Saturday, March 15, 2014

Opgewonde groete vanuit Cranleymore

Saterdag 15 Maart’14 Goeie dag allemaal, familie en vriende, Dit is ‘n lieflike dag, trietserig begin maar sedert 1nm het dinge begin verbeter. Die son skyn, hier en daar ‘n wolk , die wind waai maar nie te erg nie, en orals staan bome vol bloeisels. So ‘n dag word as baie besonders beskou want die hele week het hulle son skyn voorspel met redelike hoё temperature maar dit moes elders gewees het want 2 dae het die mis nooit gelig nie wat nog van die son skyn, die ander twee dae net die mis so teen 2nm begin lig en baie pieperige sonnetjie moes worstel om sy strale tot hier in Longford te laat strek! Gister middag laat het die son begin skyn gepaard met mis reen. Dit veroorsaak dat, sodra jy naby ‘n groot vragmotor kom kry jy sy sprei en moet jy gedurig die venster was en skoon hou, ry ‘n entjie verder weg van die ding kom al wat leef by jou verby gejaag teen aankomende verkeer want hulle is kwansuis haastig en kan nie agter jou aankruie nie maar elke keer hou jy jou asem op en wag vir die slag! Jy kry net nie gewen nie! Ek is nou gewoond aan vroeg opstaan en soos klok slag trek ek 5 minute na 8 elke more by die hek uit! As ek nie daarby hou nietref ek 3 minute later die bus op pad en al die groot aflewering vragmotors wat ekstra groot is. En tussenin die boer wat voer aanry vir sy beeste. Ek werk lekker maar dit is werklik ‘n baie uitdagende affêre waarin ek my nou bevind. Ek is soos ‘n slawe drywer en hou die hele personeel soos ‘n valk dop en as hulle een moment bietjie terug leun is ek daar om hulle weer regop die weg aan te wys! Op die manier het ons, ons eerste stap in die akkreditasie met vliende vaaldels geslaag deur 2 +1/4 uur voor afsluiting klaar te wees en Engeland was in kennis gestel. Geluk wensinge het oor die see aangestroom- glo die eerste keer sedert akkreditasie begin het in 2008. Die volgende stap is net so veeleisend maar ek dink hulle is nou in hul oppassens vir my en sorg dat alles heeltyd op datum is! Arme goed!Hulle moet Maandag 12 uur rapporteer wat hulle vir die week gaan doen en Vrydag om 12 uur moet hulle kom wys en verslag doen of al hulle pogongs suksesvol was – Ek het tot die groot baas rondom die tafel! Dit is mooi daar buite, sodat dit byna ‘n sonde is dat ek hier binne sit en skryf! Die tulpe en affodille gee so ‘n mooi vertoning ,die helder geel van die affodille afgewissel met alle kleure onder die son van die tulpe. Die katte is pragtig! ek is mal oor hulle! Dinsdag merk ek vroeg mǒre dat Patches weg is, nerens te siene nie- Werk toe met ‘n swaar hart. Later begin Barry die pad op en af loop , kyk in elke bos en roep sover as wat hy loop maar vind geen dooie kat nie! So elke uur het hy maar geduldig geroep maar dit was eers teen 20 voor 6 die aand wat hy sy opwagting gemaak het ,gesond en wel! Die blokskottel moes seker gaan kuier het en is toe toegemaak in ‘n skuur of plek en kon natuurlik nie uitkom nie- hy was so honger en het sommer al die kos ge-eet terwyl Spottie tjankende toegekyk het, Lg het heel dag getjank omdat sy boetie nie daar was nie! Barry het maar baie sy kop gekrap net om stilte om hom te hê as hy buite toe gaan! Nou ja die vermisde vliegtuig is nou regtig ‘n groot probleem –wat vir ons snaaks is , is dat hulle ‘n walvis dwars oor al die oseane kan volg met die sateliete maar nie ‘n vliegtuig nie- ongelooflik! Barry en ek vermoed dat hulle om een of ander rede almal aan die slaap geraak het en omdat die vliegtuig op auto was nadat hulle besef het iets is fout en terug gedraai het, het die vliegtuig maar aangehou vlieg –vir die volgende 7 ure totdat daar nie meer brandstof oor was nie! Hier is dit lang naweek want dit is Maandag St Patrick’s dag en alles kom tot stilstand as dit die land se nasionale dag is. Ons eerste minister besoek Obama en het reeds die Shamrock oorhandig en nou is dit al die parades wat gaan plaas vind. Jy woon so-iets 1x in jou lewe by en dit is ook dan die laaste keer! Vir die ouers met klein kindertjies is dit effe anders maar vir ons bejaarde inwoners is dit veel makliker om uit die gedrang te bly en rustig tuis te bly! Ons gaan Maandag dus hopelik die gras sny en ek sal al my saadtjies vir laat somerplante saai en die groente tuin begin reg kry! My groot orgidee se blomme sal seker ook Maandag oop wees en daar is omtrent 10 blomme aan elke stingel – ek kan nie wag nie! 2 van die geredde orgideё wat Marthie my virendin vir my gegee het het vrot geword maar ek het 4 wat ook blommetjies gaan kry! Op die politieke front gaan die geveg tussen die Minister van Justisie , die Garda Obudsman, die hoof van die Polisie en die 2 ‘Whistle blowers’ nog steeds aan. Een van die vroue wat geveg het teen die onreg wat deur die nonne en sekere land owerhede en instansies vroeёr jare aangerig het, teen ongehude moeders en weggooi kinders, waar hulle eintlik moes versorg geword, maar instede hulle tot in die hel mishandel is, is vroeёr in die week oorlede! Sy het regtig baanbrekers werk verrig deur aantehou – en uiteindelik het sy erkenning gekry! Geld is altyd ‘n groot onderwerp nie net hier nie maar orals. Die ellende in Rusland gaan ons laat swaar kry , so ver het die brandstof pryse nog nie begin styg nie maar wat weet ons wat môre sal bring. Die spul manne in die een bank wat verantwoordelik was vir die ontrafeling van ons finansies in 2008 plaas nou al die skuld op iemand anders maar hulle is soos gewoonlik nie skuldig nie! Verlede Sondag aand het Broer Mendel met ons Geskype en dit was wonderlik asof ek aan hom kon raak –so werklik was ons gesprek! Môre is die beste dag van my week en ek sit dan ook in die bank t terwyl Joy die orgel speel – sy doen dit soms net bietjie langsaam – en ons moet goeie lang asems hê om sommige van die Psalme gesing te kry- ek het vir Stephen die predikant gese hy moet luister na my inleiding en dan die tempo vandaar neem en nie stadiger en stadiger sing nie. Verlede Sondag het William ons besoek en hy is deel van ‘n wêreld wye Christen uitsaai diens FEBA- dit was baie interesant- maklikste opvangbaar in vér afgeleë lande op kortgolf! Georg jy mag dit dalk die maklikste kan opvang! Verjaardae! Georg die 18de, Arnolda (op besoek in SA) die 19de ! mag dit ‘n heugelike gebeurtenis wees met baie liefde en familie om jou Arnolda klein kinders en! Georg ons sal weet dat al die mooi vroue in jou omgewing jou sal verwen! Ek het geen ander name nie! Ons dink en bid baie spesiaal vir almal wat nie wel is nie , vir die wat in die knyp sit , die wat moedeloos is, vir die wat alleen is en moedig elke dag aanvaar met ‘n glimlag! Ook baie spesiaal aan die wat geliefdes verloor het. Ek wou nog noem dat die grys ring- duifies vanmôre op die muurtjie voor die kombuis venster kom hawermout eet het! Dit was so pragtig en natuurlik wag ons nou op tyding dat die swaeltjies begin reg maak vir hul lang tog na Cranleymore! Ons het gewoonlik 3 pare wat hier broei! Ons Skype gereeld met die klein kinders en hulle is pragtig soos altyd! Ek groet Fluit fluit my storie is uit! Wees altyd versigtig, tuis, by die werk en op die paaie! Opwindende groete uit Cranleymore Barry & Christina

No comments: