1 September 2008
Vroeg Maandag oggend.
…en dit is werklik vroeg, net so na 1vm na ‘n pragtige dag van sonskyn en blou lug waarvan ek die grootste gedeelte in die bed deurgebring het. Nie omdat ek siek was nie maar net omdat ek omgekeerd lewe.
Dit was Sondag en ons eie predikant is terug en dit was goed… baie goed om weer sy eksegese te beleef. Ons het heerlik gesing en ek het goed gehou na ‘n nag se werk en is om 11.30vm bed toe. Toe ek my oë oop maak sien ek net die helder sonskyn buite …..
Ek het so baie geskryf oor die reen dat ek graag wil spog met die goeie dae ook!
Herfs is op pad , die blare begin val en die dae is aansienlik korter en omte dink die swembaddens open vandag in SA!!!! En dit is Lente dag oral in Afrika!!!
Het oor die nuus gehoor van die sterk winde in die Kaap en op die komper berigte gelees. So kry ons almal ons beurt!
As ek net die laedrukstelsels wat vanaf die Atlantiese oseaan aan gedryf kom kon keer sal dit hier baie beter gaan maar ongelukkig het ek nou geen beheer daaroor nie en ook maar dankbaar dat dit nie my verantwoordelikheid is nie!
My wortelkanaal behandeling het baie goed afgeloop enigste probleem is die tand is nou uitgehol tot op breek punt en moet gekroon word wat 'n huis se geld kos, baie mense gaan Belfasttoe vir sulke tandheelkundige werk, en ek sal dit ook miskien moet oorweeg.
Werk gaan sy gang, dit is rustig vannag ..stilte voor die storm later vandag…het ‘n paar seniele ou dames en ook ‘n non wat baie siek is.
Ons is per pamphlet in kennis gestel 2 aande terug dat ons nie die water moet drink nie maar alles eers kook. Ons het nog nooit sedert ons die landgoed gekoop het die water gedrink nie want dit is ‘n onaangename kleur en soms huisves dit ook diertjies. Lidl maak goeie geld uit ons want ons koop water…ek kan nie begryp hoe ‘n land met die geweldige kennis in die wetenskappe nie water suiwerings werke het nie…die water word uit die riviere en mere gepomp na ‘n reservoir en gaan miskien as jy naby ‘n stad woon deur ‘n sif of iets wat lewende organismes terughou maar andersins kom dit net so by die kraan uit en met al die geweldige reen (die natste Augustus sedert 1880) het al die water van die lande , wat na die sny en baling van hooi ‘slurry’ sprei gekry het instede van kunsmis, die riviere en mere ingeloop en besmet met E Coli en nog wat , hulle se nie juis watter organismes daar in die water gevind is nie , maar liefs nie vir menslike gebruik aan tebevele nie.
Ons het die afgelope weke ‘n paar goeie programme op TV gevolg, ek dra die man wat ‘The Genius of Darwin’ aangebied het elke dag aan die Here op want die arme siel het die klits totaal kwyt. Met elke onderhoud wat hy voer word sy wange rooier, ek wonder of hy verstaan hoe dit werk, maar hy staan vas dat daar geen God is nie. Die ergste van alles is dat nie een van die ‘kerk’ mense met wie hy argumenteer hom ‘n antwoord kan gee wat hom vir ewig sal stil maak nie. Niemand het die moed om hom stil te maak en te se dat hy die ding aan die stert beet het nie..en dat daar ‘n geweldige verrassing op hom wag nie.
Die program oor die Britse Eilande se kuslyn is besonder goed en die natuurskoon wonderlik. Ons het nou self so ‘n bietjie van die natuurskoon geniet met ons togte na die noorde van die eiland maar hoop om op ‘n latere geleentheid die hele Noord Ierland se kus lyn aftery.
Die swaeltjies maak gereed om te vertrek en julle sal eersdaags die voeltjies by julle aan land he…ons het ‘n pragtige voeltjie opgemerk wat van Skandinawiee/Noorwee besoek by ons kom afle het lig beige met wit spikkeltjies lang beentjies en ‘n langerige krom bekkie, familie van die ‘thrush’. Die ander voeltjies begin nou weer vergader in die agtertuin na die kleinspan uit die huis geskop is.. ons het ‘n gesinnetjie van 8 ‘lady wagtails’(kwikstertjies?) wat elke oggend vroeg al die wurmpies op die gras verorber..Die’Robin’ kinderstjies se borsies het voor ons oe rooier en rooier geword. Hulle is baie parmantig as die kat nie te siene is nie..en hul waarsku gou as hy na buite drentel. Skree en gaan te kere vir ‘n vale.
Ek loop elke dag deur die tuin en pluk arbeie en framboos en verorber dit so in die loop.
Nou ja dit is die einde van die nuus en ek wil net vir my dogtertjie Leane (van Gerhardus en Belinda )in Roodepoort veels geluk wens met haar 3de verjaardag more 2 September!!!!!
Ek hoop dat die Krugers wat hul tans in SA bevind, hul huis in goeie orde sal ontvang en dat hul die genot daarvan sal ervaar in die jare wat voorle.
Aan kinders wat moet studeer vir matriek eksamens, en ouer garde vir grade ens, alles van die beste!
Wees altyd versigtig…
Groete van uit Ierland
Barry & Christina(Stien..ens)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment