op Woensdag kan werk wat my darem kans gee om bietjie inkopies te doen want met my by die werk het Barry geen transport nie en Woensdag was altyd die dag vir die lokale koerant , aanvul van brood en melk . Barry gelukkig en ek aanvaar die pos. ‘n Magtige taak want alles het vir die laaste 2 jaar in ‘n diep gat geval met die man wat die hospitaal gekoop het en dit toe in die grond in vertrap het en hulle deur die bank op ‘n manier gered is , in my afwesigheid as afgetrede verpleegster! Die nuwe bestuurder is ‘n prokureur van beroep en het ‘n ander hospitaal wat ook op bankrotskap gestaan het so paar jaar gelede uit die doldrums gered! Hy is deur die bank aangestel met ‘n geokktroeerde finansieele bestuurder. Om die hospitaal oop te hou moet ons geakkrediteerd wees en die het verval onder die ander man se doen en late! Vandaar die byna naarstiglike gryp na halms om die proses weer ingestel en aan die gang te kry. Dus werk ek nou 4 dae 9-5 en Woensdae 9-12.30. Dit is vir my‘n ontsettende uitdaging en ek studeer elke moment wat ek vry het ,het te veel mense belowe ek skryf die week ‘n brief, dus beskou julleself as baie bevoorregt as ek hier klaar is is dit studie tyd!! Met die dat ek nou nie meer los hotnot is nie en kon doen wat ek wou wanneer ek wou is daar skielik militere strengheid in my roetine! Opstaan en bedtoe tye vasgestel deur Barry en jy doen soos hy sê anders is daar moeilikheid! Ek val gedweё in want dit is vir my in ieder geval die beste. Huis skoonmaak ,wasgoed was val alles nou op ‘n Saterdag en mensig was ek besig vanmǒre( kappie op sy kop) en tussendeur het ek nog Barry se hare ook gesny! Die nuus gaan by my verby soos die wolke in die wind- ek hoor so nou en dan van moorde, hofsake en natuurlik die geveg in die parliament oor die Garda ‘whistle blower’ wat die hele wereld gekielie het en almal in die Dial(doll uitgespreek) op hulle agterpote het! Sowat van korrupsie is ongelooflik- jammer omte dit sê maar ek staan verbysterd oor wat mense mee weg kom! Dit is maar dieselfde in elke land net erger in sommige lande! Ons tuin is besig om stadig maar seker wakker te word- die blaartjies is uit aan al die struike –die meerjarige plante het natuurlik groen gebly en kry nou net nuwe stingels en blare by! Die tulpe het snaaks genoeg voor die affodille oopgegaan maar oral is ‘n helder blerts van kleure en dit stem die gemoed absoluut uitstekend! Die katte is pragtig vet met dubbele wange want hulle eet mos aartappels saam met hulle ontbyt en saans kry hulle bietjie sous kos saam met die Whiskas- Daar moes ‘n hewige geveg die vorige nag plaas gevind het want orals is net wit wolle! Hulle is nou te groot om saam in die mandjie te pas en het hulle self tuisgemaak in die donkiehuis ! Ons grassnyer is my die garasie waar ‘m werktuigkundige na die aansitter sal kyk- die het sommer met die eerste probeerslag om die gras te sny uit sy kassie geklim en nou is dit in die hande van TYD! Ons bring ons hartlike geluk wensinge aan die bruid en bruidegom in Standerton wat vandag in die huwelik tree en Hoop en bid dat hulle mekaar sal lief he vir ‘n ewigheid! Marthie en Chris veels geluk met jul dogter se troue en die aanwins van nog ‘n seun! Ons dink en bid ook vir almal wat siek is, wat nie lekker voel nie wat deur swaar tye gaan finansieel , geestelik , en moedeloos is! Onthou! Ons hulp kom van die Here! Ooo dit is lekker om die briefies te lees- ek geniet dit tog so baie en moet natuurlik alles ook aan Barry oorvertel! Baie dankie! Die gereelde briefies en dan die wat so nou dan hul opwagting maak! Joy is so getrou! Baie dankie Joy! Die wonderlike werk wat Dr Tertius Venter in sy Christen werk doen as plastiese sjirurg! Enig iemand wat sy nuusbrief graag wil lees en besigtig laat my weet en ek stuur dit aan! Die klein kinders word so gou groot en is pragtig! Verjaardae! Die wat verby is en ek nie geluk gewens het nie Laurel en Angie! Daar is niemand in my boekie vir die volgende week nie! Sou daar tog iemand wees wat wel jarig word! Veels Geluk! My knie hou wonderbaarlik goed met die 3 stelle trappe wat ek daagliks meer as 10x ‘n dag klim! Baie trost op my knie! Dit bring my aan die einde van baie onbeduidedende briefie! Onthou jul eie veiligheid, tuis , by die werk , op die paaie !!! Ek groet vanuit ‘n koue lente dag in Cranleymore! Barry & Christina

No comments: